Wednesday 11 April 2012

Nog 'n deurmekaar gedagte.


Ek kry soms die indruk dat ek insig in iets of iemand se denke het... Waarskynlik is dit 'n illusie, soos meeste ander Eureka momente in meeste mense se lewens.....


Maar as al die mense dit altyd ignoreer of afmaak as 'n illusie, sou daar nooit enige ontdekkings of nuwe teorië gewees het nie! Al die goeie dinge sou onder die maatemmer van sogenaamde nederigheid versteek gewees het. Vir vordering op enige gebied moet daar mense wees wat in hulself glo, selfs as hulle die enigste persone is wat in hulle of hul idees glo. Nie alle idees is 'n geweldige deurbraak soos die transistor of die wet van swaartekrag of die relatiwiteitsteorie nie, maar daar is in die alledaagse lewe duisende dinge wat 'n verskil maak wat deur gewone mense uitgedink is. 
Dit hoef nie eens 'n fisiese voorwerp of idee te wees nie.... Dit kan iets wees wat vir jou as persoon die lewe beter maak, of selfs jou net in staat stel om beter met ander oor die weg te kom. Idees hoef nie universele waarhede te bevat nie, dit hoef ook nie tydlose aksiomas reg of verkeerd te bewys nie. Dit hoef net vir 'n oomblik vir jou te werk. Iets vir jou duidelik te maak, 'n verskil aan jouself of iemand anders maak. 
Wat wel belangrik is, is dat mens nie 'n idee summier sal verwerp omdat daar mense is wat dink dit sal nie werk nie! Glo in jouself! Daar sal altyd mense wees wat dink jy is arrogant of oningelig of 'n dromer. 
Doen wat jy voel reg is... Moenie jouself vasketting aan konvensie omdat dit is wat die samelewing van jou verwag nie! Soms kan klein dingetjies 'n groot verskil maak. EN... Moet NOOIT opgee nie! Sukses is miskien net om die draai. (Of dalk nog vêr in die verskiet) maak nie saak nie, as jy nie 'n kaartjie koop nie, is jy nie in die trekking nie! 
As jy verkeerd bewys word met 'n teorie, het jy ten minste een, dalk 'n hele klomp ander mense gedwing om oor 'n sekere saak te dink en sodoende bygedra tot die korrekte oplossing! Dus is die vyand van die lewe stagnasie, konformasie, eenstemmigheid, onderdanigheid, aanvaarding. 


"Do not go gentle into that good night, 
rage, rage against the dying of the light...."

No comments:

Post a Comment