Showing posts with label My mymerings. Show all posts
Showing posts with label My mymerings. Show all posts

Monday, 17 June 2013

Terugtog


Ek vat die pad na reeds gesien,
so bietjie links van klaar gedoen,
die draaie hier is reeds gery,
ek het al hierso seergekry.

Die ryvlak stop,
nou moet ek stap.
Ek stap en stap so om die kop,
ek loop en klim,
ek skuifel aan,
die paadjie kronkel na die maan.

Die son, die maan, die sterre,
alles saam maak my verstaan.
Ons is hier deur,
ons kan nie staan,
die lewe gaan net aan en aan.

Soms stop ons bietjie om te rus,
maar in die tydjie wat ons rus,
kom al die spoke aangestap,
hul maak hul tuis op ons se pad.
Hul trek ons aandag af,
hul maak ons dwaal,
hul laat ons vir ons rus betaal.

Die nostalgie is soms ook reg,
maar laat ons afdwaal op die weg.
Die water onder deur die brug,
die is verby, dit kom nie t'rug.

So opstaan maat
en rek jou treë,
in hierdie wêreld is
ons almal soms vermis.
Die luiaard en die denker,
melanchool en drinker,
almal wat 'n bietjie rus,
almal wat 'n bietjie wonder,
ja almal wat 'n afdraai vat,
word uitgeskuif en afgeskryf
en ongeërg net daar gelaat.

Wednesday, 15 May 2013

Vol-wasse? (Lewens-kommentaar in 'n amper-gedig)


Ek wonder soms:
of almal met die intrap
in die grootmens-wêreld
so gebrand/geskok word
dat hul die vreugde van kindwees
skoon verloor..
Die melancholie neem oor
waar die sorgelose lag was,
die hartseer waar die glimlag was,
die norsheid lê nou daar,
waar die speelsheid eens so vlak geleë was.

Ek weet by diere's dit 'n normale proses,
die speel raak weg,
die erns neem oor:
Hormone laat hulle baklei om te paar,
kompeteer net mekaar,
areas afbaken vir kos,
vir rondloop,
vir maatsoek..
Die trop raak belangrik,
die maats raak net nog
vreters en opponente.

Is dit noodsaaklik dat ons
as mense ook so word?
Die "suksesvolles" doen dit
met oorgawe..

Ja, maar sien jy geluk in hul oë?
'n sprankie genot,
selfs deur al die prestasies en geld?
Gedoem tot geweld,
tot trap en klim;
as jy bo is, is jy oud,
nie juis noodwendig slim nie,
nie noodwendig wys nie,
net oud,
alleen,
eensaam,
op-baklei..
Vir WAT?

Monday, 29 April 2013

Maanligdanser



Ek staan en staar soos 'n gevangene,
peinsend agter glas.
Ek dog ek sien jou staan,
buitekant die skerp lig van beskawing,
jou voete in 'n plas.
Die reën het sopas opgehou,
jy staar terug na my,
in die bleek lig van die maan,
lyk jou oë amper grou..

Nou staan jy nader,
anderkant die glas,
net effens uit my reik.
Ek sien jou ligweg dans
tussen bome op die gras.
Jy't jou lang wit somerrokkie aan,
die een wat jy gedra het, destyds,
toe ons nog saam gedraai het
en gewip het op die varsitydansbaan.

Jy wals nou deur die tuin,
jy sweef moeiteloos oor rose,
oor lelies en jasmyn..
Ek kan jou byna aanraak,
ek kan jou liggaam voel,
ek onthou nou nog jou asem,
teen my nek, so koel,
so amper of die dansspoed
jou nooit kon moeg laat voel.

Ek's seker dit is jy,
dit lyk kompleet soos jy..
Ek moet net bietjie nader staan,
ek weet sodra ek aan jou raak,
sal ek verseker weet,
ek's seker dat dit so sal wees;
ek weet ook dan's ek vry...

Mona Lisa




Ek wou nie maar ek moes..
vir jou 'n ietsie skryf.
Herinnerings word lank bewaar
in die senus van my lyf..


Ek voel 'n kriewel in my kop se kant,
Jou glimlag hou aan spook by my  

:)

emoticon wat stilweg Mona Lisa
op die epos in my hand..

Thursday, 18 April 2013

Passage on a passage


I walk down the long white passage, crossing other long white passages. 
I know not if this is the right way, but it is the logical way. 
The way an architect would have designed it, or perhaps an engineer. 
Architects aren't always logical, come to think of it, it might have been a doctor, thinking he is an architect..
However, I keep on walking, it turns out to be the right way, if not the only way, for me to get to the central command centre. The place where the nurses sleep, it turned out to be, on the tables. It is their main job nowadays, me thinks. The black skin contrasting with the white uniform and white walls and white patients. There are some nurses that are awake, it seems. They are dressed in blue, somehow their skin does not seem so black. It must be the lack of contrast with the blue. Dark blue, mixed with lighter blue, a few specs of turquoise. Blue on black, it doesn't matter much. She recovers with a sigh from the open-eyed sleep; perhaps one is issued blue once the open eyed sleep has been mastered...
Mrs S.., ... Or perhaps she is known as Dr K......?
"Yes, come, I will show you.." The blue nurse, she was in her own office, so perhaps she is the matron of this wing, walks down another passage. As I leave the office I see my mother's name on the wall: Mrs S****** / ward 6...

"She is sleeping", the blue one says. 

There are six beds in the ward. Five were steel cots with railings to prevent the patients from falling out, 
one is a low wood frame bed. My mother's bed is the one on the left, behind the door. 
She is sleeping, a frail woman with spectacles, dressed in brown slacks and wearing blue slippers and a light blue cardigan.

I touch her gently, shake her lightly:

"Ma, hello ma.."
As she wakes up, she looks confused, then her face breaks into a smile:
"Good to see you.." She does not say my name, but she is glad to see me, I ask how she is, 
she replies with a standard saying: "Fat and healthy" ... Although she probably has never been fat in her life. 
I hold her hand, I do not really like emotions, or perhaps it is that I am not truly able to control my emotions..
"I brought chocolate." I open the slab of dark albany, the type she so used to love, and hand her a piece.
 "It is nice." She sucks and chews it, then gets up:"Where is the bathroom? I have to go!" 
I am caught on the wrong foot, "I don't know.." 

However, she goes past me, into the first door on the left, a wide door. I can see the walls are tiled and in the corner I see a bath and a toilet, so this must be it. I turn around to wait by the bed, she returns in about four minutes, we stand there, next to her bed. 

I have nothing to say, holding her, I cannot hide my tears. 
"I will come and visit again," I lie. "I still have a few things to do in town," (I do) 
"Goodbye." 

I kiss her and start walking down the long wide passage,

turning right at the office of the blue nurse, 
keep walking towards the light, 
on the other side of the barred steel security door. 
The door is locked and I have to put my hand through it to reach the intercom button on the outside wall. 
Pushing it, the door unlocks. As I go through the gate, closing it, I look back along the passage. 
I can see a figure standing at the cross of the passages, waving at me. 
I think she is smiling, 
she must be smiling, 
I am in the sun, 
she's in the shade, 
I can't see clearly. 
She is happy, so she said.

I am not, but that's just me.

Tuesday, 16 April 2013

Klasie kani-slapie


Klaasvakie vat my weg! 
Vat my weg na die Limbo land. 
Vat my hand en lei my deur 
die grys vallei.. 
Lei my na die skaduland, 
anderkant die spieëltjie-deur. 

Vat my deur die waterpoel 
van diep en donker denke, 
die rustige poel 
van helende louwarm wegraak 
in die grys van Limboland. 

Vat my deur die deur 
van half-onthou 
en half-ontdek. 
Vat my na die anderkant,
na daardie onmisbare, 
ondefinieërbare plek.. 

Die plek om 'n bietjie te droom, 
daar waar ek 'n ding of twee 
in my gedagtes kan formuleer... 

Daar in die limbo-land 
tussen slaap en wakker. 

Waar drome met woorde dans, 
die denke los rondloop, 
in die bondel vry 
en die vrugbare aarde 
met nuwe idees bestuif. 

Vrye gedagtes, 
ongebonde deur reëls 
van die fisiese bestaan, 
reële feite en vooroordele. 

Miskien, 
net miskien, 
kom daar 
'n sinvolle poging na vore, 
word 'n vrugbare idee gebore
uit die skemerdans van gedagtes 
met die geleentheid van geleerdheid. 

Die kombinasie van behoefte 
en geleentheid kan miskien 
in 'n virtueele kombinasie ontaard... 

Laat my in die diep droompoel induik, 
die korale van my brein deursoek, 
die gekleurde vissies 
van my verbeelding ontdek... 

Dalk is daar nog iets oor, 
iets wat nie net 
hormoongedrewe is nie, 
want keer op keer, 
moet ek myself keer 
om nie weer 
net in die groef te verval 
van die dwelm van verlang, 
van die drank van behoefte 
en drange te verdrink nie... 

Om nie die gedagte-ekstase 
van warm vel op te roep, 
in te snuif 
en in my herinneringe te versmoor nie.... 

Klaas Vakie vat my weg!

Thursday, 7 March 2013

Dompelpompdood


Tweeuur in die môre,
die wêreld moet mos slaap,
maar êrens in die verte
blêr 'n halfverdwaalde skaap.

'n loshang yster swaai 
ritmies in die wind,
luitoon klink kompleet
soos kerkklok-roep se kind.

Die dompelpomp moet dood,
die spuite loop al hoeka
'n uur of wat te lank,
water's nie oorvloedig nie,
die Eskom-som word groot.

Gewoonlik gaan ek met 'n wapen uit,
want spyt kom mos te laat.
Maar:
Jy dink dat alles veilig is;
die Beretta is te swaar,
dit gebeur mos net met ander,
want hier's mos geen gevaar...

Dis tweeuur in die môre
en die dompelpomp moet dood.

Wednesday, 6 March 2013

Maanskyn en Jasmyn... Of brandewyn en pyn.



Liefde is nie altyd

sag en mooi

soos rose,
maanskyn en jasmyn nie.



Rose en jasmyn wys nie al die pyn nie.
Hier en daar 'n doring,
af en toe 'n steek,
dink jy dit is hoe
die liefde
en die lewe
se langtermyn-verhoudings
inmekaar gaan steek?



Nee meneer/mevrou/mejuffrou,
dis nie altoos so nie,
die waarheid is soms baiekeer meer so:



Die somerson verskroei die rose,
die westewind verdor jasmyn,
die volmaan bring die waansin,
die sekelmaan die pyn.



Geen waarheid maak meer sin,
geen redes dring dan deur.
Die deure klap, die stem weergalm,
die einde kom net nooit...
Vir dae klink die eggo
van die vloek-en-skeltoon voort..



Jaloerse mense maak
die lewe vir die ander hier 'n hel,
dit wat saakmaak,
dit wat waar is,
is nie hierso ooit in tel.



Miskien sal die ewewig in vrede
eendag kan herstel,
maar...
dan slegs as:
die dorings afgebrand word,
die geur van wraak verdryf word,
die bron van waansin verwoes word..



Maanskyn en jasmyn...
miskien.. 
Merendeels: 
Sonskyn en brandewyn;
Pille en gille..



Nimmereindigende pyn!

Thursday, 28 February 2013

Hotel California : According to me


Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende






Hoe kon ek dink dat ek,
die aardsgebonde gek,
'n kans sou staan om in jou guns te bly,
as ek die hele tyd
na jou moet opkyk,
terwyl jy,
my afgod bly?

Ek hoor die ander roep na jou,
verlate, soekend, tevergeefs...
Dwalend sonder rigting,
hulle't uit jou glas gedrink:
jou soete wyn
was weereens goed verdun met pyn.

Loop hul in die gange van
jou Hotel California,
roepend, soekend na jou area,
jy,
horend doof,
die eggo stil,
hul oë uitgesteek...

Was dit dan nie tog maar hul verdiende loon,
die een van elke spikkelboon?
of het hul net toevallig
in jou glimlag vasgeloop?

Hoekom sou ek dink dat ek,
enigsins iets anders as
net nog 'n interlude was?
Elke gedagte word 'n waagstuk,
elke woord 'n strik.
Die sprong van klip tot klip gevaarlik,
op 'n misstap volg probleme onvermydelik:
Die mooi gepakte klippe is verleidelik..
Pasop!...Die lawa tussenin is dodelik!

My woorde vloei uit my gemoed,
maar dis als verspilde bloed,
ek moet dit alles sensor...
alles vries, verpak,
wegbêre in 'n rak.
Ek is verplig om tot sovêr
my ware denke te weerlê.

En tog...
Ek weet,
ek voel dit aan,
die rede:
ek verstaan.
Die rede wat hier geld vir jou,
geld wel ook nou vir my, vir nou:
die hier en nou van my en jou...
Is..
Die pole van oneindig-sterk magnete,
ons moet altoos baie seker maak
dat ons regte kante na mekaar toe wys:
gelyke pole;
sterk afstotend'krag:
 

Draai ons in perfek-sinchrone wals,
so-nie sal ons 

(met 'n plof!)
mekaar vernietig 

met die by-mekaar-kom-slag..

ADD


Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ek wonder wat ek sou kon doen,
as ek my net met die stilte kon versoen,
wat ek alles sou vermag
as ek heel my krag, al my mag,
kon fokus op 'n enkle ding..
een ding op 'n slag,
nie tien goed tergelykertyd
en dan dalk nog 'n ding
wat toevallig my by verby mag kom...

Toe ek op my studies moes kon konsentreer,
kom trek die meisies mos my aandag af,
op die meisie moes ek toe mos konsentreer,
maar toe vang die wyn my konsentrasie mos so effens vas.
 
*****

As ek net vir 'n jaar kon leer
om tog net vir 'n enkel keer,
op iets heel SINVOL te kan bly konsentreer...

Thursday, 3 January 2013

Jaareinde?


Oujaarsaand. 

Geen werklike rede vir die jaar om nou te eindig nie, 

maar tog... 

Konvensie dikteer dit, 

die datumlyn reguleer dit. 
Ons val daarby in. 

Al was die 21e Desember eintlik 

'n meer natuurlike einde en 
begin. 

Midsomer hier, midwinter in die Noorde. 

Sonmaksimumuitwyking van die ewenaar. 
Dis die 21ste, klaar! 

Vandag, tien dae laat, is dit die amptelike verandering, 

die kamma-jaareind. 

Die datum-jaar-verandering. 


Dit is konvensie, so val ons in, 

daar is tog geen gewin in die of daai.... 

Of IS daar?

Sunday, 14 October 2012

Sonde-val / -klim


Ek kyk na die sterre op 'n helder koue aand soos vanaand, 
ek dink: 
hmmmm, oulike liggies nè? 
Inderdaad! Sou ek sê.. 
Tot mens mooi kyk en dink wat daaragter lê. 

Elkeen 'n son, elkeen 'n vlam, 
helder en gloeiend, sommige reeds uitgebrand, 
die NOU en HOE van ons nietige self: 
Onbeduidend.. 
Dog vir ONS en dìe òm ons: 
Die middelpunt van die hele gewelf. 
Hoe weet mens wie waar is, 
wie wat is en hoe ons dan inpas? 



Nietig, ja nietig in die groter geheel, maar tog..... 
Wat sou dit ons kan skeel, as Andromeda vandag sou besluit om 'n miljoen sterre te laat inplof? 
Ons sou op die gouste nooit weet of dit so is, 
ons nageslag sal dalk al vlieg as hulle dit uitvind. 
Ja, vlieg met die vlerke van arende, 
vlieg met die navigasie van vlermuise, 
vlieg, ja.. 
sonder hulp. 

Wie weet wat gebeur nou in die vyfde kwadrant? 
Watter ster het ontplof met 'n slag? 
Watter eerste skeppingsson moes geoffer word 
om die stof te verskaf vir ons ringe, 
ons tande, ons selfone, onsself? 

Waarom moes Nostradamus in raaisels praat? 
Hoekom het da Vinci die vliegmasjien, 
wat hy ontwerp het, nie gebou nie? 
Sekerlik nie omdat hy nie WOU nie.... 

Die een ding volg die ander op, 
jy moet eers die pad bou, 
dan kan jy die perd met die wa laat galop. 
Die nood die roep die saak na vore. 
Noodsaaklikheid van nou 
was onbruikbaar net 'n paar jaar tevore! 

Wanneer is nou defnitief nou NOU? 
Is dit nou in Andromi-land, 
al weet ons nie vir miljoene jare of dit ooit nog bestaan aldaar? 
Of is dit netnou maar net gister, 
toe die Stegosaurus flussies dalk moes koes 
vir die ou boelie, Tyrannosaurus Rex? 

So hoe beduidend is een mens se hede en verlede, 
al behels dit ook dan twee? 
Sou dit verskil maak as die ene 
dalk met 'n effense behelsing 
'n ander se omhelsing opgehel het? 

Hoe sou ons weet? 
Hoekom moet ons weet 
wat is reg en wats verkeerd? 
Is DIT nie juis die deel wat maak 
dat ons nie heel net diere is nie? 

Was die sondeval nie dalk dan eerder: 
"Die sondeklim" gewees nie? 
Die vloek oor die aarde't dalk net 
die skille van hul oë af laat val. 
Die rede vir "sonde" is dat: die mense, 
as MENS nou verantwoordelikheid 
moet neem vir sy/haar aksies of versuime. 
Daar is nou nie meer verskoning van "Ek't nie geweet nie". 

Ons het verstand, 
ons moet dit nou gebruik 
om die langtermyn implikasies van aksies te beskou 
en VOOR DIE TYD te oordeel 
of dit nou tot voordeel van ons en ons naaste 
en die samelewing in totaal sal wees.. 
Nie net ter bevrediging van kortsigtige 
kort-termyn winste of drange nie....... 

Dus: 
Met kennis en insig kom verantwoordelikheid! 
Gebruik die kennis tot almal se voordeel, 
want miskien is dit in die korttermyn/selfsugtige beskouïng 
wat die "sonde" lê. 

DINK voor jy doen, 
dan sal jy die "Wet" onderhou. 
Die "Wet" is die pad van wedersydse langtermyn voordeel, 
vir die gemeenskap en samelewing, 
nie net een of twee persone nie. 
(Dink ekke.) 

......... Maar dis tog SO lekker om soms net te DOEN, 
SONDER om te DINK! 
(En selfs AS jy dink, 
liewer te besluit om maar eerder 'n bietjie tog te doen 
wat korttermyn bevrediging sal gee, 
want "môre is te laat vir my!"....)

Tuesday, 9 October 2012

Toffie


I think, therefore I am... 
I write, therefore you are... 
Aware of me... 
I am, therefore I think I am. 

Ek skryf dinge, ek onthou dinge, 
ek sukkel om te vergeet... 
Weird, sê julle? 
Ek moet bly wees daaroor! 
Sê julle, ja...

Ek weet dinge, 
dus wonder ek oor ander dinge... 
Hoe dit inmekaarsteek, 
hoekom dinge juis so is en nie sus... 
Dit vreet my tyd op, 
maak my weird in ander se oë. 

Soms word ek verkeerd verstaan, soms reg, 
maar my bedoeling word as sinistêr beskou, 
terwyl ek dit nie bewustelik in daardie lig sou beskou.  
So? 
Is ek inherent verkeerd aanmekaargeskroef? 

Is daar nog ander wat so is? 
Moet wees! 
MAAR... 
Die andere soos ek, 
sal dalk nie dìe soos ek waardeer nie. 

Ons is miskien nie heel te mal so mal oor onsself as wat ons dink ander oor ons behoort te wees nie. 
EN: 
AS ek dan nou iemand kry wat mal is oor my, 
sal ek so mal wees oor haar? 
Of is die lewe se doel om ons nie te bevredig nie, 
sodat ons altyd iets het om na te hunker, 
gedeeltelik ingelig, 
meestal deurmekaar? 

Ek draai stadig weg, 
soos 'n appel wat in toffie dryf. 
Ek draai om, 
probeer dit wat agter lê agter los. 
Vir my is dit pynlik, moeilik, hartseer. 
Ek is 'n versamelaar, 'n opgaarder, 
'n nie-weggooier. 

So is dit dieselfde in verhoudings. 
Ek sukkel om iets agter my te plaas. 
Ek verstaan nie mooi die manier van die konvensionele nie, 
die "soek 'n fout en blameer die ander een vir altyd" nie. 
Ek onthou die goeie, die lekker, 
die saamwees, die lag, die plesier.. 

Die sleg, die onaanpasbaarheid verdwyn. 
Seker maar goed almal is nie soos ek nie, 
dan sou sekere dinge nie kon eindig nie, 
nie kon plekmaak vir iets beters nie.... 

Tog.... 
Ek dink sekere mense maak voortydige besluite en hou daarby ten koste van hulself. 
Dit is egter 'n redelik simplistiese, 
subjektiewe mening van 'n redelike selfsugtige sterfling.... 

Ekke, 
net nog een van die oorspronklike gekke, 
een van die Peter Pan's.... 
Nog 'n middeljarige man wat verkies om nie oud te word nie. 
Nog 'n paar dinge te doen voor die jongeres hom onttroon. 
Gelukkig dink ek, kan ek nog 'n paar dinge doen.... 

Maar die enigste ware waarde in die gesprek, 
is dat ek wel weet dat tyd nie stilstaan nie, 
dat ek uiteindelik sal moet oorgee aan die pad van alle stoflike goed: 
veroudering, verswakking, verdwerging, verplooïng, 
die dood... 

Solank ek bewus is 
van die verloop van tyd, 
van die ware stand van sake, 
is daar sekerlik nie skade 
in die drink uit die fontein van die lewe nie... 
solank daar nog vog beskikbaar is! 

Monday, 8 October 2012

Hormonale verbale horibalisasie.


Onthou en vergeet.... 
Weerskante van hallo en kom-en-sweet, 
twee kante van dieselfde munt, 
hormoonbeheerde wil-en-het-jy-geweet. 

HET jy dit dan vergeet, is DÍT die punt?
Is dit al rede vir verlange na daardie tyd 
van amper-grootmens-maar-nog-kind?

Emosionele hoerery... 
is dit al wat ek deesdae kry?

Sou ons nie beter daaraan toe wees met net 'n halwe brein nie? 
'n halwe verstand, 'n halwe begrip, 
sonder dieper denke, sonder 'n gewete... 

Die mense in die strate, 
die alkohol-gepekeldes, gomgeplaktes, prefrontaalgelobotomiseerdes... 
hulle is dalk die gelukkiges. 

Geen wroeging oor wat reg-of-verkeerd-is. 
Al die denke-en-gewete uitgeblus. 
Waarom is daar altyd 'n hunkering in my 
na iets wat meer as net BESTAAN is? 

My totaliteit sukkel om die feite te aanvaar: 
'n mens is net 'n hormoongedrewe vleismasjien. 

Die brein, die lyf, die hart.... 
Alles net eilande drywend in 'n poel van swart.. 
Tyd genees, 
maar tyd vlieg net as jy kan vrolik wees! 
So die ergste tyd is relatiwiteit, 
verhoudingstyd, hersteltyd. 
As die ander een teen ligspoed by jou verbyskiet... 
en jy, 
herstelgebonde, dopamiengestremd, 
moet wag om reggemaak te word. 
Jou tenk hervul te kry, 
die balans in jou brein weer reg te kry. 
Dalk is dit die regte tyd om stil te sit en dink, 
te wag, te kyk, te peins. 
Soms is dit nie so lank nie, 
soms is die brein se -ienfabriek op 'n dubbelskof, 
soms op 'n sloerstaking.  
As ek dus lank genoeg geduldig is, 
sal die af-gevoel my wel verlaat. 

Dis insig wat mens rustig maak, 
my laat aanvaar dat ek moet wag. 
Adrenalien kan dalk my dag 'n kickstart gee, 
maar in die vleesgebonde heelal sal ek dubbeld moet betaal. 
Rente op rente vir spoed wat geleen word, 
dubbeld die tyd tot stabiliteit weer die hormoonbelans herstel. 
As jy inmeng moet jy aanhou inmeng. 
Alkohol en koffie, liefde en haat, 
emosionele wipwa gooi jou vir seker af. 
Niemand kan vir ewig op 'n trapmeul hol, 
sonder om te eet, te drink, te jol. 
Niemand kan net jol nie, 
niemand kan net hol nie. 

Al dink ons ons is hierdie super dinkmasien, 
is ons liggaamsfunksies onderhewig aan 'n chemiese refrein: 
adrenalien, insulien, testosteroon, progesteroon, estrogeen, serotanien, dopamien. 
Ons is net die dansers, volg die ritme aanmekaar...
die hormone slaan kitaar.  

Wat is ooit werklik "werklik" in mens se  emosionele lewe? 
Dis nie tasbaar of meetbaar nie, dis nie eksak nie. 
Daar is geen werklike regte en verkeerde antwoorde nie. 
Mens kan wakker word met trane in jou oë.. 
Jy kon gehuil het in die paar sekondes voor jy wakker skrik!
Snaaks dat dit jou inderwaarheid dan beter kan laat voel. 
Selfs trane het 'n goeie doel, 
'n manier om jou siel skoon te spoel, 
jou as't ware te vernuwe, 
jou vrese en swaarkry te kan agterlaat. 
Om te huil laat jou emosies as't ware weer balanseer, 
jy reset jou bias, 
alles begin weer op die verstekverstellings: 
Op nul.. 
Plus 0 minus 0, neutraal. 

Nou is jy reg vir die volgende maand, 
die uit balans hormone weer almal op hul plekke, 
regte vlakke weer gevind. 
Miskien is snot en trane baie onderskat! 

Ek het dit nodig gehad, 
maar ons mans huil mos nie sommer nie... 
Maar die brein se onderbewussyn weet wat ons benodig vir oorlewing...  
seker die dat ek die droom moes hê oor Altzheimers en vertroosting!  

Tuesday, 2 October 2012

Wat jy sien: Sig of Insig? Wat jy hoor: Klank of kennis?



As ek na 'n foto, skildery of  ander prentjie kyk, nee staar...
Dan wonder ek wat sien ek daar.
Eienaardig dat 'n mens se brein en nie sy oë nie,
die ware sienwerk doen.

So as ek staar dan sien ek net wat ek WIL sien.  
So as ek dan nou hiperkrities hier wil wees:
Ek sien as't ware net my brein se eie interpretasie van die beeld,
die kunstenaar se lyne, in skakerings van blou,
die skilder se kleure in vorms van onthou.     

Dalk 'n dieper spieël,
'n emosioneel-getinte tonnel,
'n doolhof waar die fotograaf of skilder op die doek, die pad ontwerp om aan die kykersbrein
'n ervaringsreis na 'n ongekaarte binneplek te wys.
Nie net na binne in die kunstenaar se brein,
maar ook na die groter universele bewussyn.
Die vorms en skakerings van die beelde op die medium,
die interaksie met die kyker...
Elkeen sien iets bietjie anders, dalk iets effens ryker..  
Realiteit getint met nostalgie, intrige,
entosiasme,
ander dalk met simpatie, met empatie, of apatie..
agressie, liefde, haat, verbasing, lis..
Of af en toe 'n bietjie van 'n mengelmoes van alles saam geklits.

As die kunst'naar sou kon regkry om die kyker weer 'n tweede maal t'laat kyk,
het hy of sy dit reggekry om die aanskouer te laat dink.
Die sien is nie die ding nie,
die raaksien van die ding,
dit is die ware sien, die sin.
Die sintuig dien die sin, die brein,
die denke,
DIT is waar die ware sien-ervaring lê.
So interaksie van die kunst'naar en die kyk-naar is die kop'ling van die menswees-ding.

So wat sou mens sê,
wat sou in die skrywer of die digters' brein gebeur?
Kan jy sien wat jy wil sien,
of is dit wat nou geskrif staan in die klip of ink,
net wat die skrywer voorgee wat hy dink?
Dalk is dit wat agter daardie aksie is, juis die woord wat NIE geskryf is nie, wat die waarheid skyn te wees..
Wys hy/sy/dit dalk net wat hul wil hê wat jy moet sien?
Of dalk in 'n ander atmosfeer,
nog 'n donker eggo weer,
nog 'n spieëlbeeld van wat reeds die subjektiewe brein bedien?

So ontvou die psige,
openbaar in diepte die intrige
van die kunste-toornaar en sy/haar blykbaar nou gemesmeraaisde kyker-leser-denker: 
Vasgevang in interaksie van die dink-en-sien-ding/
sien-en-dinkding 
en die reis na ondervinding.