Showing posts with label Braaksel van 'n brandsiek brak. Show all posts
Showing posts with label Braaksel van 'n brandsiek brak. Show all posts

Monday, 29 April 2013

Maanligdanser



Ek staan en staar soos 'n gevangene,
peinsend agter glas.
Ek dog ek sien jou staan,
buitekant die skerp lig van beskawing,
jou voete in 'n plas.
Die reën het sopas opgehou,
jy staar terug na my,
in die bleek lig van die maan,
lyk jou oë amper grou..

Nou staan jy nader,
anderkant die glas,
net effens uit my reik.
Ek sien jou ligweg dans
tussen bome op die gras.
Jy't jou lang wit somerrokkie aan,
die een wat jy gedra het, destyds,
toe ons nog saam gedraai het
en gewip het op die varsitydansbaan.

Jy wals nou deur die tuin,
jy sweef moeiteloos oor rose,
oor lelies en jasmyn..
Ek kan jou byna aanraak,
ek kan jou liggaam voel,
ek onthou nou nog jou asem,
teen my nek, so koel,
so amper of die dansspoed
jou nooit kon moeg laat voel.

Ek's seker dit is jy,
dit lyk kompleet soos jy..
Ek moet net bietjie nader staan,
ek weet sodra ek aan jou raak,
sal ek verseker weet,
ek's seker dat dit so sal wees;
ek weet ook dan's ek vry...

Tuesday, 16 April 2013

Lust in thought


I once gave to you my heart.. 
I thought. 
But in the end it was but another part... 
You thought.

You once gave your love to me, 
I thought 
your heart and soul, 
I was sure 
your attention and time, 
I recognised 
but in the end... 
it must have been 
just your body, 
the empty vessel for your soul,

It wasn't your soul, 
for that was already taken, 
broken, abducted, 
by someone just like me... 

Someone thinking that: 
Love could be 
both fanciful and free, 
love could be a thing of beauty, 
a golden chain, unchained, 
a silver locket, unlocked, 
a platinum ring, unbroken, 
a lifelong friendship, uninterrupted. 
How wrong can someone be? 

There we were, 
sitting in a tree. 
Both fanciful and free. 
We thought, 
but did not think... 
That love could be 
something meant 
for the likes of you and me...

Thursday, 28 February 2013

Hotel California : According to me


Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende






Hoe kon ek dink dat ek,
die aardsgebonde gek,
'n kans sou staan om in jou guns te bly,
as ek die hele tyd
na jou moet opkyk,
terwyl jy,
my afgod bly?

Ek hoor die ander roep na jou,
verlate, soekend, tevergeefs...
Dwalend sonder rigting,
hulle't uit jou glas gedrink:
jou soete wyn
was weereens goed verdun met pyn.

Loop hul in die gange van
jou Hotel California,
roepend, soekend na jou area,
jy,
horend doof,
die eggo stil,
hul oë uitgesteek...

Was dit dan nie tog maar hul verdiende loon,
die een van elke spikkelboon?
of het hul net toevallig
in jou glimlag vasgeloop?

Hoekom sou ek dink dat ek,
enigsins iets anders as
net nog 'n interlude was?
Elke gedagte word 'n waagstuk,
elke woord 'n strik.
Die sprong van klip tot klip gevaarlik,
op 'n misstap volg probleme onvermydelik:
Die mooi gepakte klippe is verleidelik..
Pasop!...Die lawa tussenin is dodelik!

My woorde vloei uit my gemoed,
maar dis als verspilde bloed,
ek moet dit alles sensor...
alles vries, verpak,
wegbêre in 'n rak.
Ek is verplig om tot sovêr
my ware denke te weerlê.

En tog...
Ek weet,
ek voel dit aan,
die rede:
ek verstaan.
Die rede wat hier geld vir jou,
geld wel ook nou vir my, vir nou:
die hier en nou van my en jou...
Is..
Die pole van oneindig-sterk magnete,
ons moet altoos baie seker maak
dat ons regte kante na mekaar toe wys:
gelyke pole;
sterk afstotend'krag:
 

Draai ons in perfek-sinchrone wals,
so-nie sal ons 

(met 'n plof!)
mekaar vernietig 

met die by-mekaar-kom-slag..

Saturday, 5 January 2013

A streetcar named Desire (and a jockey named Yellow)


Tussen Wimpy en Tekkietown
loop ek in jou vas.
Onverwags!
    (maar nie onbeplan nie.)
  
Om jou nou te soen is onvanpas..
   (maar nie onbedagsaam nie)
My stem slaan weg, my mond is droog,
die silwertongduiwel’t gedros.

Ek systap links,
by Tekkietown in,
    (dalk gee dit my ‘n oomblik om te besin..)

Toe ek terugkyk is jy weg!
    (dis jou reg.)
Dìe Petrus het jou sleg verloën...
    (Was hy eerder ‘n  Judas, het hy jou darem gesoen!)

Die oomblik is verby,
die vierde dimensie tot niet.
Miskien eendag in ‘n ander heelal,
een met ‘n ander ek,
    (een met mannemoed!)
kan ons weer ontmoet?


Monday, 8 October 2012

Hormonale verbale horibalisasie.


Onthou en vergeet.... 
Weerskante van hallo en kom-en-sweet, 
twee kante van dieselfde munt, 
hormoonbeheerde wil-en-het-jy-geweet. 

HET jy dit dan vergeet, is DÍT die punt?
Is dit al rede vir verlange na daardie tyd 
van amper-grootmens-maar-nog-kind?

Emosionele hoerery... 
is dit al wat ek deesdae kry?

Sou ons nie beter daaraan toe wees met net 'n halwe brein nie? 
'n halwe verstand, 'n halwe begrip, 
sonder dieper denke, sonder 'n gewete... 

Die mense in die strate, 
die alkohol-gepekeldes, gomgeplaktes, prefrontaalgelobotomiseerdes... 
hulle is dalk die gelukkiges. 

Geen wroeging oor wat reg-of-verkeerd-is. 
Al die denke-en-gewete uitgeblus. 
Waarom is daar altyd 'n hunkering in my 
na iets wat meer as net BESTAAN is? 

My totaliteit sukkel om die feite te aanvaar: 
'n mens is net 'n hormoongedrewe vleismasjien. 

Die brein, die lyf, die hart.... 
Alles net eilande drywend in 'n poel van swart.. 
Tyd genees, 
maar tyd vlieg net as jy kan vrolik wees! 
So die ergste tyd is relatiwiteit, 
verhoudingstyd, hersteltyd. 
As die ander een teen ligspoed by jou verbyskiet... 
en jy, 
herstelgebonde, dopamiengestremd, 
moet wag om reggemaak te word. 
Jou tenk hervul te kry, 
die balans in jou brein weer reg te kry. 
Dalk is dit die regte tyd om stil te sit en dink, 
te wag, te kyk, te peins. 
Soms is dit nie so lank nie, 
soms is die brein se -ienfabriek op 'n dubbelskof, 
soms op 'n sloerstaking.  
As ek dus lank genoeg geduldig is, 
sal die af-gevoel my wel verlaat. 

Dis insig wat mens rustig maak, 
my laat aanvaar dat ek moet wag. 
Adrenalien kan dalk my dag 'n kickstart gee, 
maar in die vleesgebonde heelal sal ek dubbeld moet betaal. 
Rente op rente vir spoed wat geleen word, 
dubbeld die tyd tot stabiliteit weer die hormoonbelans herstel. 
As jy inmeng moet jy aanhou inmeng. 
Alkohol en koffie, liefde en haat, 
emosionele wipwa gooi jou vir seker af. 
Niemand kan vir ewig op 'n trapmeul hol, 
sonder om te eet, te drink, te jol. 
Niemand kan net jol nie, 
niemand kan net hol nie. 

Al dink ons ons is hierdie super dinkmasien, 
is ons liggaamsfunksies onderhewig aan 'n chemiese refrein: 
adrenalien, insulien, testosteroon, progesteroon, estrogeen, serotanien, dopamien. 
Ons is net die dansers, volg die ritme aanmekaar...
die hormone slaan kitaar.  

Wat is ooit werklik "werklik" in mens se  emosionele lewe? 
Dis nie tasbaar of meetbaar nie, dis nie eksak nie. 
Daar is geen werklike regte en verkeerde antwoorde nie. 
Mens kan wakker word met trane in jou oë.. 
Jy kon gehuil het in die paar sekondes voor jy wakker skrik!
Snaaks dat dit jou inderwaarheid dan beter kan laat voel. 
Selfs trane het 'n goeie doel, 
'n manier om jou siel skoon te spoel, 
jou as't ware te vernuwe, 
jou vrese en swaarkry te kan agterlaat. 
Om te huil laat jou emosies as't ware weer balanseer, 
jy reset jou bias, 
alles begin weer op die verstekverstellings: 
Op nul.. 
Plus 0 minus 0, neutraal. 

Nou is jy reg vir die volgende maand, 
die uit balans hormone weer almal op hul plekke, 
regte vlakke weer gevind. 
Miskien is snot en trane baie onderskat! 

Ek het dit nodig gehad, 
maar ons mans huil mos nie sommer nie... 
Maar die brein se onderbewussyn weet wat ons benodig vir oorlewing...  
seker die dat ek die droom moes hê oor Altzheimers en vertroosting!  

Monday, 3 September 2012

Vrypipperment


Bedwelmde denke stel dit voor:
Vra haar vir 'n dans, 
draai haar dronkomtalie, 
druk haar teen jou vas. 

Vrypeperment, trougeskenk, 
gladde soet speelinstrument. 

Werklikheid ontbloot veel meer: 
Skaakspel van die lewe wys watter lewenswyse wese 
agter die oënskynlik skadelose glimlag was. 

Hierdie balletjie kamma-soetvermaak, 
toegedraai in onskuldig-lykend denkendaad,
blyk toe mikroskopies te bestaan 
uit veel meer as dit wat sigbaar is in wit gewaad. 

Wat van vêr as gladde klip 
en suikersoet imperial vertoon, 
is toe inderwaarheid fyn ontwerpte sleutels 
om genetika te kloon. 

Al die lopers vir my hart, 
al die kodes vir my brein, 
pasgemaakte sleutels wat 
nou skielik uit die niet verskyn.  

Uit die tussenspasies vloei hormone vir my lyf!
Onwetend dat die sleutels se gebruik 
terselfdertyd jou hart verstyf. 

Soos virus-RNA spuit jou wese my te binne, 
jy is 'n genooide gas, jy en jou bagasie: bly te kenne.  
Maar.. Diep binne-in die kern van my siel, 
word my wil, my denke, 
heel my self, my eie ek, vervang. 

Alles in my DNS word: ontheliks, ontrafel, ontsyfer.. 
tot al wat oorbly is: enkelvoudig bousteensure 
wat aan 'n eens-komplekse raamwerk hang. 

My wese word verander tot 'n kloon van jou,
ek word binne-in my wese na jou kode omgebou.
Daar werk die programmeringshoofagent: 
Eksklusiewe en/of-stellings, wat dan outomaties brûe brand, 
seker maak die die nuwe ek is permanent.  

Hoe meer ek my ontbloot aan jou, 
hoe minder fasineer ek jou,  

Ek, vasgevang in hierdie web, kan net hulploos spartel, 
hoe lank sal ek myself nog aanhou martel?

Miskien is ek onnodig skyn-bewoeë:
Ek's vrywillig hulpeloos verslaaf aan alles 
agter daardie kamma-stroopsoet dryfsandoë.

Sunday, 8 July 2012

Raka ?



Het Raka tog 'n hart?
Het hy dalk 'n brein?
'N bietjie bewussyn agter die swart gordyn?

Waar het hy geskuil toe die modder en slyk
Verander het in wit?
Die water ge-ys
Die modder versteen
Die slyk verdwyn?



Het hy, toe die maan

Agter die swart gordyn verdwyn,

Gewonder, gesien, gedink
Verwonder deur die lig van miljoene sonne

wat skielik uit die donker hemelruim verskyn?
Belig deur die donker,
Die swart gordyn,
Van die aarde se skadu
Op die doek van die maan.

Die detail van sterre nie meer verdonker
deur die lig van die son

deur die maanspieëldoek weerkaats?

 

Die ys van die winter,
Die lig van die maan
Die sneeu op die landskap
Die ysige wit weerkaatsing van koue
deur die vlak waters van die melkweg, 

waar al die helder sonne se lig,

getemper deur die resiprook van miljoene ligjare kwadraat,
verdof word deur die silwer weerkaatsing in die flaterspieël

van hierdie planeet se satteliet.
Die oorbeligting doof die detail uit.

 

 

Soos 'n vlam die wit was van die kers
verander in 'n blink amorfe poel...
Onsigbaar,

om te weet moet jy voel...
Was dit nie vir die stolling van die was
op die vinger van die mens, (of gees)
sou dit 'n raaisel wees.

 

 

Wat is waarheid,

wat is waan,

wat is fisies,

wat is gees?
Sou die dier, die Raka,

in ons almal wees?
Dink ons almal ons is beter,

net totdat die swart gordyn,     

die dieper son in ons siel ontbloot?
Dan is ons..

Dier?

Die drange al wat is,

wat was, wat nog wil wees..

 

 

Vergete al die wonders van die gees,
Die groot ambisie,
al die planne,
al die strewe na die goeie.

Al wat oorbly is die bloed,

die drang,

die drif...
Voor dit nie bevrediging verkry,

sal geen ander denke jou bevry!

 

 

So waar is Raka,

waar die dier?

As al die ander na jou tuur?

Wat wil jy hê?
Wat wil jy nie?
Wat's jou begeerte,
Wat is jou skans?

Wat word versteek daar agter daardie masker-muur?

 

Is dit die waarheid?

'N begeerte?

'N behoefte?

Net 'n dans???

 

Sê jy dit,
Bedoel jy dat.
Dink jy dat,
as jy dan sê,
wat mense dink gesê moet word,
dit wel jou denke transformeer,
na DIT wat jy na aspireer?

 

As ander jou beskou
In detail-verdonkerende helder lig
Van sogenaamd beskaafde norme...
Hoe kan hul weet
van al jou diep versteekte drange?
Jou verswygings,
Jou verlange?
Die lis van die gesmag
van dierlike lus.
Wat jy telkens soos 'n Petrus,

oor en oor verloën,
om almal om jou om die bos te lei...

Kry jy dit reg, dink jy?

 

Hoe ondeursigtig is die sneeu,

die ys..
Tot dit ook smelt en sigbaar laat,
die slyk,

die modder..
Wat hier onder in die helder stroompie lê.

 

En as die drang bevredig is,
is jy dan weer jou preutse self.
Wat wyd en syd verkondig hoe

die mans se bekke kwyl,  

wyl jy,

onaangeraak,

net op jou eie bly

en heel beledig,

(dalk beangs?)

voel as hul na jou passies staar.

 

Wat is die dans dan,
as dit nie in diepste wese,
wel die diepste wens verwoord?

 

Op stille ritme is gebore

uit die allerprimitiefste drang
van spoeg en sweet

en soete nektar van die blom,
wat roep na hulp van bye om
tog net so gou as moontlik na die blom te kom, 

die daad te doen,
die smag na die vervulling te vervul.

 

 

Dan..

ja DAN,
sal alles beter wees...
Dit sal:
Die stille stap,

asook die hoogs pretensieuse,
(of dalk opregte?)

wens na hoër denke weer herstel.

I Don't need you anymore




Do you believe in love after love? 
As ek myself toelaat, kan die vrolike melodie van 'n lekker song my opbeur.... 
Die triek is om dit toe te laat! 
Om jou gedagtes te laat swerf...
van waar dit in die doldrums rondploeter, 
na waar jy "happy go lucky" was toe jy die liedjie op 'n plek en tydstip gehoor het. 

Dink aan die meisie wat saam met jou gedans het, 
jou met groot oë die heel aand dopgehou het. 
Saam met jou gelag het. 
Saam met jou huistoe gegaan het, 
die donker spoke verdryf het, 
jou vir 'n wyle laat glo het daars 'n doel met jou. 
Jou op die berg laat staan het en jou die uitsig oor die vallei laat beskou het. 
Jou wysgemaak het daar lê iets beters agter die volgende bult. 

Die blitsfoto in jou brein van die spontane glimlag.. voordat dit deur die bewuste,
berekende denke afgebreek, 
oorbelig, oorgeanaliseer is, 
totdat die enigste blywende antwoord 'n leuen is. 

Voordat die emosies verban is, 
verbied is, onwettig verklaar is.... 
Sodat jy, realis, idialis, 
jouself kon oortuig dat die enigste uitweg is 
om op te tree as pragmatis. 
Seker te maak dat hy weg is. 
Verban is.  Doodgeswyg is. 
Is jy seker dat dit al uitweg is? 
Dat dit die ware jy is, wat die besluitnemer is..... 
Dit wat uitgebrand is in jou brein, 
kan nie wat ingeëts is in MY brein, 
uitwis nie... 

Daardie onbeskermde, onbewaakte oomblik 
is in die rotswande van my grysstof uitgebeitel. 
Jy kan sê wat jy wil, 
jy kan doen wat jy wil, 
ontken, onteien, ontsien,
ontsnap van die waarheid kan jy nie! 
Vir daardie nanosekonde was jy bly.. 
om my te sien! 
Was dit net jou eie Narcistiese motivering: 
"Ek kan hom nog steeds naderlok"? 
Was dit net om my soos 'n Medusa-slagoffer 
te laat versteen?
My in die laning van jou klipstandbeeldtrofeë
te laat staan?  
Dalk is dit al satisfaksie wat jy kry... 
"Oorwinning!" 
"Hy gee om vir my".... 

Die skoen is nou aan die ander voet, 
EK het die mag, EK sal die mans verkrag! 
EK sal hul harte vertrap, hul goedheid verwerp, 
hul attensies verdraai, hul skerpte verstomp, 
hul insig verblind, hul emosies vermorsel. 
EK is die wenner! So lyk ek: 

Hosanna, Susteranna!    
Ek gee nie om dat ek eensaam is, 
solank as wat hulle vernietig is! 
Die enigstes wat ek verdra, 
is die wat my attensies omseil, 
my kloue ontwyk, my uitnodigings ontkom... 
Ek sal werk aan hom, tot hy val vir my.... 
Dan sal ek mag hê oor hom, 
dan sal EK die terme dikteer, 
ek sal hom dan ignoreer, 
hom laat opkrimp, tot siekwordens frustreer. 
Skaakmat! 
Dis my spel! 
Ek het dit al in die openbaar so gestel, 
dalk is dit al wat wat ek kan bestel. 
Ek kan dit op die mansdom bevel.... 
Die HEL!

Saturday, 7 July 2012

2 U 4 aulde lang sein




Ek dink aan jou, 
al moet ek nie.
Ek skryf aan jou,
al mag ek nie. 


Ek reik na jou,
al weet jy nie.
Dan sien ek jou,
al wou ek nie. 


Ek wonder my oor jou,
al baat dit nie vir my of jou.
Ek treur oor jou,
al traak't nie vir jou. 


Ek wens dat ek,
nog eenmaal weer,
jou stem in my ore kon hoor.
Is jy oortuig ek is sò goor 
en onwenslik dat jy nooit ooit weer  
met my oor iets wil korrespondeer?


Ek wens daar was 'n middeweg,
Maar al my opsies is reeds weg..
Jy het voortydig (volgens my) besluit. 
So het jy my vir ewig uitgesluit..?
Is jy seker jy het nie verkeerd besluit ? 

Thursday, 21 June 2012

2012/06/20 Midwintersnag


Midwintersnag. 
Gaan jy vanaand op jou besem vlermuise jag?
Of gaan jy soos ons ander sterflinge op die somer wag?

Yskoud om die vuur, 
starend na die flikkerende skadus teen die muur. 
Wat sien jy daar? 
Ons binneste, 
die essensie van die mens? 
Die waarheid op die altaar?
Of net die spoke van gister en al die drome van môre 
wat versplinterd om ons stof vergaar? 

Hoe vêr kan ons in die afgrond instaar? 
Sal ons aanhou kyk 
tot ons die swakhede van ons jonkheid sien terugkyk?
Sal ons niks sien en opgee, 
tevrede dat ons onsself nooit sal ken, 
net om te laat te onthou dat die lig van die naaste ster 
eers hier aankom na 'n reis van meer as vier jaar vêr, 
dat dìe skrikkeljaar,
ons almal na buite sal bring, 
afgepaar,
elkeen op sy plek, 
vasgenael.. 
dalk reeds gevrek? 

Die waarheid van ons donker kant, 
bring die spieël na die linkerkant. 
Sinister, Dexter..
Die heks en haar besemstok:
Die linker en die Regter. 

Tuesday, 22 May 2012

Die reis na binne


Woorde dis/sek/teer die denke...
Die muse sê dat woorde: 
"onvolmaakte meganismes" is
om denke mee korrek te merk,
maar watse ander opsies het ek dan, 
om mee die siel te onderspan ?

Die skalpel sny net deur die spier. 
Die denke split die redenasie hier. 
Om by die doel van die gesegde uit te kom, 
moet jy 'n baie spits wig bekom. 
Jy moet as't ware soos 'n beiteltjie (van Van Wyk Louw), 
die rots kan breek, om hou vir hou, 
die weggesteekte waarheid uit te grou. 

Om dit te doen, sal jy my ou, 
moet slyp en slyp aan hierdie klou van jou! 
Jy sal moet vlymskerp wees as jy 
agter die kap van hierdie blink byl wil kom!

Die atoom se split kom wel vanuit 
die diepste binneste  bousteenkerne. 
Die absolute swaarste, 
ongebalanseerde ene, 
wil vanuit sy elektron vel bars en twee word, 
dalk nog meer word..

So dink ek ook is woorde wat die siel omring soos pantserpak. 
Soms swaar gelaai met goud, soms nie. 
So: mens moet eers die erts kan breek 
voor waarde tog sy kop uitsteek. 
Vir diamant en diatoom, 
geen raakpunt, dink jy, nè, my oom?

Tog moet die wortel van die woord 
jou wel vertel waar elkeen hoort. 
En as jy dan nog verder delf, 
Vind jy wel die ander helf. 
Die een wat sê hoe't als begin,
hoe als by alles hoort, hoe maak dit sin. 

Ek spring van klip tot klip sien jy, 
maar af en toe dan spat daar bietjie vog op my. 
Die water maak my voete nat, 
maar as ek aan my oë vat, 
dan kry ek soms ook daai gevoel.. 

Dis snaaks, die water wat van binne kom, 
my oë smeer, word meer en meer. 
Dit maak 'n poel. 
Dit maak 'n traan. 
Dit val van oog na wang, 
tot waar ek staan. 

Die water wat van buite kom, 
maak soms tog ook  die oë nat, 
maar nooit maak dit sò in die hart. 

Die hart pomp bloed, maar ook veel meer.. 
dit pomp ook somtyds iets heel swart. 
Ek hoor hul noem dit smart, my hart, 
maar díe verstaan ek, kan mens keer. 

Ek spring van klip tot klip, my hart. 
Die hart pomp swart
Die hart pomp smart
Die beste ding vir smart, my hart,
is hierdie swaar swart swaard, my hart. 
Sy punt is skerp, sy punt is spits
Dit sny, dit steek, dit kuur soos blits , 
die sweer, die seer, 
die weer probeer. 

So sien ek weer die spring, 
die sprong, die swiep van leer. 
Die sweep die klap, die pyn word meer, 
maar weer en weer kan ek nie keer.. 
Die brein het nou sy eie pad 
na hierdie dieper saak gevat.. 
My vingers tik, my voete spring 
van klip tot klip, ek word gedwing! 
Die een woord lei tot tweede een. 
Ek gly, ek val, ek skraap my skeen. 

En wat sou jy: die een wat ween, 
wou sê oor hierdie kruppel been? 
Sal ek ooit weer kan dans met een? 
Sal ek net val en weer versteen? 
So sien jy nou, my nommer een? 
Ons loop maar so..  so een vir een..  

Ook soms kan ek 
die agterste-na-voorste woorde trek. 
Die sin verkort, in plaas van rek. 
Ek lees iets in 'n selfgesprek, 
ek maak dan weer vir my 'n nuwe hek. 
Ek sny en kap, ek split en boor, 
ek spin die woorde oor en oor.
Ek maal dit fyn in my verstand
tot ek die regte klanke hoor. 
Ek sif dit uit, ek pak dit reg, 
totdat ek al die allerlaaste fyn fyn klei 
van daardie woordboustene uit kan kry. 

Ek meet en pas, ek spoeg en plak, 
tot ek dan weer die woorde kry, 
wat jy, (so dink ek) 
eerder sou wou weg laat bly. 

Ek sny, ek kap, ek timmer meer, 
tot heel my kop aanhou vibreer. 
Ek bou, ek werk, ek sweis weer vas, 
tot dit wat was weer waarheid pas. 

Hoe kom mens by die waarheid uit, 
as al die ander anders wil besluit? 
Jy grou, jy krap, jy soek 'n draad... 
'n los ou garingtjie, 'n noot, sy maat.. 
So volg die simfonie uit een, uit twee, uit drienootmaat. 

Al hierdie ingewikkelde, aangrypende melodië, 
is saamgestel uit ene, tweë, drieë, 
nie uit losstaande woorde, 
maar wel uit simbiotiese akkoorde. 

Soos 'n reis van duisend myl 
begin met net een tree, 
so werk die pad na die verborge binneweë.  
Jy moet net eers vir jouself kan sê: 
Aangename kennis! 
Voordat jy jouself kan ken, 
moet jy WEET dat jy kan wen. 
Die begin begin net met net een tree, 
en daarna gaan dit tree vir tree... 

Monday, 21 May 2012

21 12 20 11 .. Meer Pretensieus


Ek wou vir jou.. 
'n treffende, dalk grootse gedig dig, 
vir Kersfees of vir Nuwe Jaar.... 
Of dalk vir as jy weer verjaar, 
maar net betyds het ek onthou, 
jy hou mos deserdae jou by jou selfopgelegde streng dieet 
wat mans en hul besoedelende, 
soms aanloklike idees 
en of gewoontes aan betref.  
Want gif is gif en slang bly slang.. 
Hoe kon ek dink dat jy  selfs na geselskap kan verlang? 
Al wat deeserdae baat vir jou, 
is jou kamera en jou howe! 
Al die ander goed (en beter, beste) 
gaan mos jou verstand te bowe...

So hier is iets wat wel iets is, 
nie soos die Nuwejaar wat kamma is:
Middernag vannag 
(en dis nie vir 'n dromer) 
is dit die middelpunt van somer!
Nie sommer so 'n dag dus nie, 
'n regte einde en begin, 
'n nuwe siklus, meetbaar in 
die tydperk van volledige omwenteling 
van ons planeet se wenteling 
om ons geel ster,
ons eie waterstofbomsonneblomson. 

Geniet dit dus, 
geniet die rus, 
geniet die jaar se weer begin, 
ek hoop jy is gesond, 
hoop jy loop daar bietjie rond, 
kry tyd om nog 'n paar 
besonderse beelde in miljoene pixels vas te lê. 
Ek hoop dat die gediggie nie 
(soos die skrywersmotiveringsbron) 
die muse se verstand 
wat dalk kan lê op witte strand 
of reis in verre land, 
te bowe gaan.

Monday, 7 May 2012

Tonight I need a friend


Soms, soos vanaand, voel ek asof die lewe my onnodig druk.. Maar dit is, as ek rasioneel daaroor dink, 'n geval van kla met 'n witbrood onder die arm! Nogtans verander dit niks aan die gevoel binne in my nie. Ek wil meer hê, meer wen, meer gesels, soms meer stilte hê, meer seks, meer vriendskap, meer diepte, meer sukses....
En tog... Is ek bo meeste mense geseënd!! Hoekom smag ek na nog? Is ek ondankbaar?
Of wil almal maar net altyd meer hê? Soms het ek net 'n goeie vriend nodig om weer perspektief te gee..... Maar vanaand wil ek eintlik saam met Kris Kristofferson sê: Let the devil take tomorrow, cause tonight I need a friend!!

Thursday, 26 January 2012

Monoloog in 'n spieël

Hy:
Waar is my muse
Waar my inspirasie


Hoe moet ek skryf 
As alles in my dof is


Die helder lig
Die vuurtoring
Die lorelei
Die skeepswrakmaker


Jy was, 
vir 'n tydjie,
Weer soos die smaak
Van vars appelsap
Vervrissend op die tong


Die klank van jou stem
Die skerpheid van jou skryfstyl
Die opwinding in jou stemtoon
Wat jy nie kon onderdruk 
Toe jy met my gepraat het
Toe jy my gebel het
toe jou poging, 
om my agter die masker
uit te pluk,
nie geslaag het nie.  


Jy't gese:"Ek soek Koos Smit."
Ek's nou nog seker? 
dit was 'n set... 
Dis die nuuskierigheid wat  
jou so opgevreet het.....
Jy kon nie glo 
dat 'n man jou so 
lank kon weerstaan 
Selfs al het jy hom goed laat verstaan
Dat hy jou sou kry
As hy tog net die masker laat gly


Die waarheid? 
Of... 
soos hy dit sien:


Jy maak 'n lewe deur 
ander se skanse af te breek
Hul duister motiewe bloot te lê
Die waarheid te ontklee,
Tot dit soos gebleikte geraamtes in die kaste staan(of lê): nakend, 
sonder kleed of vlees. 
Jy maak staat op logika 
en redenasie vir díe aksie,
Maar dit verlaat jou in jou soeke na satisfaksie. 


Jy glo dit wat die feeverhaal
sou waarmaak
Die vermiste skakel sou openbaarmaak. 
Nie dit wat die feite jou moet wysmaak. 


In sake van die hart
het jy al soveel keer die smart 
van leuens en valsheid moes verduur
Dat jy nie meer die reëls 
Van logika kan respekteer. 
By een soek jy te veel
By die ander weer te min.
Soms gooi jy tou op prematuur,
Soms gee jy 'n blow job 
plaas van dit opgee vir 'n bad job  


SY: (Volgens hom)
Waar is die een wat my
soos myself sal kan bemin?
Ek swaai, 
heen-en-weer, 
vervaard.  
Van buite lyk ek heel bedaard
Die pendulum hou tyd,
Beskryf nog eens die hartklop 
in die dae van my benoudheid. 
Ek swaai van koel na koud na warm...
Maar is daar werklik iemand wat my graag sou wou omarm?


Net terwille van myself
Nie vir my status, lyf, my geld?
Is daar nie ook vir my 'n held?


Ek vind hom wel,
Ek het gedog hy sou kon bly..
Maar toe het hy 
ook maar weer voete van klei. 
Hy kon toe nie 
In sy gewoontes, 
sy sienings, 
met my sienings, 
my gewoontes
Swaelstert nie. 


Hoewel....
Hy kan dans,
Hy kan soen, 
Hy kan selfs die skaakspel doen


Sy grootste swakheid in my oë, 
die het hy toe oorwin, sien ek. 
Die tweede sonde ook, 
so blyk dit nou,
Maar steeds is hy nie myne nie
Sal nooit kan wees nie,
Wil ook nie. Of wil hy wel? 
Sal hy weer hierheen wil kom? 


Vergeet, vergeet, hy moet vergeet
van lief en leed, van pas en meet. 
Ek wil ook nie dat hy dit weet,
dat soms, 
net soms,
ek WEL 'n bietjie dink aan hom...