Wednesday 11 April 2012

Vyf dinge / koördinate...


Where did all the flowers go?
Long time passing...
Where did all the flowers go,
Long time ago?

Soms moet mens stop en op jou spore terugloop. Ek weet dat die meul nooit weer sal maal met die water wat verby is nie, maar êrens langs die pad verloor mens soms dinge van waarde. Nie net gewere en gereedskap wat gesteel word nie. Nie net karre teen klippe en lamppale nie, maar oomblikke, gedagtes, tyd, verhoudings, vriende, kennisse, geleenthede, plekke, name, vorms, dade. 
Hoe definieer mens 'n oomblik? 'n Spesifieke punt in die vier, nee vyf koördinate van bewussyn? 

Vyf? Sê jy? Hoekom vyf? 
Salomo het Agur aangehaal: 
Daar is drie, nee vier dinge wat sy verstand te bowe gaan:
Hoe 'n aasvoël in die lug bly, 
hoe 'n slang teen 'n rots op seil, 
hoe 'n skip op die diepsee vaar 
en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk.

Dìe dinge is dalk deesdae op wetenskaplike vlak vir ons meer bekend in werking , maar nie op intuïtiewe vlak nie. Wel, dit is eintlik nou weer van die pad af. 
Die vyf koördinate wat ek van praat is eintlik die 3 van ruimte, (x;y;z), oftewel lengte, hoogte en breedte, tyd, (T) en dan bewussyn van iemand spesifiek. Ek wonder of dit dan nie nog meer as 5 is nie, want elke persoon wat betrokke is, se persepsie is anders, so dit moet afsonderlik genoem/gedefinieer word. 
(Hoewel mens altyd die saak wil vereenvoudig en aanneem dat ons eie siening 'n universele waarheid is, is dit nie so nie.) 

Elke betrokkene by 'n situasie sien dit op 'n unieke manier. Dit is waarskynlik selfs verskillend vir elke "objektiewe" waarnemer wat die saak/gebeure van buite af beskou. Maak nie saak hoe objektief/wetenskaplik ons dink ons is nie, waarneming word altyd gesien uit 'n sekere perspektief. Dit verskil van persoon tot persoon, asook binne 'n persoon oor 'n tydperk. Elkeen van ons se persepsie is met vooroordeel besoedel.... Dit is ook goed so, want dit wys dat ons as mense deur tyd dinge leer en sodoende ons gedrag/waarneming/opinies verander soos wat die lewe ons vorm. Die aanpasbaarheid maak dat ons kan oorleef in 'n veranderende wêreld. Dit is ongelukkig ook die grootste struikelblok in vordering om nuwe feite/uitvindings te aanvaar. Dieselfde "goeie" eienskap wat keer dat ons oor en oor dieselfde foute maak, verhinder ons om soms net NOG 'n keer te probeer! 
(Hoewel ek êrens gelees het dat waansin gedefineer word as om dieselfde aksie oor en oor te herhaal en dan 'n ander uitkoms te verwag....)

Mense tree op die lang termyn volgens hul sterkste geprogrammeerde oortuigings op.... Dus, volgens hierdie postulaat, sal iemand wat jou in die verlede teleurgestel/sleg behandel het, dit weer doen as jy weer met hom/haar 'n interaksie het. 
Die frekwensie van die onaangename ondervindings is 'n funksie van die tydsduur wat daar interaksie is en die intensiteit van die ongewensde optrede se programmering in die persoon. 

Mense kán egter verander. Seker nie wat inherente persoonlikheid betref nie, maar wel wat slegte gewoontes of skadelike sienings betref. Die beste voorbeeld van so-iets is 'n verslawing wat oorwin word. Die verslaafde wat na 'n tyd te voorskyn kom, nadat die middel sy houvas op hom/haar verloor het, is dikwels 'n heel ander mens in sommige kennisse se oë. 

Hoewel dit vir die "droë/skoon" verslaafde voel of hy/sy nog altyd dieselfde mens is, is die beeld wat ander van buite af sien, heel anders. Daar is egter 'n opdraende stryd wat voorlê, nie net om nie weer in die verslawing te verval nie, maar meer nog om die dinge/persoonlikheidstipe/foute/ probleme wat in die eerste instansie tot die verslawing gelei het, te besweer...

Dit bring ons weer by die persepsie van mense en die oordeel/opinie wat hulle oor ander handhaaf. Tot 'n groot mate bepaal mens self wat ander van jou dink. Wat jy doen of sê beïnvloed ongetwyfeld ander se opinie oor jou. Om dit op 'n later stadium te probeer verander is baie moeilik, indien nie onmoontlik nie.
Spreuke sê dat 'n sagte antwoord die grimmigheid afkeer, maar 'n krenkende woord die toorn laat opkom. Dus kan wat ons in 'n onnadenkende oomblik gesê het, 'n vyandskap veroorsaak wat miskien heel voorkombaar was.

Daar is 'n ou Persiese spreekwoord wat lui: (Vertaal in Afrikaans natuurlik.)
"Daar is twee dinge, nee drie, wat nie teruggeroep kan word nie: 
'n pyl, as dit die boog verlaat het;
'n oorhaastige woord, nadat dit gespreek is,
en 'n geleentheid wat nie aangegryp is nie.."

Daar is steeds niks nuuts onder die son nie...

No comments:

Post a Comment