Showing posts with label Natuurgedigte. Show all posts
Showing posts with label Natuurgedigte. Show all posts

Thursday, 28 February 2013

Wie kom met die sekelmaan?



'n Sekel uit die bronstydperk
sweef glansend oor die oosterkim.
Oestyd vir die laaste van die oorryp-wintergraan?
Of dalk die sens van vader tyd?
Die swartgeklede een,
sy mantel verberg die doods-skedelbeen...

Die sekelmaan verhelder silhoëtte van
olienhoutboom en besembos
in rantjies van die valskaroo,

Twedehandse lig weerkaats,
(soos die wat rokende binnevet-lampe los),
op slym en modderwater,
in die kuile van die vlei
en die laaste bietjie vog
in die vlakte van die modderdam,
waar vir oulaas vanmiddag
die flamink-swerm,
hul tasse gepak het
en weswaarts vertrek het..

Geen windjie,
om die koelte van die nanag
oor die vlaktes te versprei,
so:
mense lê in slapelose poele sweet,
selfs die behoefte aan seks vergeet..
hitte van kontak ondraaglik,
al's ekstase daarin weggesteek..

Kokerboomkwas

Uit die donker verf die kokerboomkwas
      die wolke met 'n helder rooi en geel:
   
      Vroeg-aand stilte met 'n goue tafereel.



***************************************

Of:

'n Bietjie langer uit 'n ander hoek:




Soos die grypende doring-vinger hande
van Antjie Somers na 
niksvermoedend' siele reik,
pyl daar uit die onheilspellend donker 
horison van uitgedorde aarde,
die swart silhoeët van 'n kokerboomkwas.
 
As skeppings-instrument skilder dit surreël
die wolke met 'n helder rooi en geel:
 
Vroeg-aand stilte met 'n goue tafereel.

Thursday, 30 August 2012

Maanskyn en Jasmyn


Sy maak my mal, 
maar ek is nie mal oor haar nie. 
Miskien as gevolg van haar, maar dis ook nie 'n seker saak nie...

Die volmaan vat my slaap weg, 

skyn deur al wat gordyn is, 
verlig die stowwerige vlaktes met haar spookagtige tweedehandse lig. 
Sy beskou haarself as belangrik, verlig mos die nag, 
maar skyn net as die groot gele nie kan nie.. 
Dis nie eens haar eie lig nie, 
net 'n  weerkaatsing van ons geel ou sterretjie, 
ons geskommelde Son.  
Sy beroof die miljoene majestieuse sterre van die melkweg van hul  indrukwekkende unieke en oorspronklik-komplekse lig. 
Net omdat sy ons naaste buurvrou is. 
Nogtans besing die digters haar, asof sy watwonders is. 
Waarom is Maan, haar naam, die resiprook van "naam"?
Sy beheer mos die getye, 
kap ons jaar in maande op, 
merk die maand ook verder af in weke. 
Dalk is sy TOG belangrik, 
al beroof sy my van slaap..

Miskien moet ek net fokus op haar meer verleidelike streke: 

Hoe sy oor die horison loer, 
hoe sy saggies in 'n skraler vorm haar neervly, 
laatnag op die westerkim se vloer. 

La luna, la luna, daars 'n vreemde bekoring in dìe spieël-godin se silwer lig, 

maar haar ware aantrekkingskrag lê soos met alle vroue, 
nie in die sigbare skoonheid wat onbetwisbaar is, 
maar in die onverklaarde effek wat haar nabyheid op ons, 
haar betowerde onderdane het. 
So miskien, in weerwil van logika, 
verklaar Newton se gravitasiewet 
die verslawende towerkrag 
wat maanskyn en jasmyn, 
te midde van insomnia en migraine, 
op my het!

Sunday, 26 August 2012

Julie-nag


Eenuur!
Die swart swaan gly geluidloos deur die kobaltblou melkweg, 
die oppervlak onversteur deur sy koue voete 
wat vir 'n vale onder die spieëlbeeld met die water veg. 
Daars skaars 'n rimpeling in die poel 
waarin ek die bloed van my hande afspoel. 

Net die maan teen die westerkim, 'n halwe lemoen, 
die versapte kleur gevries teen die berg 
deur die vlieswolke se knyptang van tyd 
en die onopsigtelike rotasie van ons planeet. 

Die stukkende koppe van die bokke in die skerp lig, 
as die skoot klap, klaar vergeet. 

Monday, 20 August 2012

Lente?


Die lente is hier, of ten minste temperatuurgewys. 
Nie met 'n ontploffing van kleure, geure en klank nie, eerder met rukke en stote soos 'n diesel wat proes proes voor hy vroegoggend vat. 
Nie die nuwe diesels waarin die vroutjies met die lang naels en rooi lippies hul kinders skool toe vat nie, nee, die ou Perkins en ADE's wat in die 80's en 70's en 60's in die trekkers en lorries ingebou is. Die wat soms quickstart nodig het in die winter, die glowplugs nie opgewasse vir minus 7 en kouer nie. 

Die wind waai soos hy waai in laat Augustus, op 'n kalm dag. Niks meer as 20, 30 kilometer per uur nie. Net genoeg om jou te sê: dis nie 'n gholfdag nie, dis nie 'n swemdag nie, dis 'n werksdag... Al waai die stof so af en toe in jou mond in, in jou oë in, in jou neus en ore in... 
Jy weet: Môre, oormore kom die vrugtebome se bloeisels uit. Wit pruimbloeisels, pienkes vir die perskes en die appelkose. 
Dan dink almal dit is lente. Hoewel die wit rook vroegoggend uit die diesel jou vertel: Die rypseisoen is nie verby voor Oom Paul verjaar het nie!

Wintersomerherfs

Die winter wil nie los nie, buite waai die wind Augustus-styl met 'n Julie-byt. 
Elke jaar is ek verbaas oor die seisoene se jolyt. 

Die mense sê: "Die seisoene het verskuif".. 
Maar kort is ons geheues, 
groot is die verskeidenheid 
wat moeder natuur vir ons kan wys 

Sneeu soms in Augustus, 
reën in Juliemaand. 
Ons kan dit nie bestel nie, 
ons eet nie van 'n spyskaart nie. 

Maar as ons terugdink, 
ja, na lank lank gelede, 
sal ons onthou, 
sal ons die die ooreenkomste kry in die verlede. 

Ons lewens is te kort, 
ons onthou niksseggend in die groter plan. 
Waar's die Mamoete en die Terranosaurus dan? 

So shutup en geniet dit. 
Draai jou jas maar styf 
om die winterkurwes van jou lyf, 
vou altwee jou hande 
om die koffie en die sop. 

Môre, ja môre hou ook hierdie winter op!

Sunday, 19 August 2012

Waarheid onder 'n wit kombers


Nege vier en vyftig. 
Die wind ruk aan die deur. 
Weg is die wit illusie toe ek voor die huis parkeer.
Dit was skaars dertien uur, 
net so bietjie meer as 'n halwe dag, 
het my stad-sending geduur, 
maar van die sprokiesland wat ek verlaat het,
is net die ysige asem van die Suidewind nog hier. 

Dit herinner my: 
Ons winters is nie wit nie, 
ons winters is nie mooi nie. 
Ons winters is gewoonlik nie in 'n sneeukombers getooi nie. 
Ja, die suid Vrystaat is hard. Die suid Vrystaat is koud. 
Die yswind sny in Julie (én Augstus) vlymskerp deur jou boud. 

Vir een dag, hoogstens twee, lê die vlakte in 'n wit kombers geklee. 
'n wit kombers oor al die droë gras en brandmaer vee.
Ja, die winter is nie mooi nie, maar dit voer mens tog soms mee 
na tye sonder yswind, 
na dae sonder snee. 
Die lewe is nie winter nie, 
die lewe is nie lente nie, 
die lewe volg sy ritmes en sleep ons daarin mee. 
Daars dae waar die son opkom, 
die dam en krippe hard verys, die land en diere wit van ryp maar tog nie sonder hoop. 

Die wasems wys waar asems is, 
die spore in die ryp verraai die plekke waar die ribbok loop. 
En soos die waterstofbom-sonneblomligbron se infrarooi bestraling oor die landskap kom, 
ontdooi die diere, mense, gras.
Die paar gesmelte druppeltjies weerkaats in reënbooglenteprag: 
ons Somer wat net gister was. 

Sunday, 29 July 2012

Oranje Silwer Pers


Eenuur! 
Met die oopmaakslag 
ys my hande aan die grenshek vas.  
Die halwe lemoen 
(as die maan verbloem) 
word deur vlieswolke teen Klipplaatsdam 
se bergkruin geslag. 

'N bleshoender (of is dit die swart swaan?) 
swem onversteurd deur die oranje gloed 
van die oolewingstryd wat op die westerkim woed
met koue voete deur die kobaltblou rimpels van die melkweg 
waarin ek my hande skoonwas van die bloed.

Monday, 9 July 2012

July morning


As die winter-dagbreek stilte kraak 
met die steweltrap op ryp en tortelduif rinkink, 
verf die son die silwer van die ys 
met goue reënbooggrys. 

Die veer-kristalpatrone op die harde krippe 
word na ure saggies uitgevee. 
Dit word amorf en keer t'rug 
na die spieëlbeeld van die bospatrys 
wat sy oggendkoffie hier kom drink.

Sunday, 8 July 2012

Raka ?



Het Raka tog 'n hart?
Het hy dalk 'n brein?
'N bietjie bewussyn agter die swart gordyn?

Waar het hy geskuil toe die modder en slyk
Verander het in wit?
Die water ge-ys
Die modder versteen
Die slyk verdwyn?



Het hy, toe die maan

Agter die swart gordyn verdwyn,

Gewonder, gesien, gedink
Verwonder deur die lig van miljoene sonne

wat skielik uit die donker hemelruim verskyn?
Belig deur die donker,
Die swart gordyn,
Van die aarde se skadu
Op die doek van die maan.

Die detail van sterre nie meer verdonker
deur die lig van die son

deur die maanspieëldoek weerkaats?

 

Die ys van die winter,
Die lig van die maan
Die sneeu op die landskap
Die ysige wit weerkaatsing van koue
deur die vlak waters van die melkweg, 

waar al die helder sonne se lig,

getemper deur die resiprook van miljoene ligjare kwadraat,
verdof word deur die silwer weerkaatsing in die flaterspieël

van hierdie planeet se satteliet.
Die oorbeligting doof die detail uit.

 

 

Soos 'n vlam die wit was van die kers
verander in 'n blink amorfe poel...
Onsigbaar,

om te weet moet jy voel...
Was dit nie vir die stolling van die was
op die vinger van die mens, (of gees)
sou dit 'n raaisel wees.

 

 

Wat is waarheid,

wat is waan,

wat is fisies,

wat is gees?
Sou die dier, die Raka,

in ons almal wees?
Dink ons almal ons is beter,

net totdat die swart gordyn,     

die dieper son in ons siel ontbloot?
Dan is ons..

Dier?

Die drange al wat is,

wat was, wat nog wil wees..

 

 

Vergete al die wonders van die gees,
Die groot ambisie,
al die planne,
al die strewe na die goeie.

Al wat oorbly is die bloed,

die drang,

die drif...
Voor dit nie bevrediging verkry,

sal geen ander denke jou bevry!

 

 

So waar is Raka,

waar die dier?

As al die ander na jou tuur?

Wat wil jy hê?
Wat wil jy nie?
Wat's jou begeerte,
Wat is jou skans?

Wat word versteek daar agter daardie masker-muur?

 

Is dit die waarheid?

'N begeerte?

'N behoefte?

Net 'n dans???

 

Sê jy dit,
Bedoel jy dat.
Dink jy dat,
as jy dan sê,
wat mense dink gesê moet word,
dit wel jou denke transformeer,
na DIT wat jy na aspireer?

 

As ander jou beskou
In detail-verdonkerende helder lig
Van sogenaamd beskaafde norme...
Hoe kan hul weet
van al jou diep versteekte drange?
Jou verswygings,
Jou verlange?
Die lis van die gesmag
van dierlike lus.
Wat jy telkens soos 'n Petrus,

oor en oor verloën,
om almal om jou om die bos te lei...

Kry jy dit reg, dink jy?

 

Hoe ondeursigtig is die sneeu,

die ys..
Tot dit ook smelt en sigbaar laat,
die slyk,

die modder..
Wat hier onder in die helder stroompie lê.

 

En as die drang bevredig is,
is jy dan weer jou preutse self.
Wat wyd en syd verkondig hoe

die mans se bekke kwyl,  

wyl jy,

onaangeraak,

net op jou eie bly

en heel beledig,

(dalk beangs?)

voel as hul na jou passies staar.

 

Wat is die dans dan,
as dit nie in diepste wese,
wel die diepste wens verwoord?

 

Op stille ritme is gebore

uit die allerprimitiefste drang
van spoeg en sweet

en soete nektar van die blom,
wat roep na hulp van bye om
tog net so gou as moontlik na die blom te kom, 

die daad te doen,
die smag na die vervulling te vervul.

 

 

Dan..

ja DAN,
sal alles beter wees...
Dit sal:
Die stille stap,

asook die hoogs pretensieuse,
(of dalk opregte?)

wens na hoër denke weer herstel.

Wednesday, 2 May 2012

Boodskappers


In die weste het ek hulle gesien,
die boodskappers van wat kom.
Dit was donker nag, selfs die sterre was dof
Elke af en toe het hulle agter die gordyn uitgeloer
Soos Noorderligte... net nie in die Noorde nie, maar Weste
en ook nie gekleurd nie, net wit, of witterig dan,
dit was te flou en blitsig verby om werklik 'n kleur te onderskei.
Eintlik was dit seker net die effek van hulle
wat ek op die onsigbare wolkgordyn gesien het,
hulle was nog te vêr om self gesien te kan word...
Vir my was dit egter duidelik:
Hulle en hul maatjies was op pad,
die keer sou ons nie ontsnap nie.....
So het ek gehoop!
(En die hoop beskaam mos nie!)
Môre oggend sou ons omring wees deur hulle:
Die weerligte met hulle maatjies die reëndruppels!

Tuesday, 13 March 2012

Gister se reën... of: Nog 'n Ode aan die windpomp


Tuiste van verlede
Blyplek van die spook, 
bouval van die lewe,
meganisme van hoop,
spieëlbeeld in vloeistof, 
nuwe vlerke vir die wind gekoop. 

Yster, sink en staal
Spesifiek gekombineer om water uit die dieptes uit te haal Ingenieursprestasie, 
kunstige kombinasie 
van raam en rat en vlerk. 
Ystersonneblom met toring en 'n stert
Die groen masjien laat westewinde werk. 

Die wolke wat sy wegwaai, 
se trane huil hul op 'n  ander berg se skouers uit....
dit syfer in die vloeistoffase deur klip en rots en sand, 
gaan lê dan onder langs die diamant.
Daar wag dit rustig vir die regte tyd
om weer na bowe te migreer.
Lewensvog van lank-lank gelede
dìe bring hy van benede 
na die dors dam van die hede..
Alles op sy kop weerkaats 
in stille waters blink,
meer waardevol vir mens en dier en plant 
as die glinster van die diamant 
wat lê in diepe grond, 
onder in 'n dieper laai, 
ja daarso waar die duiwel draai. 

Yster, sink en staal 
fasiliteer die
koue transformasie, 
Westewinde waai die wolke weg, 
Maar pomp dit tog weer later,
getransformeer tot 'n ander fase, water,  
van onder hierdie skurwe aarde op,  
na waar dit blink die spieëlbeeld skep
van die masjien wat windgedrewe, 
hierdie skaars verbinding bring
vanwaar in stilte onder sand en klip en saam met diamant, 
dit in die skoot van moeder aarde rus.

Die lewensvog, meer werd vir mens en dier en plante 
as al die streek se diamante. 
Hoe wild sou hierde plek nie wees, 
sonder jou ou windpomp ysterslaaf, watergees?

Hoe weet die water waar om heen te loop?
Wat vertel die suier vir die vloeistof, 
die silinder vir die stang?
Wat beveel die wind se fluistering aan die wiel se vlerk?
Hoe weet die dooie dinge 
om die wette van: 
Archimedes, Newton en Bernoulli 
so te sê maak werk?
Die kurwe van die vlerk te volg? 
Die stagnasiedruk van gas op vlak, 
van vloeistof op soliede stof... 

Is die molekules dalk bewus 
van die mensgeskrewe wette van hidrolika, 
wat hul bewegings probeer beskryf?

Wie het vir die wind vertel 
om oor die uitgestrekte vlaktes heen, 
díe staalkonstruksie uit te soek, 
sy asem in die suile uit te stort, 
die water te oortuig om pad te vat? 
Na stille damme en die windverwaaide krippe. 
Die blink weerkaatsing in die môrestil, 
die beeld van hoe die meer, 
onder hierdie skurwe wêreld paradeer...

Monday, 30 January 2012

Narcisis

Die nimf Eggo wat jy roep,
Herhaal die waardelose woorde,
Die klanke wat so oor jou tong galop.


Sy lok jou
verder en verder..
Weg van die regte weg.
Totdat jy,
jagter,
kenner van die aarde,
verdwaal het in jou eie kop.


Hoe kon dit so gebeur,
Hoe so gemerk,
hoe so bestem?


Bo-tone in die stem se klanke,
Kinkels in die brein se denke,
Dit alles klink tog so bekend...
Dit alles maak so SIN!


Dit voer jou t'rug..



Na tye..
toe die Muse haar nie van jou verskuil het nie.

Na plekke..
waar niemand nog jou naam gehoor het nie.

Na mense..
wat nie vir jou ontboesemings gelag het nie.

En ander..
wat hul aan jou ratsheid verkyk het.

Na dames..
wat jou danse geniet het.

En ander..
wat hul aan jou lyf vergryp het.



Die pad waarlangs die stem (van Eggo?) hom lei,
Neem hom by 'n helder stroom verby.
Hy's dors,
die poel die skitter soos gesnyde loodkristal.
Hy buk,
tot op sy kniee om die lawende water by te kom.
Hy drink,
maar in die varsversteurde spieël van water soos kristal,
sien hy die beeld...


Sy blik verstar,
Sy lyf versteen
En op sy kniee bly hy staar.


Die beeld, die stem, die sinne, die klank,
Als so perfek, in lyn, in plek.
SY denke,
SY sinne,
SY stellings,
sy ALLES.


Hoe kan dit wees,
Dat daar 'n ander wese was
Wat spesifiek by hom so goed kon pas?


Eggo, die muse van sy drome:
Die stem, die beeld, die sin,
die redenasie van haar brein,
die doen- en late van hul samesyn...


Nemesis het haar gestuur,
nie Muse nie,
maar Nimf. 
'n hersinskim,
'n kloon,
'n breinfrekwensieinterferensiepatroon.


'n Lelie, ja,
die Affodil,
is nou 'n sinnoniem vir jul:


Narcisis, egoïs.


Die Toekomsbepaler sou:
Gebrek aan visie,
verspeelde jeug,
misplaasde trou,
Bitter-soet verliefdheid van jou..
(op 'n sinnelose refleksie!!) 

Dit alles...

Vaslê in die eggo van jou Ego-obsessie