Showing posts with label Pretensieuse Rympies. Show all posts
Showing posts with label Pretensieuse Rympies. Show all posts

Thursday, 28 February 2013

Wie kom met die sekelmaan?



'n Sekel uit die bronstydperk
sweef glansend oor die oosterkim.
Oestyd vir die laaste van die oorryp-wintergraan?
Of dalk die sens van vader tyd?
Die swartgeklede een,
sy mantel verberg die doods-skedelbeen...

Die sekelmaan verhelder silhoëtte van
olienhoutboom en besembos
in rantjies van die valskaroo,

Twedehandse lig weerkaats,
(soos die wat rokende binnevet-lampe los),
op slym en modderwater,
in die kuile van die vlei
en die laaste bietjie vog
in die vlakte van die modderdam,
waar vir oulaas vanmiddag
die flamink-swerm,
hul tasse gepak het
en weswaarts vertrek het..

Geen windjie,
om die koelte van die nanag
oor die vlaktes te versprei,
so:
mense lê in slapelose poele sweet,
selfs die behoefte aan seks vergeet..
hitte van kontak ondraaglik,
al's ekstase daarin weggesteek..

Wednesday, 5 September 2012

Tydsame verligting/ stadige beligting.

As ek:
Net hier kan sit,
net lank genoeg hier kan bly..

Sal ek:
Die ewigheid kan kry,
die verganklikheid vermy.

Die permanente dinge sien,
die goed wat waarheid dien.

Of dalk:
Net die langer, stadiger veranderinge waarneem..
Die vinniger diere, mense, plante, 
laat verdwyn.
Die klippe, water, golwe, sand,
die harder, taaier wesens, laat verskyn.

Tyd is 'n swart gordyn,
dit wat stadig loop sal net verskyn in langsamer, sagter maanskyn.
Die haastiges sal dit nie sien nie,
hulle het teen die tyd reeds klaar verdwyn.

Weg na die stad, 
weg na die gate, krotte.
Weg na die paleise van die blinde rotte. 
Die rotte wat hol op die trapmeul. 
Die trapmeul met die gesogte beloning:
Pyn en wyn, 
seks 
en drome van fame..

Thursday, 30 August 2012

Maanskyn en Jasmyn


Sy maak my mal, 
maar ek is nie mal oor haar nie. 
Miskien as gevolg van haar, maar dis ook nie 'n seker saak nie...

Die volmaan vat my slaap weg, 

skyn deur al wat gordyn is, 
verlig die stowwerige vlaktes met haar spookagtige tweedehandse lig. 
Sy beskou haarself as belangrik, verlig mos die nag, 
maar skyn net as die groot gele nie kan nie.. 
Dis nie eens haar eie lig nie, 
net 'n  weerkaatsing van ons geel ou sterretjie, 
ons geskommelde Son.  
Sy beroof die miljoene majestieuse sterre van die melkweg van hul  indrukwekkende unieke en oorspronklik-komplekse lig. 
Net omdat sy ons naaste buurvrou is. 
Nogtans besing die digters haar, asof sy watwonders is. 
Waarom is Maan, haar naam, die resiprook van "naam"?
Sy beheer mos die getye, 
kap ons jaar in maande op, 
merk die maand ook verder af in weke. 
Dalk is sy TOG belangrik, 
al beroof sy my van slaap..

Miskien moet ek net fokus op haar meer verleidelike streke: 

Hoe sy oor die horison loer, 
hoe sy saggies in 'n skraler vorm haar neervly, 
laatnag op die westerkim se vloer. 

La luna, la luna, daars 'n vreemde bekoring in dìe spieël-godin se silwer lig, 

maar haar ware aantrekkingskrag lê soos met alle vroue, 
nie in die sigbare skoonheid wat onbetwisbaar is, 
maar in die onverklaarde effek wat haar nabyheid op ons, 
haar betowerde onderdane het. 
So miskien, in weerwil van logika, 
verklaar Newton se gravitasiewet 
die verslawende towerkrag 
wat maanskyn en jasmyn, 
te midde van insomnia en migraine, 
op my het!

Monday, 20 August 2012

Dig, digter, digmasjien: Dubbele Sonnet


Om te dig moet maklik wees...

Net 'n paar woorde in die regte reeks. 

Niks duister daaromtrent nie, hoe moeilik kan dit nou wees? 
'n treffende gedig kan so kort as net drie reëltjies wees. 
Nie te lank nie, dit wat ek nou geskryf het is dalk al veels te lank. 

Net 'n paar woorde met die letters reg gekies. 

Daars net ses en twintig letters om van uit te kies. 
Skommel bietjie, kies 'n paar, glad nie moeilik nie: siedaar! 

Om die lotto te kan wen, 

moet jy net ses nommers reg kan kies. 
Ses uit nege en veertig kan nie te moeilik wees nie.... 
Tot jy uitvind wat jy doen: 
Die wiskunde vertel jou anders: jou kans? 
Een uit dertien komma nege agt miljoen! 

So wat is my kans dan om 'n heel treffende gedig te skryf? 

Een wat werklik in 'n ander mens se brein indring, 
hom/haar kan vasvat om die lyf? 
Watse kans het ek, 'n ongekultiveerde boer, 
om iemand heel-te-mal:anders se hartsnare te kan roer? 
Dit behoort wel interessant te wees om na díe een se waarskynlikheid te loer..... 

Miskien moet ek werk maak van 'n digmasjien, 

'n ysterdigter soos 'n golem. 
Koud, geprogrammeer om net die regte woorde raak te sien. 
Dit kan gedoen word, hoor my lied, as ek 'n rekenaar die regte kunsies kon vertel. 
Ek skryf vir hom (of is dit haar) 'n paar reseppies net half klaar, wys dan die spoor en sê net: "Sa!". 
As my resep reg uitgewerk is, sal my snuffelaar die regte woorde uit gaan soek. 
Al die woorde wat ek benodig is mos in 'n boek! 
So soek en soek, probeer en pas, die elektron-bloedhond moet dit kry. 
Gaan haal die gans, die eend, die tarentaal. 
Ek het geskiet, dit is mos net 'n kwessie van gaan haal. 
Gaan soek daar in die water, gaan snuffel agter daardie bos. 
Toe nou jong! As dit nie werk nie, gaan slaap ons wragtig sonder kos! 

So wat dink jy, die leser van my plan? 

Sal ek dalk só die digter kan vervang?

Sunday, 8 July 2012

I Don't need you anymore




Do you believe in love after love? 
As ek myself toelaat, kan die vrolike melodie van 'n lekker song my opbeur.... 
Die triek is om dit toe te laat! 
Om jou gedagtes te laat swerf...
van waar dit in die doldrums rondploeter, 
na waar jy "happy go lucky" was toe jy die liedjie op 'n plek en tydstip gehoor het. 

Dink aan die meisie wat saam met jou gedans het, 
jou met groot oë die heel aand dopgehou het. 
Saam met jou gelag het. 
Saam met jou huistoe gegaan het, 
die donker spoke verdryf het, 
jou vir 'n wyle laat glo het daars 'n doel met jou. 
Jou op die berg laat staan het en jou die uitsig oor die vallei laat beskou het. 
Jou wysgemaak het daar lê iets beters agter die volgende bult. 

Die blitsfoto in jou brein van die spontane glimlag.. voordat dit deur die bewuste,
berekende denke afgebreek, 
oorbelig, oorgeanaliseer is, 
totdat die enigste blywende antwoord 'n leuen is. 

Voordat die emosies verban is, 
verbied is, onwettig verklaar is.... 
Sodat jy, realis, idialis, 
jouself kon oortuig dat die enigste uitweg is 
om op te tree as pragmatis. 
Seker te maak dat hy weg is. 
Verban is.  Doodgeswyg is. 
Is jy seker dat dit al uitweg is? 
Dat dit die ware jy is, wat die besluitnemer is..... 
Dit wat uitgebrand is in jou brein, 
kan nie wat ingeëts is in MY brein, 
uitwis nie... 

Daardie onbeskermde, onbewaakte oomblik 
is in die rotswande van my grysstof uitgebeitel. 
Jy kan sê wat jy wil, 
jy kan doen wat jy wil, 
ontken, onteien, ontsien,
ontsnap van die waarheid kan jy nie! 
Vir daardie nanosekonde was jy bly.. 
om my te sien! 
Was dit net jou eie Narcistiese motivering: 
"Ek kan hom nog steeds naderlok"? 
Was dit net om my soos 'n Medusa-slagoffer 
te laat versteen?
My in die laning van jou klipstandbeeldtrofeë
te laat staan?  
Dalk is dit al satisfaksie wat jy kry... 
"Oorwinning!" 
"Hy gee om vir my".... 

Die skoen is nou aan die ander voet, 
EK het die mag, EK sal die mans verkrag! 
EK sal hul harte vertrap, hul goedheid verwerp, 
hul attensies verdraai, hul skerpte verstomp, 
hul insig verblind, hul emosies vermorsel. 
EK is die wenner! So lyk ek: 

Hosanna, Susteranna!    
Ek gee nie om dat ek eensaam is, 
solank as wat hulle vernietig is! 
Die enigstes wat ek verdra, 
is die wat my attensies omseil, 
my kloue ontwyk, my uitnodigings ontkom... 
Ek sal werk aan hom, tot hy val vir my.... 
Dan sal ek mag hê oor hom, 
dan sal EK die terme dikteer, 
ek sal hom dan ignoreer, 
hom laat opkrimp, tot siekwordens frustreer. 
Skaakmat! 
Dis my spel! 
Ek het dit al in die openbaar so gestel, 
dalk is dit al wat wat ek kan bestel. 
Ek kan dit op die mansdom bevel.... 
Die HEL!

Monday, 21 May 2012

21 12 20 11 .. Meer Pretensieus


Ek wou vir jou.. 
'n treffende, dalk grootse gedig dig, 
vir Kersfees of vir Nuwe Jaar.... 
Of dalk vir as jy weer verjaar, 
maar net betyds het ek onthou, 
jy hou mos deserdae jou by jou selfopgelegde streng dieet 
wat mans en hul besoedelende, 
soms aanloklike idees 
en of gewoontes aan betref.  
Want gif is gif en slang bly slang.. 
Hoe kon ek dink dat jy  selfs na geselskap kan verlang? 
Al wat deeserdae baat vir jou, 
is jou kamera en jou howe! 
Al die ander goed (en beter, beste) 
gaan mos jou verstand te bowe...

So hier is iets wat wel iets is, 
nie soos die Nuwejaar wat kamma is:
Middernag vannag 
(en dis nie vir 'n dromer) 
is dit die middelpunt van somer!
Nie sommer so 'n dag dus nie, 
'n regte einde en begin, 
'n nuwe siklus, meetbaar in 
die tydperk van volledige omwenteling 
van ons planeet se wenteling 
om ons geel ster,
ons eie waterstofbomsonneblomson. 

Geniet dit dus, 
geniet die rus, 
geniet die jaar se weer begin, 
ek hoop jy is gesond, 
hoop jy loop daar bietjie rond, 
kry tyd om nog 'n paar 
besonderse beelde in miljoene pixels vas te lê. 
Ek hoop dat die gediggie nie 
(soos die skrywersmotiveringsbron) 
die muse se verstand 
wat dalk kan lê op witte strand 
of reis in verre land, 
te bowe gaan.

Monday, 30 January 2012

Narcisis

Die nimf Eggo wat jy roep,
Herhaal die waardelose woorde,
Die klanke wat so oor jou tong galop.


Sy lok jou
verder en verder..
Weg van die regte weg.
Totdat jy,
jagter,
kenner van die aarde,
verdwaal het in jou eie kop.


Hoe kon dit so gebeur,
Hoe so gemerk,
hoe so bestem?


Bo-tone in die stem se klanke,
Kinkels in die brein se denke,
Dit alles klink tog so bekend...
Dit alles maak so SIN!


Dit voer jou t'rug..



Na tye..
toe die Muse haar nie van jou verskuil het nie.

Na plekke..
waar niemand nog jou naam gehoor het nie.

Na mense..
wat nie vir jou ontboesemings gelag het nie.

En ander..
wat hul aan jou ratsheid verkyk het.

Na dames..
wat jou danse geniet het.

En ander..
wat hul aan jou lyf vergryp het.



Die pad waarlangs die stem (van Eggo?) hom lei,
Neem hom by 'n helder stroom verby.
Hy's dors,
die poel die skitter soos gesnyde loodkristal.
Hy buk,
tot op sy kniee om die lawende water by te kom.
Hy drink,
maar in die varsversteurde spieël van water soos kristal,
sien hy die beeld...


Sy blik verstar,
Sy lyf versteen
En op sy kniee bly hy staar.


Die beeld, die stem, die sinne, die klank,
Als so perfek, in lyn, in plek.
SY denke,
SY sinne,
SY stellings,
sy ALLES.


Hoe kan dit wees,
Dat daar 'n ander wese was
Wat spesifiek by hom so goed kon pas?


Eggo, die muse van sy drome:
Die stem, die beeld, die sin,
die redenasie van haar brein,
die doen- en late van hul samesyn...


Nemesis het haar gestuur,
nie Muse nie,
maar Nimf. 
'n hersinskim,
'n kloon,
'n breinfrekwensieinterferensiepatroon.


'n Lelie, ja,
die Affodil,
is nou 'n sinnoniem vir jul:


Narcisis, egoïs.


Die Toekomsbepaler sou:
Gebrek aan visie,
verspeelde jeug,
misplaasde trou,
Bitter-soet verliefdheid van jou..
(op 'n sinnelose refleksie!!) 

Dit alles...

Vaslê in die eggo van jou Ego-obsessie