Thursday 19 April 2012

Wat om te sê en wat om te los...

Soms is die moeilikste nie wat om te skryf nie, maar wat om NIE te skryf nie...
Dit is seker waar vir alles wat mens op skrif stel, maar as mens probeer dig, is dit dalk meer so.
Sommige gedagtes klink goed in jou kop, maar wil nie so goed in woorde vloei nie. Tog wil dit vir my voorkom asof ek dit moet skryf... as 'n proeflopie, dan kom die regte woorde later.
Soms moet mens sekere gedagtes later heel uithaal, soms kan mens dit op 'n ander plek inlas waar dit beter pas. Meestal kom die beste/ beter /regte woord eers heelwat later na mens toe aangedryf. Soos 'n boodskap in 'n bottel wat jy toevallig op die strand optel... Maar jy sou nie die boodskap gekry het as jy nie op die strand gaan loop het nie! Dalk sou jy nie op die strand gaan loop het as jy nie vir die boodskap gesoek het nie...


Dit lyk soms vir my asof skryf sy eie wil het, sodra mens begin, is dit soos 'n waterstroompie wat begin vloei en dan sy eie pad deur die grond sny. Soos dit vloei, word die pad langer, maar solank as wat die water aanhou loop, so lank hou die stroompie aan vloei! Die rigting en grootte was nie vooraf bepaal nie, maar word besluit deur die terrein waardeur dit loop. Die lengte en breedte van die pad wat dit loop word weer bepaal deur die hoeveelheid water wat ingesit word en die tydsduur wat die water loop, so met skryfwerk, soos ook in meeste ander dinge in die lewe word die uitset deur die hoeveelheid werk en werktempo bepaal, maar die rigting word deur die omgewing en ander mense bepaal...


In die versies wat ek op skrif stel, is die onderwerp soms nie vir my duidelik nie, maar dit gaan in 'n rigting van hul eie. As ek egter dit nie neerskryf nie, sal daar niks gebeur nie, niks vordering wees nie. 
Ek weet nie of dit goeie leesstof is en of mense dalk net eenkeer na dit kyk en nie weer terugkom nie. Uiteindelik is die toets van kwaliteit seker nie noodwendig in die ander mense se oordeel nie, maar in mens se eie opinie...
Dit sou egter lekker gewees het om 'n mate van terugvoer te kry van iemand wat dit lees om te weet of dit darem aan iemand 'n mate van plesier verskaf. (of dan in 'n groot mate irriteer) 
Met 'n poging tot digkuns is dit dubbeld so moeilik as met prosa. Eerstens is dit die idee, dan nog die rym en ritme. Soms kan "goeie" rym infantiel wees, te min rym weer te prosa-agtig... Ek voel dat gedwonge rym nie goeie rym is nie. Of ek reg is, weet ek nie. Ek het nie formele skryfopleiding gehad nie, weet net wat lees lekker en wat nie. Vir my is die ritme in 'n gedig soortvan meer belangrik as die rym. Die ritme is wat dit lekker laat lees, laat vloei. Wat dit onderskei van gewone prosa. As mens aan 'n goeie popliedjie dink, is dit die ritme wat dit goed maak, die klanke, nie noodwendig die rym in die lied nie. Die toonsetting skep die luim van die lied, maar dit is die ritme wat die lied laat vloei, dit in jou kop laat vassteek. Dit maak die verskil tussen "swaar" musiek wat moeilik op die oor is en vloeiende musiek wat aangenaam is om na te luister. Ek praat nie hier per sè van die "doef doef" ritme nie, maar van die algemene vloei en dansbaarheid van die musiek. Volgens my moet mens op 'n gedig kan dans... al verander die toonhoogte nie, die ritme moet jou toelaat om te kan sweef, te kan draai, saam met iemand te kan dip sonder dat die kompleksiteit jou oor jou voete laat val. Dit kan vinniger en stadiger beweeg deur die gedig, maar dit moet nie onverhoeds spring nie, die aanpassing moet voorspelbaar en interressant wees.
So dink ek...


Dalk skryf ek nou net 'n klomp snert! As iemand saamstem, of verskil, of net 'n inset wil lewer, doen dit!

No comments:

Post a Comment