Showing posts with label Duwweltjies. Show all posts
Showing posts with label Duwweltjies. Show all posts

Monday, 13 May 2013

XX (Soos in genetika)


Duisend vlinders fladder oor jou vel,
skalkse glimlag in jou oë,
lippe rooi,
hemels mooi teen spierwit gebit,
maar agter dit,

skuil 'n tong uit die hel!

Sunday, 14 October 2012

Sonde-val / -klim


Ek kyk na die sterre op 'n helder koue aand soos vanaand, 
ek dink: 
hmmmm, oulike liggies nè? 
Inderdaad! Sou ek sê.. 
Tot mens mooi kyk en dink wat daaragter lê. 

Elkeen 'n son, elkeen 'n vlam, 
helder en gloeiend, sommige reeds uitgebrand, 
die NOU en HOE van ons nietige self: 
Onbeduidend.. 
Dog vir ONS en dìe òm ons: 
Die middelpunt van die hele gewelf. 
Hoe weet mens wie waar is, 
wie wat is en hoe ons dan inpas? 



Nietig, ja nietig in die groter geheel, maar tog..... 
Wat sou dit ons kan skeel, as Andromeda vandag sou besluit om 'n miljoen sterre te laat inplof? 
Ons sou op die gouste nooit weet of dit so is, 
ons nageslag sal dalk al vlieg as hulle dit uitvind. 
Ja, vlieg met die vlerke van arende, 
vlieg met die navigasie van vlermuise, 
vlieg, ja.. 
sonder hulp. 

Wie weet wat gebeur nou in die vyfde kwadrant? 
Watter ster het ontplof met 'n slag? 
Watter eerste skeppingsson moes geoffer word 
om die stof te verskaf vir ons ringe, 
ons tande, ons selfone, onsself? 

Waarom moes Nostradamus in raaisels praat? 
Hoekom het da Vinci die vliegmasjien, 
wat hy ontwerp het, nie gebou nie? 
Sekerlik nie omdat hy nie WOU nie.... 

Die een ding volg die ander op, 
jy moet eers die pad bou, 
dan kan jy die perd met die wa laat galop. 
Die nood die roep die saak na vore. 
Noodsaaklikheid van nou 
was onbruikbaar net 'n paar jaar tevore! 

Wanneer is nou defnitief nou NOU? 
Is dit nou in Andromi-land, 
al weet ons nie vir miljoene jare of dit ooit nog bestaan aldaar? 
Of is dit netnou maar net gister, 
toe die Stegosaurus flussies dalk moes koes 
vir die ou boelie, Tyrannosaurus Rex? 

So hoe beduidend is een mens se hede en verlede, 
al behels dit ook dan twee? 
Sou dit verskil maak as die ene 
dalk met 'n effense behelsing 
'n ander se omhelsing opgehel het? 

Hoe sou ons weet? 
Hoekom moet ons weet 
wat is reg en wats verkeerd? 
Is DIT nie juis die deel wat maak 
dat ons nie heel net diere is nie? 

Was die sondeval nie dalk dan eerder: 
"Die sondeklim" gewees nie? 
Die vloek oor die aarde't dalk net 
die skille van hul oë af laat val. 
Die rede vir "sonde" is dat: die mense, 
as MENS nou verantwoordelikheid 
moet neem vir sy/haar aksies of versuime. 
Daar is nou nie meer verskoning van "Ek't nie geweet nie". 

Ons het verstand, 
ons moet dit nou gebruik 
om die langtermyn implikasies van aksies te beskou 
en VOOR DIE TYD te oordeel 
of dit nou tot voordeel van ons en ons naaste 
en die samelewing in totaal sal wees.. 
Nie net ter bevrediging van kortsigtige 
kort-termyn winste of drange nie....... 

Dus: 
Met kennis en insig kom verantwoordelikheid! 
Gebruik die kennis tot almal se voordeel, 
want miskien is dit in die korttermyn/selfsugtige beskouïng 
wat die "sonde" lê. 

DINK voor jy doen, 
dan sal jy die "Wet" onderhou. 
Die "Wet" is die pad van wedersydse langtermyn voordeel, 
vir die gemeenskap en samelewing, 
nie net een of twee persone nie. 
(Dink ekke.) 

......... Maar dis tog SO lekker om soms net te DOEN, 
SONDER om te DINK! 
(En selfs AS jy dink, 
liewer te besluit om maar eerder 'n bietjie tog te doen 
wat korttermyn bevrediging sal gee, 
want "môre is te laat vir my!"....)

Saturday, 6 October 2012

Maanskyn en Jasmyn in B# mineur


Eenuur! 
Die swart swaan swem stemloos deur die kobaltblou melkweg, 
die oppervlak onversteur, 
hoewel sy koue voete vir 'n vale onder die spieëlbeeld die water derigeer. 

Daars skaars 'n rimpeling in die poel
wyl ek die bloed van my hande afspoel.. 

Net die maan as getuie teen die westerkim: 
'n halwe lemoen, 
oranje gloed gevries 
in 'n tydknyptang, 
tussen vlieswolke met sagte tande 
en onopsigtelike rotasie 
van ons planeet wat die versapwerk doen. 

Stukkende koppe van bokke 
in die skerp wit lig, 
as die skoot klap, 
klaar vergeet.

Slegs die realiteitstoets bevestig: 
Die soet geur van muskus in die pronk,
bly kleef aan my hande 
soos 'n Lady McBeth-kol-gedagtetronk.






Sunday, 8 July 2012

I Don't need you anymore




Do you believe in love after love? 
As ek myself toelaat, kan die vrolike melodie van 'n lekker song my opbeur.... 
Die triek is om dit toe te laat! 
Om jou gedagtes te laat swerf...
van waar dit in die doldrums rondploeter, 
na waar jy "happy go lucky" was toe jy die liedjie op 'n plek en tydstip gehoor het. 

Dink aan die meisie wat saam met jou gedans het, 
jou met groot oë die heel aand dopgehou het. 
Saam met jou gelag het. 
Saam met jou huistoe gegaan het, 
die donker spoke verdryf het, 
jou vir 'n wyle laat glo het daars 'n doel met jou. 
Jou op die berg laat staan het en jou die uitsig oor die vallei laat beskou het. 
Jou wysgemaak het daar lê iets beters agter die volgende bult. 

Die blitsfoto in jou brein van die spontane glimlag.. voordat dit deur die bewuste,
berekende denke afgebreek, 
oorbelig, oorgeanaliseer is, 
totdat die enigste blywende antwoord 'n leuen is. 

Voordat die emosies verban is, 
verbied is, onwettig verklaar is.... 
Sodat jy, realis, idialis, 
jouself kon oortuig dat die enigste uitweg is 
om op te tree as pragmatis. 
Seker te maak dat hy weg is. 
Verban is.  Doodgeswyg is. 
Is jy seker dat dit al uitweg is? 
Dat dit die ware jy is, wat die besluitnemer is..... 
Dit wat uitgebrand is in jou brein, 
kan nie wat ingeëts is in MY brein, 
uitwis nie... 

Daardie onbeskermde, onbewaakte oomblik 
is in die rotswande van my grysstof uitgebeitel. 
Jy kan sê wat jy wil, 
jy kan doen wat jy wil, 
ontken, onteien, ontsien,
ontsnap van die waarheid kan jy nie! 
Vir daardie nanosekonde was jy bly.. 
om my te sien! 
Was dit net jou eie Narcistiese motivering: 
"Ek kan hom nog steeds naderlok"? 
Was dit net om my soos 'n Medusa-slagoffer 
te laat versteen?
My in die laning van jou klipstandbeeldtrofeë
te laat staan?  
Dalk is dit al satisfaksie wat jy kry... 
"Oorwinning!" 
"Hy gee om vir my".... 

Die skoen is nou aan die ander voet, 
EK het die mag, EK sal die mans verkrag! 
EK sal hul harte vertrap, hul goedheid verwerp, 
hul attensies verdraai, hul skerpte verstomp, 
hul insig verblind, hul emosies vermorsel. 
EK is die wenner! So lyk ek: 

Hosanna, Susteranna!    
Ek gee nie om dat ek eensaam is, 
solank as wat hulle vernietig is! 
Die enigstes wat ek verdra, 
is die wat my attensies omseil, 
my kloue ontwyk, my uitnodigings ontkom... 
Ek sal werk aan hom, tot hy val vir my.... 
Dan sal ek mag hê oor hom, 
dan sal EK die terme dikteer, 
ek sal hom dan ignoreer, 
hom laat opkrimp, tot siekwordens frustreer. 
Skaakmat! 
Dis my spel! 
Ek het dit al in die openbaar so gestel, 
dalk is dit al wat wat ek kan bestel. 
Ek kan dit op die mansdom bevel.... 
Die HEL!

Saturday, 7 July 2012

2 U 4 aulde lang sein




Ek dink aan jou, 
al moet ek nie.
Ek skryf aan jou,
al mag ek nie. 


Ek reik na jou,
al weet jy nie.
Dan sien ek jou,
al wou ek nie. 


Ek wonder my oor jou,
al baat dit nie vir my of jou.
Ek treur oor jou,
al traak't nie vir jou. 


Ek wens dat ek,
nog eenmaal weer,
jou stem in my ore kon hoor.
Is jy oortuig ek is sò goor 
en onwenslik dat jy nooit ooit weer  
met my oor iets wil korrespondeer?


Ek wens daar was 'n middeweg,
Maar al my opsies is reeds weg..
Jy het voortydig (volgens my) besluit. 
So het jy my vir ewig uitgesluit..?
Is jy seker jy het nie verkeerd besluit ? 

Tuesday, 29 May 2012

Ek sien wat jy sê


Ek sien wat jy doen..
Wat jy woordeloos sê:
Die fotos  vertel dit soos jy dit wil hê:
Die stories wat jy NIE wil,
of kan verwoord.
Jy sê dit met beelde, 
jy dink jy kan dit 
wat binnekant sit,
sò in die venster vertoon, 
sodat  dìt wat gesien word, 
nie die geheime verklap 
van wat werklik 
in die binnekamers 
van jou hart bly woon. 


Ek wys nie die prente 
wat in my brein opbou, 
aan jou en ander nie.  
Want...
Dit mag dalk net 
my Achillieshiel aan 'n swaard ontbloot. 
Dus... 
skryf ek 
metafore en rympies 
om my gedagtespore te versteek.. 


Ek spring van klip tot klip 
om my pad te verdoesel. 
My ware doel en rigting 
word keer op keer gekamoefleer. 
Tog doen ek dit so, 
sodat ek weet.... 
Of dalk net vermoed, 
dat jy nie sal verdwaal, 
ek nie sal verdwyn. 
Die enigste pad na buite
is nie die maklikste een, 
nee, dis meestal die een van pyn. 


Kom of gaan, 
ons paaie moet kruis, 
selfs al sit een van ons 
langs die stroom van die tyd 
en wag dat die lewenswater 
moet afloop, 'n jaar, 'n uur, 'n week?
die vloed moet verdwyn, 
die klippe verskyn,
so word die drif 
dan droogvoets oorgesteek. 
Sal dit jou toelaat om als wat jy dink 
agter die dubbel gordyn 
van jou kulkunstenaarskas 
te versteek? 


Jou woorde verraai jou binneste siel... 
te kwesbaar, besluit jy...
sal  dit eerder onder die maatemmer 
van die kamerabeeld wegsteek. 
So kan jy... 
die feite en fiksie 
aan ander se oordeel oorlaat.  
Vasgevang in die oomblik van hul selfgeskepte realiteit, wat hul verlei
in die doolhof van die geheue se warboel. 
Jou eie binneste gekamoefleer,  
oorbelig, verdof, ontfokus, verdoesel,
in die oopte van 'n ander se gedagte en gevoel.... 

Tuesday, 22 May 2012

Die reis na binne


Woorde dis/sek/teer die denke...
Die muse sê dat woorde: 
"onvolmaakte meganismes" is
om denke mee korrek te merk,
maar watse ander opsies het ek dan, 
om mee die siel te onderspan ?

Die skalpel sny net deur die spier. 
Die denke split die redenasie hier. 
Om by die doel van die gesegde uit te kom, 
moet jy 'n baie spits wig bekom. 
Jy moet as't ware soos 'n beiteltjie (van Van Wyk Louw), 
die rots kan breek, om hou vir hou, 
die weggesteekte waarheid uit te grou. 

Om dit te doen, sal jy my ou, 
moet slyp en slyp aan hierdie klou van jou! 
Jy sal moet vlymskerp wees as jy 
agter die kap van hierdie blink byl wil kom!

Die atoom se split kom wel vanuit 
die diepste binneste  bousteenkerne. 
Die absolute swaarste, 
ongebalanseerde ene, 
wil vanuit sy elektron vel bars en twee word, 
dalk nog meer word..

So dink ek ook is woorde wat die siel omring soos pantserpak. 
Soms swaar gelaai met goud, soms nie. 
So: mens moet eers die erts kan breek 
voor waarde tog sy kop uitsteek. 
Vir diamant en diatoom, 
geen raakpunt, dink jy, nè, my oom?

Tog moet die wortel van die woord 
jou wel vertel waar elkeen hoort. 
En as jy dan nog verder delf, 
Vind jy wel die ander helf. 
Die een wat sê hoe't als begin,
hoe als by alles hoort, hoe maak dit sin. 

Ek spring van klip tot klip sien jy, 
maar af en toe dan spat daar bietjie vog op my. 
Die water maak my voete nat, 
maar as ek aan my oë vat, 
dan kry ek soms ook daai gevoel.. 

Dis snaaks, die water wat van binne kom, 
my oë smeer, word meer en meer. 
Dit maak 'n poel. 
Dit maak 'n traan. 
Dit val van oog na wang, 
tot waar ek staan. 

Die water wat van buite kom, 
maak soms tog ook  die oë nat, 
maar nooit maak dit sò in die hart. 

Die hart pomp bloed, maar ook veel meer.. 
dit pomp ook somtyds iets heel swart. 
Ek hoor hul noem dit smart, my hart, 
maar díe verstaan ek, kan mens keer. 

Ek spring van klip tot klip, my hart. 
Die hart pomp swart
Die hart pomp smart
Die beste ding vir smart, my hart,
is hierdie swaar swart swaard, my hart. 
Sy punt is skerp, sy punt is spits
Dit sny, dit steek, dit kuur soos blits , 
die sweer, die seer, 
die weer probeer. 

So sien ek weer die spring, 
die sprong, die swiep van leer. 
Die sweep die klap, die pyn word meer, 
maar weer en weer kan ek nie keer.. 
Die brein het nou sy eie pad 
na hierdie dieper saak gevat.. 
My vingers tik, my voete spring 
van klip tot klip, ek word gedwing! 
Die een woord lei tot tweede een. 
Ek gly, ek val, ek skraap my skeen. 

En wat sou jy: die een wat ween, 
wou sê oor hierdie kruppel been? 
Sal ek ooit weer kan dans met een? 
Sal ek net val en weer versteen? 
So sien jy nou, my nommer een? 
Ons loop maar so..  so een vir een..  

Ook soms kan ek 
die agterste-na-voorste woorde trek. 
Die sin verkort, in plaas van rek. 
Ek lees iets in 'n selfgesprek, 
ek maak dan weer vir my 'n nuwe hek. 
Ek sny en kap, ek split en boor, 
ek spin die woorde oor en oor.
Ek maal dit fyn in my verstand
tot ek die regte klanke hoor. 
Ek sif dit uit, ek pak dit reg, 
totdat ek al die allerlaaste fyn fyn klei 
van daardie woordboustene uit kan kry. 

Ek meet en pas, ek spoeg en plak, 
tot ek dan weer die woorde kry, 
wat jy, (so dink ek) 
eerder sou wou weg laat bly. 

Ek sny, ek kap, ek timmer meer, 
tot heel my kop aanhou vibreer. 
Ek bou, ek werk, ek sweis weer vas, 
tot dit wat was weer waarheid pas. 

Hoe kom mens by die waarheid uit, 
as al die ander anders wil besluit? 
Jy grou, jy krap, jy soek 'n draad... 
'n los ou garingtjie, 'n noot, sy maat.. 
So volg die simfonie uit een, uit twee, uit drienootmaat. 

Al hierdie ingewikkelde, aangrypende melodië, 
is saamgestel uit ene, tweë, drieë, 
nie uit losstaande woorde, 
maar wel uit simbiotiese akkoorde. 

Soos 'n reis van duisend myl 
begin met net een tree, 
so werk die pad na die verborge binneweë.  
Jy moet net eers vir jouself kan sê: 
Aangename kennis! 
Voordat jy jouself kan ken, 
moet jy WEET dat jy kan wen. 
Die begin begin net met net een tree, 
en daarna gaan dit tree vir tree... 

Monday, 23 April 2012

History


Is history the tale of the land? The earth, the taming or not of nature?
Or is it the tale of the people, the path of genetics of the inhabitants of the land?


The Britons pride themselves on heroes that are actually not their kin. The inhabitants of modern Britain are mostly NOT the descendants of Boudeca or, as she used to be known by the Latin influenced Victorians: Boudecea. Neither is the legendary king Arthur close family to any Englishman walking on the fields of Twickenham. He would probably be more comfortable in Wales or even Cork in Ireland. Aye, there his kinsman be. 


Today's Englishman's closest relatives probably lives in Germany and Denmark. Deutchland über alles may actually be cut into the stone hearts of Queen and country by the double helix that define every mans' soul! 
Be it Peter, John or Paul. Cousins to Hans and Otto. 
Not to Gwyneth and Hamish. 

Sunday, 22 April 2012

Lewe en dood ..tegelyk en apart.


Ek wonder soms... As die kat in die doos dan nou tegelykertyd lewe en dood is, wat is die storie as mens iets uit die verlede herleef met iemand wat al dood is? Leef die mens vir daardie oomblikke vir jou? 


Ek dink nogal baie aan ou Schalk. Hy was 'n besonderse ou. Ons het op 'n snaakse manier vriende geword, tog het ons deur die jare 'n besonderse band gehad. Ek het hom nie so dikwels gesien nie, maar ons het elke keer wat ons gesels het, gekliek. Hy was nooit 'n ou met slegte bedoelings nie. Nie wat ek ooit kon agterkom nie. Vir my is dit maar nog steeds asof hy nog leef, ek het hom net lanklaas gesien.... 


Snaaks genoeg was die laaste gesprek wat ek met hom gehad het, oor ouderdom en die dood. Hy het gesê hy gaan 150 jaar oud word, want in die ou dae, voor die mense van beter geweet het en nie so goed kon tel nie, het hulle baie ouer geword.... It's all in the mind, het hy gesê.... Hy het net nie rekening gehou met 'n fratsongeluk met 'n trekker nie. 

Thursday, 19 April 2012

Wat om te sê en wat om te los...

Soms is die moeilikste nie wat om te skryf nie, maar wat om NIE te skryf nie...
Dit is seker waar vir alles wat mens op skrif stel, maar as mens probeer dig, is dit dalk meer so.
Sommige gedagtes klink goed in jou kop, maar wil nie so goed in woorde vloei nie. Tog wil dit vir my voorkom asof ek dit moet skryf... as 'n proeflopie, dan kom die regte woorde later.
Soms moet mens sekere gedagtes later heel uithaal, soms kan mens dit op 'n ander plek inlas waar dit beter pas. Meestal kom die beste/ beter /regte woord eers heelwat later na mens toe aangedryf. Soos 'n boodskap in 'n bottel wat jy toevallig op die strand optel... Maar jy sou nie die boodskap gekry het as jy nie op die strand gaan loop het nie! Dalk sou jy nie op die strand gaan loop het as jy nie vir die boodskap gesoek het nie...


Dit lyk soms vir my asof skryf sy eie wil het, sodra mens begin, is dit soos 'n waterstroompie wat begin vloei en dan sy eie pad deur die grond sny. Soos dit vloei, word die pad langer, maar solank as wat die water aanhou loop, so lank hou die stroompie aan vloei! Die rigting en grootte was nie vooraf bepaal nie, maar word besluit deur die terrein waardeur dit loop. Die lengte en breedte van die pad wat dit loop word weer bepaal deur die hoeveelheid water wat ingesit word en die tydsduur wat die water loop, so met skryfwerk, soos ook in meeste ander dinge in die lewe word die uitset deur die hoeveelheid werk en werktempo bepaal, maar die rigting word deur die omgewing en ander mense bepaal...


In die versies wat ek op skrif stel, is die onderwerp soms nie vir my duidelik nie, maar dit gaan in 'n rigting van hul eie. As ek egter dit nie neerskryf nie, sal daar niks gebeur nie, niks vordering wees nie. 
Ek weet nie of dit goeie leesstof is en of mense dalk net eenkeer na dit kyk en nie weer terugkom nie. Uiteindelik is die toets van kwaliteit seker nie noodwendig in die ander mense se oordeel nie, maar in mens se eie opinie...
Dit sou egter lekker gewees het om 'n mate van terugvoer te kry van iemand wat dit lees om te weet of dit darem aan iemand 'n mate van plesier verskaf. (of dan in 'n groot mate irriteer) 
Met 'n poging tot digkuns is dit dubbeld so moeilik as met prosa. Eerstens is dit die idee, dan nog die rym en ritme. Soms kan "goeie" rym infantiel wees, te min rym weer te prosa-agtig... Ek voel dat gedwonge rym nie goeie rym is nie. Of ek reg is, weet ek nie. Ek het nie formele skryfopleiding gehad nie, weet net wat lees lekker en wat nie. Vir my is die ritme in 'n gedig soortvan meer belangrik as die rym. Die ritme is wat dit lekker laat lees, laat vloei. Wat dit onderskei van gewone prosa. As mens aan 'n goeie popliedjie dink, is dit die ritme wat dit goed maak, die klanke, nie noodwendig die rym in die lied nie. Die toonsetting skep die luim van die lied, maar dit is die ritme wat die lied laat vloei, dit in jou kop laat vassteek. Dit maak die verskil tussen "swaar" musiek wat moeilik op die oor is en vloeiende musiek wat aangenaam is om na te luister. Ek praat nie hier per sè van die "doef doef" ritme nie, maar van die algemene vloei en dansbaarheid van die musiek. Volgens my moet mens op 'n gedig kan dans... al verander die toonhoogte nie, die ritme moet jou toelaat om te kan sweef, te kan draai, saam met iemand te kan dip sonder dat die kompleksiteit jou oor jou voete laat val. Dit kan vinniger en stadiger beweeg deur die gedig, maar dit moet nie onverhoeds spring nie, die aanpassing moet voorspelbaar en interressant wees.
So dink ek...


Dalk skryf ek nou net 'n klomp snert! As iemand saamstem, of verskil, of net 'n inset wil lewer, doen dit!

Wednesday, 11 April 2012

Vyf dinge / koördinate...


Where did all the flowers go?
Long time passing...
Where did all the flowers go,
Long time ago?

Soms moet mens stop en op jou spore terugloop. Ek weet dat die meul nooit weer sal maal met die water wat verby is nie, maar êrens langs die pad verloor mens soms dinge van waarde. Nie net gewere en gereedskap wat gesteel word nie. Nie net karre teen klippe en lamppale nie, maar oomblikke, gedagtes, tyd, verhoudings, vriende, kennisse, geleenthede, plekke, name, vorms, dade. 
Hoe definieer mens 'n oomblik? 'n Spesifieke punt in die vier, nee vyf koördinate van bewussyn? 

Vyf? Sê jy? Hoekom vyf? 
Salomo het Agur aangehaal: 
Daar is drie, nee vier dinge wat sy verstand te bowe gaan:
Hoe 'n aasvoël in die lug bly, 
hoe 'n slang teen 'n rots op seil, 
hoe 'n skip op die diepsee vaar 
en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk.

Dìe dinge is dalk deesdae op wetenskaplike vlak vir ons meer bekend in werking , maar nie op intuïtiewe vlak nie. Wel, dit is eintlik nou weer van die pad af. 
Die vyf koördinate wat ek van praat is eintlik die 3 van ruimte, (x;y;z), oftewel lengte, hoogte en breedte, tyd, (T) en dan bewussyn van iemand spesifiek. Ek wonder of dit dan nie nog meer as 5 is nie, want elke persoon wat betrokke is, se persepsie is anders, so dit moet afsonderlik genoem/gedefinieer word. 
(Hoewel mens altyd die saak wil vereenvoudig en aanneem dat ons eie siening 'n universele waarheid is, is dit nie so nie.) 

Elke betrokkene by 'n situasie sien dit op 'n unieke manier. Dit is waarskynlik selfs verskillend vir elke "objektiewe" waarnemer wat die saak/gebeure van buite af beskou. Maak nie saak hoe objektief/wetenskaplik ons dink ons is nie, waarneming word altyd gesien uit 'n sekere perspektief. Dit verskil van persoon tot persoon, asook binne 'n persoon oor 'n tydperk. Elkeen van ons se persepsie is met vooroordeel besoedel.... Dit is ook goed so, want dit wys dat ons as mense deur tyd dinge leer en sodoende ons gedrag/waarneming/opinies verander soos wat die lewe ons vorm. Die aanpasbaarheid maak dat ons kan oorleef in 'n veranderende wêreld. Dit is ongelukkig ook die grootste struikelblok in vordering om nuwe feite/uitvindings te aanvaar. Dieselfde "goeie" eienskap wat keer dat ons oor en oor dieselfde foute maak, verhinder ons om soms net NOG 'n keer te probeer! 
(Hoewel ek êrens gelees het dat waansin gedefineer word as om dieselfde aksie oor en oor te herhaal en dan 'n ander uitkoms te verwag....)

Mense tree op die lang termyn volgens hul sterkste geprogrammeerde oortuigings op.... Dus, volgens hierdie postulaat, sal iemand wat jou in die verlede teleurgestel/sleg behandel het, dit weer doen as jy weer met hom/haar 'n interaksie het. 
Die frekwensie van die onaangename ondervindings is 'n funksie van die tydsduur wat daar interaksie is en die intensiteit van die ongewensde optrede se programmering in die persoon. 

Mense kán egter verander. Seker nie wat inherente persoonlikheid betref nie, maar wel wat slegte gewoontes of skadelike sienings betref. Die beste voorbeeld van so-iets is 'n verslawing wat oorwin word. Die verslaafde wat na 'n tyd te voorskyn kom, nadat die middel sy houvas op hom/haar verloor het, is dikwels 'n heel ander mens in sommige kennisse se oë. 

Hoewel dit vir die "droë/skoon" verslaafde voel of hy/sy nog altyd dieselfde mens is, is die beeld wat ander van buite af sien, heel anders. Daar is egter 'n opdraende stryd wat voorlê, nie net om nie weer in die verslawing te verval nie, maar meer nog om die dinge/persoonlikheidstipe/foute/ probleme wat in die eerste instansie tot die verslawing gelei het, te besweer...

Dit bring ons weer by die persepsie van mense en die oordeel/opinie wat hulle oor ander handhaaf. Tot 'n groot mate bepaal mens self wat ander van jou dink. Wat jy doen of sê beïnvloed ongetwyfeld ander se opinie oor jou. Om dit op 'n later stadium te probeer verander is baie moeilik, indien nie onmoontlik nie.
Spreuke sê dat 'n sagte antwoord die grimmigheid afkeer, maar 'n krenkende woord die toorn laat opkom. Dus kan wat ons in 'n onnadenkende oomblik gesê het, 'n vyandskap veroorsaak wat miskien heel voorkombaar was.

Daar is 'n ou Persiese spreekwoord wat lui: (Vertaal in Afrikaans natuurlik.)
"Daar is twee dinge, nee drie, wat nie teruggeroep kan word nie: 
'n pyl, as dit die boog verlaat het;
'n oorhaastige woord, nadat dit gespreek is,
en 'n geleentheid wat nie aangegryp is nie.."

Daar is steeds niks nuuts onder die son nie...

Skisofrenie of verborge denke?


Dit wil vir my voorkom dat daar met skryfwerk soms 'n heel ander persoonlikheid van mense na vore kom. (In vergelyking met mens se verbale/algemene/alledaagse persoonlikheid) 
Ek het deur die jare met mense op verskillende maniere gekommunikeer. As mens iemand persoonlik ken, oor jare, soos familie of goeie vriende, kom mens gewoonlik nie die verskil so maklik agter nie, aangesien die "vlees en bloed" verbale karakter meestal oorheers in mens se psige/ waarneming. Dit mag ook moontlik wees dat, omdat mens die persoon so goed op 'n persoonlike vlak ken, dat mens nie aandag skenk aan die andersheid van die geskrewe persoonlikheid nie. Die onderbewuste verf soortvan oor die verskille omdat die "reële" in die waarnemer se brein oorheers. 


Dit mag natuurlik ook wees dat 'n persoon se stemtoon 'n ander beeld by mens oproep as wat die skryfstyl doen. Die eerste keer wat ek dit agtergekom het, was toe ek redelik lank met iemand via sms gekorrespondeer het voordat ek met haar oor 'n telefoon gepraat het of 'n foto van haar gesien het. Later het ek beide per sms en telefonies met haar "gesels" en die verskil in persoonlikheid was vir my opmerklik. Dit kon natuurlik haar effense hees stem gewees het, maar ek dink tog dit het meer te doen met die konteks van die gesprekke as die stemtoon. Selfs as daar d.m.v. "Chat" op fb gekommunikeer is, waar sinne heen en weer soos in 'n gesprek verwissel word, was dit vir my opmerklik dat 'n heel ander persona na vore gekom het as wanneer daar oor 'n telefoon gesels is. Ek het die indruk gekry dat die verbale (ware?) karakter heelwat minder gesofistikeerd is as wat dit voorkom in die geskrewe kommunikasie. 


Fisiologies gesproke behoort dit eintlik nie so verbasend te wees nie, aangesien spraak en skrif in verskillende dele van die brein gesetel is. Ons is egter geprogrammeer om 'n ander mens as 'n volledige simplistiese "persoon" wat een amorfe blok "mens" met 'n sekere naam is  te sien i.p.v. 'n komplekse wese met 'n brein waarin 'n magdom alternatiewe persoonlikhede opgesluit is en wat op verskillende vlakke kan funksioneer. 


Êrens het ek iets gelees dat mens verskillende persoonlikheidseienskappe vertoon afhangend met watter hand daar ge-sms word. 


Dit klink ongewoon, maar mens moet tog onthou dat die brein uit twee aparte helftes bestaan wat net deur die hippocampus? Met mekaar kommunikeer. Die linkerkant beheer die regterhand en die regterkant die linkerhand. Dan is dit ook so dat die linker en regterhelftes van die brein ook merendeels verskillende funksies vervul. Wiskundige en kunstige beginsels word in verskillende helftes verwerk en geïnterpreteer. Dus kan die reaksie op sekere vrae wat met die een of die ander hand "getik" word verskil. 


Dit laat my dink dat, as mens in bv. 'n eksamen sukkel met 'n sekere vak, dit moontlik beter sou wees om eerder te tik as te skryf, aangesien albei hande dan gebruik word en die brein dus gedwing word om beide helftes se denke te gebruik. As dit natuurlik vir die persoon moontlik was om met beide hande te skryf, kon hy/sy bloot die podlood/pen in die ander hand gesit het vir verskillende vakke. Ons is egter nie almal so bevoorregd om dit te kan doen nie. 


Ek kan egter agterkom dat dit vir my baie makliker is om my gedagtes "te boekstaaf" op 'n rekenaar of 'n swartbessie waar ek met beide hande kan tik, as wat ek dit met pen in my regterhand op papier kan doen. 


Om te tik, is vir my soos om 'n verbale gesprek in my kop te voer. My hande skryf net die woorde soortvan onwillekeurig neer. Of dit my wiskundige oplossingsvermoë verbeter of verswak, kan ek nie juis sê nie. Ek was nog nie in 'n situasie om dit objektief te toets nie. 

Nog 'n deurmekaar gedagte.


Ek kry soms die indruk dat ek insig in iets of iemand se denke het... Waarskynlik is dit 'n illusie, soos meeste ander Eureka momente in meeste mense se lewens.....


Maar as al die mense dit altyd ignoreer of afmaak as 'n illusie, sou daar nooit enige ontdekkings of nuwe teorië gewees het nie! Al die goeie dinge sou onder die maatemmer van sogenaamde nederigheid versteek gewees het. Vir vordering op enige gebied moet daar mense wees wat in hulself glo, selfs as hulle die enigste persone is wat in hulle of hul idees glo. Nie alle idees is 'n geweldige deurbraak soos die transistor of die wet van swaartekrag of die relatiwiteitsteorie nie, maar daar is in die alledaagse lewe duisende dinge wat 'n verskil maak wat deur gewone mense uitgedink is. 
Dit hoef nie eens 'n fisiese voorwerp of idee te wees nie.... Dit kan iets wees wat vir jou as persoon die lewe beter maak, of selfs jou net in staat stel om beter met ander oor die weg te kom. Idees hoef nie universele waarhede te bevat nie, dit hoef ook nie tydlose aksiomas reg of verkeerd te bewys nie. Dit hoef net vir 'n oomblik vir jou te werk. Iets vir jou duidelik te maak, 'n verskil aan jouself of iemand anders maak. 
Wat wel belangrik is, is dat mens nie 'n idee summier sal verwerp omdat daar mense is wat dink dit sal nie werk nie! Glo in jouself! Daar sal altyd mense wees wat dink jy is arrogant of oningelig of 'n dromer. 
Doen wat jy voel reg is... Moenie jouself vasketting aan konvensie omdat dit is wat die samelewing van jou verwag nie! Soms kan klein dingetjies 'n groot verskil maak. EN... Moet NOOIT opgee nie! Sukses is miskien net om die draai. (Of dalk nog vêr in die verskiet) maak nie saak nie, as jy nie 'n kaartjie koop nie, is jy nie in die trekking nie! 
As jy verkeerd bewys word met 'n teorie, het jy ten minste een, dalk 'n hele klomp ander mense gedwing om oor 'n sekere saak te dink en sodoende bygedra tot die korrekte oplossing! Dus is die vyand van die lewe stagnasie, konformasie, eenstemmigheid, onderdanigheid, aanvaarding. 


"Do not go gentle into that good night, 
rage, rage against the dying of the light...."

Thursday, 22 March 2012

Om 'n polinoom op te los.....


In wiskunde word gesê dat, om 'n probleem met meer as een onbekende op te los, daar vir elke onbekende 'n onafhanklike vergelyking opgestel moet word. Dus, om 'n probleem met n onbekendes 1 eenduidig op te los, moet daar ten minste n vergelykings opgestel word wat onafhanklik waar is... 
Dus: hoe ingewikkelder die probleem, hoe meer onbekendes is daar, hoe meer onbekendes, hoe meer vergelykings moet terselfdertyd opgelos word. 
Tradisioneel word dit dmv matriks notasie en determinante gedoen. Die berekenings word egter baie vinnig baie groot en tydrowend.  Dankie tog dat daar deesdae rekenaars is wat dit redelik vinnig kan oplos!
Soos ek reeds gesê het, hoe meer kompleks die probleem, hoe meer veranderlikes en hoe meer vergelykings en dus is daar ook meer algemene oplossings wat die probleemstelling sal waar maak. 


As mens dieselfde beginsel nou toepas op mense en die moontlike motiverings vir hulle aksies, kom mens agter dat daar 'n byna eindelose hoeveelheid denkpatrone kan wees vir elke besluit. Veral as mens die besluit/resultaat beskou en dan daarvandaan terug moet werk om die motief te probeer ontrafel. Dit is gou duidelik dat die denkpaaie vinnig in 'n delta van kleiner stroompies vertak wat elkeen 'n mate van waarheid bevat. Om dus by die "regte" motief of dan eerder 'n "aanvaarbare" een uit te kom, moet al die moontlikhede een vir een ondersoek word. Selfs dan is dit moontlik dat mens dalk die werklike redes kon misgekyk het. Dit sou kan wees dat mens a.g.v. persoonlike vooroordeel of voorkeure dalk die ware rede geïgnoreer het of nie wou aanvaar nie.... Tog behoort mens by die regte antwoord uit te kom as mens stelselmatig te werk gaan en die sytakke een vir een ondersoek. As mens dan 'n postulaat uit die ander persoon se oogpunt met elke beginpunt as motivering skryf en dit agterna lees en ontleed, kan mens moontlik by die toepaslike waarheid uitkom. 


Die grootste probleem met 'n wiskundige waar/onwaar uitgangspunt by mense en hulle optredes, is dat mense nie altyd rasioneel optree nie. Hulle tree ook nie eens altyd diedelfde op in soortgelyke situasies nie! Mense is kompleks. Dus is meeste van die eenvoudige oplossing waarby mens deur logiese afleiding uitkom, onvolledig en nie-spesifiek. Daar is du s inderwaarheid 'n oneindige aantal werklike moontlike redes vir 'n sekere optrede van 'n persoon.... Dus moet mens altyd oop vir oortuiging wees as mens vir ander se motiewe redes soek. Daar is vele moontlikhede en dus moet mens verskillende opsies oorweeg voordat daar sommer afleidings gemaak word. ;-) 
Van die skrywes wat volg is dalk moontlike oplossings van die algemene probleemstelling van hoe daar geredeneer word, maar is NIE noodwendig die REGTE oplossing van die spesifieke mens se redenasie/motiewe nie........ 

Malicious software?


I had to write about this at some time.. I still don't know if it was a good or a bad thing, all I know is that it dragged me, perhaps not kicking and screaming, into the cyber space of blogging and/or poetry. 
Perhaps I am not the best example of someone who takes responsibility for my actions, but at least I do not change horses in mid stride. Perhaps that is my biggest problem. Always have been. I value(d) emotions and names given to emotions too highly to just say things to people in order to convince them of something so that I can  get what I want from them. 
I have NEVER just told a woman I loved her, not even in a joke, perhaps not even if I loved her more than an alcoholic loved a cold beer on a hot day.... 
So to me the biggest sin would be insincerity. I am not build in that way, so I can not even imagine what would motivate someone to say one thing to someone while you mean/feel something totally different.  
Being the being that I am, I have to explore this motivation of someone to do something that I do not understand or see any reason or necessity for... 
I suppose that maybe I am not inclined to be insincere because I am not incecure. I do not mind people not liking me, but then it should be for the right reason! I can't stand people speaking half-truths and blatant lies about me in order for them to motivate their conduct towards me. I am tactless, but truthful. I don't do insincere compliments. I don't say anything positive I do not mean.... I would rather be inclined to take the Mickey out of people, perhaps even say things that they sometimes take the wrong way thinking I am attacing them, when I am just having a friendly battle of wits/pulling their leg in an awkward way....

Friday, 17 February 2012

Kevlar vir die hart

Ek het 'n probleem.... Ek besit die vermoeë om mense, veral vroumense, geweldig te antagoniseer.


Waarom dit gebeur, is ek nie  heel seker nie, wat ek wel al van hulle gehoor het, is dat ek:
1) "Arrogant" is
2)"Te veel van myself dink"
3)"Nie respek vir hulle het nie."
4)"Boers" is.
????????????
Dit komend van verskeie dames wat eens op 'n tyd heel goed met my oor die weg gekom het!


Dit het my nou al lank aan die dink.... 
Wat is dit in my persoonlikheid wat die reaksie veroorsaak? Ek kan nie sê dat ek kwade bedoelings teenoor enige van hulle gehad het nie. Ek is wel nogal eiewys en tot 'n mate kompeterend, maar ek waardeer goeie eienskappe in vroue. Intelligensie is seker een van die belangrikste eienskappe wat my aangetrokke laat voel teenoor 'n vrou. Selfvertroue is nog een. 
Ek is egter nie juis bekend vir my takt nie. Ek kan soms brutaal eerlik wees en dit is moontlik waar die moeilikheid begin. 


Dit wil vir my voorkom asof sekere mense, veral vroue, dit as 'n belediging beskou as iemand enige kritiek, hoe opbouend dit ookal bedoel was, lewer op hulle doen en late, hul voorkoms of hul familie se modus oprandi.
Ek sê soms dinge impulsief, maar dit is meestal nie met slegte bedoelings nie. Soms gebeur dit dat ek dink dat alles heel goed gaan, net om die volgende oomblik te hoor ek het een of ander onverskoonbare persoonlikheidsfout.


Ek het egter 'n teorie: 
Meeste van die dames wat ek aantreklik vind, het vir hulle hele lewe teen mans gekompeteer en baklei om hulself te laat geld in hulle professionele hoedanighede asook as jong mense in die gesin, aangesien hulle nie die "tipiese vrou/dame/dogter" was of is nie. Hulle is dus gewoond daaraan dat daar altyd vooroordeel teen hulle manier van doen is en dat mans (en veral ook ander vroue) op hulle jaloers is en "teen hulle saamsweer" sodat hulle nie suksesvol sal wees nie! Die aangeleerde verdedigingstegniek van: Maak seker dat jy die eerste hou inkry, of "Ek WEET jy dink ek is dom/verkeerd/dwars/onvroulik" veroorsaak dat hulle op 'n sekere manier optree wat dan enige middeweg onmoontlik maak. Vir hulle is die erkenning van 'n fout of selfs 'n baie effense nalating onmoontlik! Hulle sal eerder skei of moor as om selfondersoekend te wees en te erken dat hulle WEL verkeerd KON gewees het. Hulle glo onwrikbaar in hul eie opinie en eerste (of latere) indrukke. Niks is vir hulle 'n alleenstaande insident of 'n optrede wat deur 'n spesifieke situasie veroorsaak of aangeblaas is nie. Nee, alles is aan alles verbind en een verkeerde aksie van iemand is onvergeefbaar! As die man in hulle lewe of dan iemand anders nog die "arrogansie" het om nie te BESEF dat hy/sy minderwaardig en verkeerd is nie, DAN is dit 'n ewige stryd. 


Die ergste is as die persoon, in die geval ek, dit regkry om deur die pantserpak te dring en insig in die probleem kry. Dan moet ek in die buitenste duisternis uitgewerp word voordat ek dalk NOG 'n swak plek in die mondering kry! (Want dit sal tog net tot haar nadeel aangewend word en haar meer emosionele pyn veroorsaak.) Die grootste probleem is as die vrou besef dat, ten spyte van alle rasionele denke en redenasies, sy besef dat sy my geselskap geniet! DIT mag nie! Want mans kan mos nie net vriende wees nie.... En NOG ERGER, sy kom agter dat sy op 'n dieper vlak tot my aangetrokke voel, ten spyte daarvan dat sy lankal besef (en BESLUIT) het dat ek nie 'n goeie opsie is nie. Veel erger is as sy my tot die verlede verban het en ek weier om die vloek wat oor my uitgespreek is te aanvaar. DIT is onvergeeflik! Dit is nie RESPEKVOL nie! 


Wel, wel, wel, ... "I think respect is overrated" 


Daar moet natuurlik wedersydse respek wees in enige gesonde verhouding, sowel by die werk as in interpersoonlike verhoudings. Die probleem is net dat te veel "respek" sal lei tot afsydigheid en en 'n tekort aan intiemiteit. Mense sal mekaar nooit leer ken nie. 
Hulle sal nie die regte "moeilike" vrae vra nie, hulle sal nie mekaar se seer oopkrap en sorg dat die ontsteking uitgewas kan word sodat genesing kan plaasvind nie. Alles sal formeel en opppervlakkig bly.
Die tekort aan "respek" kan natuurlik pynlik wees. Dit kan veroorsaak dat sekere dinge geopenbaar word wat die persoon nie graag oor wil praat nie. Dit kan die vrees laat ontstaan dat die ander party die inligting as 'n wapen kan gebruik TEEN die een wat dit geopenbaar het, veral as daar op een of ander stadium 'n breuk in die verhouding ontstaan. Die is egter 'n risiko wat mens maar mee moet saamleef as jy werklik 'n vriendskap/verhouding wil hê wat opreg is.


Ek vermoed ek kry dit reg om, sonder dat ek dit weet, 'n lasplek of gapingtjie in die skarnierplekke van die staal wapenrusting te vind. Soos 'n vink wat 'n grassie pluk en dan 'n nes bou deur die grassie behendig te weef en knoop tot dit stewig genoeg is om in te bly... Net in trurat! Ek kry my hand of verstand ingewurm deur die skarniere en kry dan dalk 'n stukkie van die beskermende onderklere in die hande. Dan rafel ek die sorgvuldig gebreide isolasie teen die wêreld stukkie vir stukkie uit, totdat sy dalk eendag besef: Ek staan sonder die pantser! 


Nou is die probleem watter aksie om te neem... 
1)Aanvaar die nuwe mode en loop verder deur die lewe met 'n vriend aan jou sy, sonder die lae en lae isolasie en staal?


2) Slaan my met die naaste beskikbare wapen van woorde en meer, hardloop terug na waar die pantser lê, brei van voor af die isolerende lae en trek dit een vir een aan, al strem dit jou beweging in so 'n mate dat dit die lewe met tye pynlik en soms baie ongemaklik maak?


3) 'N kombinasie van die bogenoemde? Met een kinkel: Ek, die ontkleër, die bevryder, word met die vloek van sensuur geslaan, want dit was "disrespekvol" om haar van die pantserpak te bevry!


Ek het 'n blinde vriend wat soms baie insiggewende dinge kan kwytraak. Hy het vir my gesê: "Om die regte inligting te kan kry, moet jy die regte vrae vra."
Ja, ek weet dit is seker 'n ou stelling wat uit 'n ander oord kom, maar dit was vir my besonder treffend omdat hy vir my die pad na sy blyplek in Johannesburg kon verduidelik sonder dat hy dit ooit gesien het! Hy kon dit doen omdat hy nie toegelaat het dat hy deur allerhande onbenullighede van stryk gebring word nie.
Hy het op die regte plekke vir die regte mense die regte vrae gevra, dus het hy die regte, bruikbare inligting verkry! As mens nie hou van wat jy in die spieël sien nie, moet jy nie die spieël breek nie! Jy moet die regte vrae vra en dan die regte antwoorde op die regte manier toepas! 
Die eerste vraag moet natuurlik wees: "Is die spieël 'n plat vlak in alle rigtings?" Sien ek dus 'n "lewensgetroue" beeld van wat ek wil sien?
DIT is seker een van die moeilikste dinge in enige selfondersoek...


DAAROM moet mens weet wie werklik jou vriende is. Jou vriende is nie diegene wat jou altyd prys en troos nie. Nee, dit is die wat nie skroom om jou te sê as jy nie so reg is as wat jy dink nie! Jy moet egter ook aanvaar dat alles in die lewe soos 'n geslypte diamant uit baie fassette bestaan en dat daar ook dinge is waar in ander mag dink jy is verkeerd, waar jy inderdaad WEL die enigste "regte" een is... 
Onwaarskynlik, maar moontlik! Jy moet dus getrou aan jouself wees en eerlik in jou soeke na die waarheid. 


Dit kan selfs wees dat dit wat ek nou kwytgeraak het totale snert is! 
Die moontlikheid bestaan dat ek dalk 'n arrogante egoïs is. 
Dat ek wel "boers" is en dat ek net vir myself omgee... 
Maar die ander kant van die munt is dat daar ook ander mense is wat aan dieselfde afwykings ly en dit nie wil weet nie! 
Ek dink om "boers" te wees is dalk net 'n gesegde wat iemand wat pretensieus is kan raaksien. 
Dit is in elk geval vir my so 'n misplaaste uitdrukking.. uitgedink deur die Engelse/Britse vroue-en-kindermoordenaars gedurende die Anglo Boere oorlog sodat hulle 'n swak konnotasie aan die Boere kan heg sodat dit vir hulle makliker sou wees om met hulle gewetes te kan saamleef ten spyte van die gruweldade in die konsentrasiekampe. (As hulle hoegenaamd gewetes gehad het)

Thursday, 16 February 2012

21 12 2011 Somer, Son, ... Stilstand

Ek wou vir jou.. 
'n mooi gediggie skryf, 
vir Kersfees  of vir Nuwejaar.... 
Of dalk vir as jy weer verjaar, 
maar net betyds het ek onthou, 
dis mos deserdae half tabou!  


Gif is gif en slang bly slang. 
Hoe kon ek dink dat jy na so-iets kan verlang? 
Al wat deesdae baat vir jou, 
is jou kamera en die howe! 


Al die ander goed (en beter, beste) 
gaan mos jou verstand te bowe..


So hier is iets wat wel iets is, 
nie soos Nuwejaar wat kamma is..
Middernag vannag (en dis nie vir 'n dromer) 
is dit die middelpunt van somer!


Nie sommer so 'n dag dus nie, 
'n regte einde en begin, 
van 'n nuwe siklus, meetbaar in 
die tydperk van 2 pi radiaal...
presies een omwenteling 
van ons planeet se wenteling 
om ons ou ster, 
ons eie  waterstofbomson. 


Geniet dit dus, 
geniet die rus, 
geniet die weer begin...

Ek hoop jy is gesond,
reis dalk rond en bont,  
sal tyd en plek genoeg ook  hê
om besonderse fotos vas te lê...

Ek hoop dat hierdie wense nie 
weer sondermeer 
soos 'n ander keer,
jou  verstand te bowe gaan nie. 


Daar is 'n doel in my dwaling
so dink ek as ek dig
al word ek beskou as dig
deur die vir wie ek dig...
Ek hoop sonder hoop
ek word nie hopeloos en digter
as die mense vir wie ek dig...
Nou wonder ek:
maak dìe gedig 
van MY 'n digter?