Just a few words, trying my hand at poetry. Please feel free to comment, I would like to know what the readers think.... Use Google Translate if you do not understand Afrikaans, it gives quite an useful translation, although the poetry will probably lose it's impact. If you use Google Chrome as web browser, you have an automatic "translate" option. Toe, sê iets! LEWER KOMMENTAAR! Dis annoniem en jy WEET jy WIL!
Labels
- My mymerings (48)
- Rympies / amper-gedigte (38)
- Duwweltjies (27)
- Dieper Rympies (23)
- Braaksel van 'n brandsiek brak (14)
- Natuurgedigte (14)
- Dorings (12)
- English Poetry (11)
- Kommentaar op kommentaar (7)
- Pretensieuse Rympies (7)
- Windpomp rympies (6)
- Riempies (3)
- Tanka's (2)
- Natuurfoto's as inspirasie. (1)
Showing posts with label Rympies / amper-gedigte. Show all posts
Showing posts with label Rympies / amper-gedigte. Show all posts
Monday, 17 June 2013
Terugtog
Ek vat die pad na reeds gesien,
so bietjie links van klaar gedoen,
die draaie hier is reeds gery,
ek het al hierso seergekry.
Die ryvlak stop,
nou moet ek stap.
Ek stap en stap so om die kop,
ek loop en klim,
ek skuifel aan,
die paadjie kronkel na die maan.
Die son, die maan, die sterre,
alles saam maak my verstaan.
Ons is hier deur,
ons kan nie staan,
die lewe gaan net aan en aan.
Soms stop ons bietjie om te rus,
maar in die tydjie wat ons rus,
kom al die spoke aangestap,
hul maak hul tuis op ons se pad.
Hul trek ons aandag af,
hul maak ons dwaal,
hul laat ons vir ons rus betaal.
Die nostalgie is soms ook reg,
maar laat ons afdwaal op die weg.
Die water onder deur die brug,
die is verby, dit kom nie t'rug.
So opstaan maat
en rek jou treë,
in hierdie wêreld is
ons almal soms vermis.
Die luiaard en die denker,
melanchool en drinker,
almal wat 'n bietjie rus,
almal wat 'n bietjie wonder,
ja almal wat 'n afdraai vat,
word uitgeskuif en afgeskryf
en ongeërg net daar gelaat.
Wednesday, 15 May 2013
Vol-wasse? (Lewens-kommentaar in 'n amper-gedig)
Ek wonder soms:
of almal met die intrap
in die grootmens-wêreld
so gebrand/geskok word
dat hul die vreugde van kindwees
skoon verloor..
Die melancholie neem oor
waar die sorgelose lag was,
die hartseer waar die glimlag was,
die norsheid lê nou daar,
waar die speelsheid eens so vlak geleë was.
Ek weet by diere's dit 'n normale proses,
die speel raak weg,
die erns neem oor:
Hormone laat hulle baklei om te paar,
kompeteer net mekaar,
areas afbaken vir kos,
vir rondloop,
vir maatsoek..
Die trop raak belangrik,
die maats raak net nog
vreters en opponente.
Is dit noodsaaklik dat ons
as mense ook so word?
Die "suksesvolles" doen dit
met oorgawe..
Ja, maar sien jy geluk in hul oë?
'n sprankie genot,
selfs deur al die prestasies en geld?
Gedoem tot geweld,
tot trap en klim;
as jy bo is, is jy oud,
nie juis noodwendig slim nie,
nie noodwendig wys nie,
net oud,
alleen,
eensaam,
op-baklei..
Vir WAT?
Monday, 13 May 2013
Sleutel vir die slot.
Woorde in die wind geuiter
jou binnekamer bly gesluit.
Sleutels in vergete laaie
ontsluit per ongeluk geluk
soos nommers van 'n kodeslot.
Simson en Delilla
Simson was 'n rigter,
Delilla was 'n digter
(es)
Sy was bietjie kort aan inspirasie,
toe kry sy vir ou Simson op 'n stasie.
Vleg sy hare in 'n spinwiel,
roep die Filisynse milisie:
wat 'n goeie fight was dit nie!
Die inspirasie moes gedaal het
saam met die korasie,
want kort voor lank was sy al weer
op 'n ander missie..
Hierdie keer moes Sim sy hare skeer,
die arme ou het net sy asem t'ruggekry,
toe's dit al weer 'n keer die Filistyne!
Of Delilla haar verraad geniet het,
sal ek nie kan sê nie,
maar ek het 'n sterk vermoede,
al is dit nie so feit'lik nie:
Sy mis vir Simson en sy roede..
Monday, 29 April 2013
Mona Lisa
Ek wou nie maar ek moes..
vir jou 'n ietsie skryf.
Herinnerings word lank bewaar
in die senus van my lyf..
Ek voel 'n kriewel in my kop se kant,
Jou glimlag hou aan spook by my
:)
emoticon wat stilweg Mona Lisa
op die epos in my hand..
Thursday, 28 February 2013
Wie kom met die sekelmaan?
'n Sekel uit die bronstydperk
sweef glansend oor die oosterkim.
Oestyd vir die laaste van die oorryp-wintergraan?
Of dalk die sens van vader tyd?
Die swartgeklede een,
sy mantel verberg die doods-skedelbeen...
Die sekelmaan verhelder silhoëtte van
olienhoutboom en besembos
in rantjies van die valskaroo,
Twedehandse lig weerkaats,
(soos die wat rokende binnevet-lampe los),
op slym en modderwater,
in die kuile van die vlei
en die laaste bietjie vog
in die vlakte van die modderdam,
waar vir oulaas vanmiddag
die flamink-swerm,
hul tasse gepak het
en weswaarts vertrek het..
Geen windjie,
om die koelte van die nanag
oor die vlaktes te versprei,
so:
mense lê in slapelose poele sweet,
selfs die behoefte aan seks vergeet..
hitte van kontak ondraaglik,
al's ekstase daarin weggesteek..
Oestyd vir die laaste van die oorryp-wintergraan?
Of dalk die sens van vader tyd?
Die swartgeklede een,
sy mantel verberg die doods-skedelbeen...
Die sekelmaan verhelder silhoëtte van
olienhoutboom en besembos
in rantjies van die valskaroo,
Twedehandse lig weerkaats,
(soos die wat rokende binnevet-lampe los),
op slym en modderwater,
in die kuile van die vlei
en die laaste bietjie vog
in die vlakte van die modderdam,
waar vir oulaas vanmiddag
die flamink-swerm,
hul tasse gepak het
en weswaarts vertrek het..
Geen windjie,
om die koelte van die nanag
oor die vlaktes te versprei,
so:
mense lê in slapelose poele sweet,
selfs die behoefte aan seks vergeet..
hitte van kontak ondraaglik,
al's ekstase daarin weggesteek..
ADD
Ek wonder wat ek sou kon doen,
as ek my net met die stilte kon versoen,
wat ek alles sou vermag
as ek heel my krag, al my mag,
kon fokus op 'n enkle ding..
een ding op 'n slag,
nie tien goed tergelykertyd
en dan dalk nog 'n ding
wat toevallig my by verby mag kom...
Toe ek op my studies moes kon konsentreer,
kom trek die meisies mos my aandag af,
op die meisie moes ek toe mos konsentreer,
maar toe vang die wyn my konsentrasie mos so effens vas.
as ek my net met die stilte kon versoen,
wat ek alles sou vermag
as ek heel my krag, al my mag,
kon fokus op 'n enkle ding..
een ding op 'n slag,
nie tien goed tergelykertyd
en dan dalk nog 'n ding
wat toevallig my by verby mag kom...
Toe ek op my studies moes kon konsentreer,
kom trek die meisies mos my aandag af,
op die meisie moes ek toe mos konsentreer,
maar toe vang die wyn my konsentrasie mos so effens vas.
*****
As ek net vir 'n jaar kon leer
om tog net vir 'n enkel keer,
op iets heel SINVOL te kan bly konsentreer...
om tog net vir 'n enkel keer,
op iets heel SINVOL te kan bly konsentreer...
Saturday, 5 January 2013
A streetcar named Desire (and a jockey named Yellow)
Tussen Wimpy en Tekkietown
loop ek in jou vas.
Onverwags!
(maar nie onbeplan nie.)
Om jou nou te soen is onvanpas..
(maar nie onbedagsaam nie)
My stem slaan weg, my mond is droog,
die silwertongduiwel’t gedros.
Ek systap links,
by Tekkietown in,
(dalk gee dit my ‘n oomblik om te besin..)
Toe ek terugkyk is jy weg!
(dis jou reg.)
Dìe Petrus het jou sleg verloën...
(Was hy eerder ‘n Judas, het hy jou darem gesoen!)
Die oomblik is verby,
die vierde dimensie tot niet.
Miskien eendag in ‘n ander heelal,
een met ‘n ander ek,
(een met mannemoed!)
kan ons weer ontmoet?
Monday, 31 December 2012
Toue wat my anker en knope van onthou
Lyne en knope, ankers en sleepstange,
breke en boeie, lere en slange.
Deur die jare loop die ketting van die tyd,
elke skakel, elke las,
elk 'n stukkie ewigheid.
Ons onthou die meeste dinge seker nie,
maar wat saakmaak sal ons wel..
Ons jonkheid, jeug, prestasies, blapse,
alles vorm knope in ons lewenslyn.
Die spasies tussenin vervaag met jare,
al's dit nie so onbelangrik's wat ons dink ..
Soms as ek oor ietsie wonder,
loop ek hierdie pad terug,
ontdek ek weer die ander knope,
kleiner, vaag, maar wel gewis.
Dis die "sommer net" tussen al die knope in die tou
(skynbaar gladde lyn sonder vaste lengte/tyd)
wat die ander, groter knope van onthou die moeite werd maak,
dalk die hele draad nog aanmekaarhou,
selfs geheel die denke moontlik maak..
Tuesday, 4 September 2012
Poel van gevoel
Ek duik diep in die koel donker poel.
Tot onder,
waar die lig verminder tot ek net die amper- lig van bo kan sien,
net die druk om my kan voel.
My asem raak nie op nie,
ek kan vrylik asemhaal,
die stilte en die vrede omring my in die duister.
Die borrels hier en daar is al wat my omgewingsligging kan verraai.
Ek voel bevry, verander, gewigloos, pligloos, verheerlik, verdiep.
My gedagtes grensloos, soekend, vindend, versadig, ontketting.
Weg van die wêreld, beskuldigings, gewetenswroegings, selfkastyding.
Dit is bevryding.
Dit is droom,
net voor vasslaap,
net voor wakkermaak.
Dit is hemels, dit is vryheid,
dit is swem in die ewigheid.
Dit is ek in jou, dit is jy deur my,
dit is ons, dit is werklik meer as werklikheid,
fantasties meer as fantasie.
Dit is lewe in 'n droom.
Thursday, 30 August 2012
Maanskyn en Jasmyn
Sy maak my mal,
maar ek is nie mal oor haar nie.
Miskien as gevolg van haar, maar dis ook nie 'n seker saak nie...
Die volmaan vat my slaap weg,
skyn deur al wat gordyn is,
verlig die stowwerige vlaktes met haar spookagtige tweedehandse lig.
Sy beskou haarself as belangrik, verlig mos die nag,
maar skyn net as die groot gele nie kan nie..
Dis nie eens haar eie lig nie,
net 'n weerkaatsing van ons geel ou sterretjie,
ons geskommelde Son.
Sy beroof die miljoene majestieuse sterre van die melkweg van hul indrukwekkende unieke en oorspronklik-komplekse lig.
Net omdat sy ons naaste buurvrou is.
Nogtans besing die digters haar, asof sy watwonders is.
Waarom is Maan, haar naam, die resiprook van "naam"?
Sy beheer mos die getye,
kap ons jaar in maande op,
merk die maand ook verder af in weke.
Dalk is sy TOG belangrik,
al beroof sy my van slaap..
Miskien moet ek net fokus op haar meer verleidelike streke:
Hoe sy oor die horison loer,
hoe sy saggies in 'n skraler vorm haar neervly,
laatnag op die westerkim se vloer.
La luna, la luna, daars 'n vreemde bekoring in dìe spieël-godin se silwer lig,
maar haar ware aantrekkingskrag lê soos met alle vroue,
nie in die sigbare skoonheid wat onbetwisbaar is,
maar in die onverklaarde effek wat haar nabyheid op ons,
haar betowerde onderdane het.
So miskien, in weerwil van logika,
verklaar Newton se gravitasiewet
die verslawende towerkrag
wat maanskyn en jasmyn,
te midde van insomnia en migraine,
op my het!
Monday, 27 August 2012
Die doel is heilig (of is dit salig) in die middel.
Die vlae staan weer stokstyf,
die wind ruk, ruk so aan jou lyf.
Die rigting is veranderlik,
die sterkte heeltyd wispelturig.
Die krygers van die wilde weer staan nader,
elkeen met sy skyfgeweer.
Die middel moet gevind word,
die voorbereiding klaar,
die projektiele is perfek,
die lading lankal uitgewerk.
In hierdie stryd sal mens en nuutste wapen kombineer
teen wind en weer en elemente van natuur.
Net een sal hier die oordeel vel:
Die teiken van papier.
Net een sal wen,
net die beste sal kan seëvier.
Selfs dan sal hy (of sy) nooit die volmaakte telling kry,
die een ding wat ons almal steeds begeer:
Volkome selfbeheer!
Verhouding: Koppeling
Wat is die ideale verhouding?
50:50; 40:60; 90:10; niks:alles;
of nog iets anders?
Hoekom noem ons dit verhoudings?
Moes dit nie eerder koppelings gewees het nie?
Raakpunte, gesamentlikhede, genietinge.
Nou word dit verwagtinge, verpligtinge, vernietiginge.
Wat maak die verskille saak?
Hoekom wil die een die ander verander?
Dis tog juis die verkille wat die koppeling moontlik maak.
Die passie, die pakket van verrassing.
Die eerlike heerlike genieting:
Geselskap, gedagtes, gesprekke,
word getransformeer tot gevegte, gevloek en geweld.
Waarom wil die geesgenoot hom/haar as die oorheerser laat geld?
Die gawe gewer in die neurotiese nemer ontaard?
Dalk moet verhoudings 'n vervaldatum hê,
'n gedrukte instruksie om die die strydbyl neer te lê,
die verhouding te verbreek,
ander verbindings weer aan te lê..
Of: die goeie in die bekende te sien,
dit wat ooreenkom te dien,
dit wat verskil nalaat om te sê.
So, vergeet die verhouding, bou die verbinding,
smee 'n koppeling eerder as 'n verpligting.
Sunday, 26 August 2012
Julie-nag
Eenuur!
Die swart swaan gly geluidloos deur die kobaltblou melkweg,
die oppervlak onversteur deur sy koue voete
wat vir 'n vale onder die spieëlbeeld met die water veg.
Daars skaars 'n rimpeling in die poel
waarin ek die bloed van my hande afspoel.
Net die maan teen die westerkim, 'n halwe lemoen,
die versapte kleur gevries teen die berg
deur die vlieswolke se knyptang van tyd
en die onopsigtelike rotasie van ons planeet.
Die stukkende koppe van die bokke in die skerp lig,
as die skoot klap, klaar vergeet.
Sunday, 19 August 2012
Waarheid onder 'n wit kombers
Nege vier en vyftig.
Die wind ruk aan die deur.
Weg is die wit illusie toe ek voor die huis parkeer.
Dit was skaars dertien uur,
net so bietjie meer as 'n halwe dag,
het my stad-sending geduur,
maar van die sprokiesland wat ek verlaat het,
is net die ysige asem van die Suidewind nog hier.
Dit herinner my:
Ons winters is nie wit nie,
ons winters is nie mooi nie.
Ons winters is gewoonlik nie in 'n sneeukombers getooi nie.
Ja, die suid Vrystaat is hard. Die suid Vrystaat is koud.
Die yswind sny in Julie (én Augstus) vlymskerp deur jou boud.
Vir een dag, hoogstens twee, lê die vlakte in 'n wit kombers geklee.
'n wit kombers oor al die droë gras en brandmaer vee.
Ja, die winter is nie mooi nie, maar dit voer mens tog soms mee
na tye sonder yswind,
na dae sonder snee.
Die lewe is nie winter nie,
die lewe is nie lente nie,
die lewe volg sy ritmes en sleep ons daarin mee.
Daars dae waar die son opkom,
die dam en krippe hard verys, die land en diere wit van ryp maar tog nie sonder hoop.
Die wasems wys waar asems is,
die spore in die ryp verraai die plekke waar die ribbok loop.
En soos die waterstofbom-sonneblomligbron se infrarooi bestraling oor die landskap kom,
ontdooi die diere, mense, gras.
Die paar gesmelte druppeltjies weerkaats in reënbooglenteprag:
ons Somer wat net gister was.
Sunday, 29 July 2012
Oranje Silwer Pers
Eenuur!
Met die oopmaakslag
ys my hande aan die grenshek vas.
Die halwe lemoen
(as die maan verbloem)
word deur vlieswolke teen Klipplaatsdam
se bergkruin geslag.
'N bleshoender (of is dit die swart swaan?)
swem onversteurd deur die oranje gloed
van die oolewingstryd wat op die westerkim woed,
met koue voete deur die kobaltblou rimpels van die melkweg
waarin ek my hande skoonwas van die bloed.
Friday, 27 July 2012
Oranje Blanje Blou
Eenuur in die môre:
Met die oopmaakslag ys die grenshek aan my hande vas .
Tydsaam word die halwe lemoen wat hom as die maan voordoen
deur vlieswolke teen Klipplaatsdam se bergkruin geslag.
Kolganse waarsku mekaar op die wal,
'n Bleshoender, onversteurd deur die westerkim se oranje gloed,
swem soos die swart swaan
met koue voete deur die kobaltblou melkweg
waar ek my hande skoonwas van die bloed.
Monday, 9 July 2012
July morning
As die winter-dagbreek stilte kraak
met die steweltrap op ryp en tortelduif rinkink,
verf die son die silwer van die ys
met goue reënbooggrys.
Die veer-kristalpatrone op die harde krippe
word na ure saggies uitgevee.
Dit word amorf en keer t'rug
na die spieëlbeeld van die bospatrys
wat sy oggendkoffie hier kom drink.
Sunday, 8 July 2012
Raka ?
Het Raka tog 'n hart?
Het hy dalk 'n brein?
'N bietjie bewussyn agter die swart gordyn?
Waar het hy geskuil toe die modder en slyk
Verander het in wit?
Die water ge-ys
Die modder versteen
Die slyk verdwyn?
Het hy, toe die maan
Agter die swart gordyn verdwyn,
Gewonder, gesien, gedink
Verwonder deur die lig van miljoene sonne
wat skielik uit die donker hemelruim verskyn?
Belig deur die donker,
Die swart gordyn,
Van die aarde se skadu
Op die doek van die maan.
Die detail van sterre nie meer verdonker
deur die lig van die son
deur die maanspieëldoek weerkaats?
Die ys van die winter,
Die lig van die maan
Die sneeu op die landskap
Die ysige wit weerkaatsing van koue
deur die vlak waters van die melkweg,
waar al die helder sonne se lig,
getemper deur die resiprook van miljoene ligjare kwadraat,
verdof word deur die silwer weerkaatsing in die flaterspieël
van hierdie planeet se satteliet.
Die oorbeligting doof die detail uit.
Soos 'n vlam die wit was van die kers
verander in 'n blink amorfe poel...
Onsigbaar,
om te weet moet jy voel...
Was dit nie vir die stolling van die was
op die vinger van die mens, (of gees)
sou dit 'n raaisel wees.
Wat is waarheid,
wat is waan,
wat is fisies,
wat is gees?
Sou die dier, die Raka,
in ons almal wees?
Dink ons almal ons is beter,
net totdat die swart gordyn,
die dieper son in ons siel ontbloot?
Dan is ons..
Dier?
Die drange al wat is,
wat was, wat nog wil wees..
Vergete al die wonders van die gees,
Die groot ambisie,
al die planne,
al die strewe na die goeie.
Al wat oorbly is die bloed,
die drang,
die drif...
Voor dit nie bevrediging verkry,
sal geen ander denke jou bevry!
So waar is Raka,
waar die dier?
As al die ander na jou tuur?
Wat wil jy hê?
Wat wil jy nie?
Wat's jou begeerte,
Wat is jou skans?
Wat word versteek daar agter daardie masker-muur?
Is dit die waarheid?
'N begeerte?
'N behoefte?
Net 'n dans???
Sê jy dit,
Bedoel jy dat.
Dink jy dat,
as jy dan sê,
wat mense dink gesê moet word,
dit wel jou denke transformeer,
na DIT wat jy na aspireer?
As ander jou beskou
In detail-verdonkerende helder lig
Van sogenaamd beskaafde norme...
Hoe kan hul weet
van al jou diep versteekte drange?
Jou verswygings,
Jou verlange?
Die lis van die gesmag
van dierlike lus.
Wat jy telkens soos 'n Petrus,
oor en oor verloën,
om almal om jou om die bos te lei...
Kry jy dit reg, dink jy?
Hoe ondeursigtig is die sneeu,
die ys..
Tot dit ook smelt en sigbaar laat,
die slyk,
die modder..
Wat hier onder in die helder stroompie lê.
En as die drang bevredig is,
is jy dan weer jou preutse self.
Wat wyd en syd verkondig hoe
die mans se bekke kwyl,
wyl jy,
onaangeraak,
net op jou eie bly
en heel beledig,
(dalk beangs?)
voel as hul na jou passies staar.
Wat is die dans dan,
as dit nie in diepste wese,
wel die diepste wens verwoord?
Op stille ritme is gebore
uit die allerprimitiefste drang
van spoeg en sweet
en soete nektar van die blom,
wat roep na hulp van bye om
tog net so gou as moontlik na die blom te kom,
die daad te doen,
die smag na die vervulling te vervul.
Dan..
ja DAN,
sal alles beter wees...
Dit sal:
Die stille stap,
asook die hoogs pretensieuse,
(of dalk opregte?)
wens na hoër denke weer herstel.
Friday, 29 June 2012
Ana Loog
Na aanleiding van Digi Taal...
Ek word soms deur die draadwerk in my kop
gedwing om sekere dinge te doen,
as ek weier, hou dit nie op.
Ons denke is gebou om taal,
ons dink in woorde, sinne, klanke.
Ons minag soms die woord,
hang die sigbare beelde aan.
Min het die insig om die beelde sonder redenasie van die woord te kan verstaan.
Die beelde vorm die raamwerk,
maar dis die klank wat jou maak dink.
Al ooit gedink hoe sou jy,
met jouself en ander kon baklei,
as daar nie 'n taal vir kommunikasie het bestaan?
Een mens, totaal ontbloot, totaal verstoot,
kan dalk nog sonder taal 'n kluisenaarsbestaan oorleef,
maar hoeveel meer as net 'n dier sal arme Robin Crusouw wees?
Geen kode om homself te leer,
geen woorde om sy ego mee te korrigeer.
Die see, die gras, die sand, die bome,
dit alles net 'n warboel drome.
Niks klanke om die beelde aanmekaar te bind,
niks planne om die kos te vind.
Net eindelose kleure, beelde, vorms.
Lig en donker, groen en blou,
die nag se swart,
die oggend dou.
Niks maak sin,
die brein bly grou.
Ek word soms deur die draadwerk in my kop
gedwing om sekere dinge te doen,
as ek weier, hou dit nie op.
Ons denke is gebou om taal,
ons dink in woorde, sinne, klanke.
Ons minag soms die woord,
hang die sigbare beelde aan.
Min het die insig om die beelde sonder redenasie van die woord te kan verstaan.
Die beelde vorm die raamwerk,
maar dis die klank wat jou maak dink.
Al ooit gedink hoe sou jy,
met jouself en ander kon baklei,
as daar nie 'n taal vir kommunikasie het bestaan?
Een mens, totaal ontbloot, totaal verstoot,
kan dalk nog sonder taal 'n kluisenaarsbestaan oorleef,
maar hoeveel meer as net 'n dier sal arme Robin Crusouw wees?
Geen kode om homself te leer,
geen woorde om sy ego mee te korrigeer.
Die see, die gras, die sand, die bome,
dit alles net 'n warboel drome.
Niks klanke om die beelde aanmekaar te bind,
niks planne om die kos te vind.
Net eindelose kleure, beelde, vorms.
Lig en donker, groen en blou,
die nag se swart,
die oggend dou.
Niks maak sin,
die brein bly grou.
Subscribe to:
Posts (Atom)