Mengelmoeskardoes / deurmekaar ramkiekie / Gedigvorming /geboorte
Tuiste van verlede
Blyplek van die spook,
bouval van die lewe,
meganisme van hoop,
spieëlbeeld in vloeistof,
nuwe vlerke vir die wind gekoop.
Yster, sink en staal
Spesifiek gekombineer om water uit die dieptes uit te haal Ingenieursprestasie,
kunstige kombinasie
van raam en rat en vlerk.
Ystersonneblom met toring en 'n stert
Die groen masjien laat westewinde werk,
Die wolke wat hul wegwaai,
se trane huil hul op 'n ander berg se skouers uit....
dit syfer in die vloeistoffase deur klip en rots en sand. Lewensvog van lank-lank gelede
die bring hy van benede
na die dors dam van die hede..
Alles op sy kop weerkaats
in stille waters blink,
meer waardevol vir mens en dier en plant
as die glinster van die diamant
wat lê in diepe grond,
onder in 'n dieper laai,
ja daarso waar die duiwel draai.
Yster, sink en staal
fasiliteer die
koue transformasie,
Westewinde waai die wolke weg,
Maar pomp dit weer
tog in 'n ander fase
van onder hierdie skurwe aarde op.
na waar dit blink die spieëlbeeld skep
van die masjien wat windgedrewe
díe skaars verbinding bring
vanwaar in stilte onder sand en klip en saam met diamant,
dit in die skoot van moeder aarde wag.
Die lewensvog, meer werd vir mens en dier en plante
as al die streek se diamante.
Hoe wild sou hierde plek nie wees,
sonder jou ou windpomp ysterslaaf, watergees?
Hoe weet die water waar om heen te loop?
Wat vertel die suier vir die vloeistof,
die silinder vir die stang?
Wat beveel die wind se fluistering aan die wiel se vlerk?
Hoe weet die dooie dinge om die wette van
Newton en Bernoulli so te onderhou?
Die kurwe van die vlerk te volg?
Die stagnasiedruk van gas op vlak,
van vloeistof op soliede stof.
Is die molekules dalk bewus
van wette van hidrolika wat hul bewegings reguleer?
Wie het vir die wind vertel
om oor die uitgestrekte vlaktes heen,
díe staalkonstruksie uit te soek, sy asem in die suile uit te stort, die water te oortuig om pad te vat?
Na stille damme en die windverwaaide krippe.
Die blink weerkaatsing in die môrestil,
die beeld van hoe die meer,
onder hierdie skurwe wêreld paradeer...
Ek lees toe nou weer die hele relaas (lekker woord nè? .. relaas....)
ReplyDeleteEk dink tog daar is nog spasie in my windpomp-gedigte van die strofes wat ek hier en daar uitgelaat het... Of alles so meteens soos 'n trosbom op onskuldige lesesers gegooi moet word, die weet ek nie, maar ek dink tog die "onder waar die duiwel draai" en die tegnies/filosofiese deel het êrens plek.
As ek dit net reg kan sif! (my sif is soms te fyn, soms te grof...En asek 'n buite-sif gebruik, is dit soms onwillig om meer as een keer gebruik te word.) ;-/