Thursday 12 April 2012

Drogbeeld of werklikheid ?

Ek kyk
Ek sien
Ek dink
Ek wonder


Die beeld wat ek beskou,
is nìe die beeld wat ek onthou,
nie die beeld in my brein,
nie die beeld in my siel,
nie die beeld van jou...


Dit lyk soos ein Fremder
tog is dit jy, 
sans vreugde
sans lag
sans deernis
sans siel


Is dit jy,
of is dit net ek,
die een wat kyk,
die een wat meet,
wat die oordeel vel?


Waar is sy dan heen?
Daardie ander een...
Die een wat lag, 
die een wat dans,
die een met die glimlag wat in die binneste ontstaan?


Hoe kan die lewe dit alles so vervreem?
Die lig so skerp dat dit detail moet ontneem?
Ek wil nie maar ek moet..
Bieg oor die ding in my gemoed...
Oor jare het ek nie vergeet,
die orde hoe't ek jou ontmoet.


My eerste idee was nie opreg,
nie eg, nie eerlik, nie eens ordentlik
op 'n tydelike grond...
Maar toe ek jou weer sien, 
destyds,
toe jy by my kom koffie drink,
het jy my asem uitgeslaan,
my slegte bedoelings uit my brein gehaal,
nie die begeerte nie, 
maar die oppervlakkigheid, 
die tydelikheid!


Daar was iets diep binne jou,
iets meer as net jou lyf, 
jou lag, jou houding, jou sinne ...


Miskien was ek toe net gevlei,
miskien het jy my net verlei,
miskien, net miskien, het ek gekry
wat ek vir jare nìe kon kry...


Die anderkant van die spieël,
die skadukant van my siel,
die bruinoog deel van my blouoog beeld.
Die stylhaar projeksie van my krulhaar geen.
Die yin van my yang,
die ander een wat my siel verstaan.
Ek kon nie, ek wou nie, ek het nie,
kon dink dat dit so kon bestaan.
My eie beplanning die wou nie 
dat dit so moes bly nie..


Tog het ek geweet, 
DIE een sou ek nie gou vergeet...
Toe ek in jou oë kyk, jou glimlag sien,
jou stem in my oor...
êrens was daar wel iets meer,
selfs nou kan ek dit steeds nog hoor.


Maar....
Ek sien dit nie meer nie
in die beelde van jou nie..
(nie die wat jy voorhou nie..)
Die enigste beeld wat nog iets van dìt het,
is die een wat ek in my brein gebeitel het!
Die glimlag een,
die spontane een,
die een van toe jy opkyk,
toe ek ongenooid
jou heiligdom betree het...


Voordat die donker een
die helder een kon onderdruk,
daardie breukdeel van onthou,
van onbeteulde blydskap,
voordat al die aangeleerde beskermingsmeganismes
in werking kon tree.
Daardie oomblik, onbewaak,
toe ek my weerkaatsing in jou siel kon sien.
Vir 'n oomblik die spore van die tyd kon uitvee,
toe ek deur die helder, rimpelvrye water kon sien tot onder in die diep helder poel van jou onderbewussyn.
Voordat dit weer kon ys en ondeursigtig word, beskermend teen nuuskierige oë wat loer.


En ek wonder,
is sy nog daar?
Daar êrens diep onder die ys, die modder, die slyk?
Sou die blink oge nog bestaan,
of het die roes en die ys van die tyd
dit alles laat vergaan?
Het dit alles verdof,
die poel vervlak,
die diepte vedwyn,
die water verslyk,
die waarborg verstryk?


Weereens wens ek
vir oulaas 'n kans
om op maat van die aandwind 
met die ou jou te dans...
Jou veerlig in my arms te voel,
gesinchroniseerd, asof nog altyd so bedoel..
Ek wonder..
Was daar nie TOG eens 'n doel???

No comments:

Post a Comment