Wednesday 11 April 2012

Skisofrenie of verborge denke?


Dit wil vir my voorkom dat daar met skryfwerk soms 'n heel ander persoonlikheid van mense na vore kom. (In vergelyking met mens se verbale/algemene/alledaagse persoonlikheid) 
Ek het deur die jare met mense op verskillende maniere gekommunikeer. As mens iemand persoonlik ken, oor jare, soos familie of goeie vriende, kom mens gewoonlik nie die verskil so maklik agter nie, aangesien die "vlees en bloed" verbale karakter meestal oorheers in mens se psige/ waarneming. Dit mag ook moontlik wees dat, omdat mens die persoon so goed op 'n persoonlike vlak ken, dat mens nie aandag skenk aan die andersheid van die geskrewe persoonlikheid nie. Die onderbewuste verf soortvan oor die verskille omdat die "reële" in die waarnemer se brein oorheers. 


Dit mag natuurlik ook wees dat 'n persoon se stemtoon 'n ander beeld by mens oproep as wat die skryfstyl doen. Die eerste keer wat ek dit agtergekom het, was toe ek redelik lank met iemand via sms gekorrespondeer het voordat ek met haar oor 'n telefoon gepraat het of 'n foto van haar gesien het. Later het ek beide per sms en telefonies met haar "gesels" en die verskil in persoonlikheid was vir my opmerklik. Dit kon natuurlik haar effense hees stem gewees het, maar ek dink tog dit het meer te doen met die konteks van die gesprekke as die stemtoon. Selfs as daar d.m.v. "Chat" op fb gekommunikeer is, waar sinne heen en weer soos in 'n gesprek verwissel word, was dit vir my opmerklik dat 'n heel ander persona na vore gekom het as wanneer daar oor 'n telefoon gesels is. Ek het die indruk gekry dat die verbale (ware?) karakter heelwat minder gesofistikeerd is as wat dit voorkom in die geskrewe kommunikasie. 


Fisiologies gesproke behoort dit eintlik nie so verbasend te wees nie, aangesien spraak en skrif in verskillende dele van die brein gesetel is. Ons is egter geprogrammeer om 'n ander mens as 'n volledige simplistiese "persoon" wat een amorfe blok "mens" met 'n sekere naam is  te sien i.p.v. 'n komplekse wese met 'n brein waarin 'n magdom alternatiewe persoonlikhede opgesluit is en wat op verskillende vlakke kan funksioneer. 


Êrens het ek iets gelees dat mens verskillende persoonlikheidseienskappe vertoon afhangend met watter hand daar ge-sms word. 


Dit klink ongewoon, maar mens moet tog onthou dat die brein uit twee aparte helftes bestaan wat net deur die hippocampus? Met mekaar kommunikeer. Die linkerkant beheer die regterhand en die regterkant die linkerhand. Dan is dit ook so dat die linker en regterhelftes van die brein ook merendeels verskillende funksies vervul. Wiskundige en kunstige beginsels word in verskillende helftes verwerk en geïnterpreteer. Dus kan die reaksie op sekere vrae wat met die een of die ander hand "getik" word verskil. 


Dit laat my dink dat, as mens in bv. 'n eksamen sukkel met 'n sekere vak, dit moontlik beter sou wees om eerder te tik as te skryf, aangesien albei hande dan gebruik word en die brein dus gedwing word om beide helftes se denke te gebruik. As dit natuurlik vir die persoon moontlik was om met beide hande te skryf, kon hy/sy bloot die podlood/pen in die ander hand gesit het vir verskillende vakke. Ons is egter nie almal so bevoorregd om dit te kan doen nie. 


Ek kan egter agterkom dat dit vir my baie makliker is om my gedagtes "te boekstaaf" op 'n rekenaar of 'n swartbessie waar ek met beide hande kan tik, as wat ek dit met pen in my regterhand op papier kan doen. 


Om te tik, is vir my soos om 'n verbale gesprek in my kop te voer. My hande skryf net die woorde soortvan onwillekeurig neer. Of dit my wiskundige oplossingsvermoë verbeter of verswak, kan ek nie juis sê nie. Ek was nog nie in 'n situasie om dit objektief te toets nie. 

No comments:

Post a Comment