Sunday 22 April 2012

Die windtemmer Of is dit wind emmer?





Die windpomp het seker meer as enige ander masjien die streke weg van die riviere leefbaar vir die mens gemaak. Boere sou nie permanent op baie dele van die binneland kon bly en vee aanhou as dit nie vir die vindingryke meganiese windmakmaker was nie. Die skoonheid van die windpomp lê nie soseer in die vorm as sulks nie, maar in die funksie van die masjien...daardeur weer is die lyne funksioneel-versierend. Prag sonder praal. Mooi met 'n doel, die fassinering wat mens in die lyne voel spruit uit wat dit kan doen....nie oor hoe dit lyk nie. Dus 'n voorbeeld van hoe funksie vorm kan bepaal en tog steeds as mooi beskou kan word! 

Soos die wind die ratte draai
So draai ook weer die ratte in my kop.
Pasop! Pasop! Iemand hou jou dop!


Watter deel van menswees sou jou meer kon inspireer?
Watter deel sou jou wou vul met afkeer?
Sou jy, wyl jy na die dinge tuur, 
na huise, stede, mense, masjiene of natuur, 
sou jy ook dink aan wat of wie of hoe of hoekom, 
alles juis net so moet wees?
Sou dit saak gemaak het as 
dit net so bietjie anders was?


Dalk 'n bietjie dubbelsinnig meer 
dalk enkelvoudig  meer vermenigvuldig. 
Dalk kon mens dan meer as net een lewe ly: 
TERSELFDERTYD! 
Meer as een besluit kon neem: 
ONMIDDELIK!
'n bietjie meer 'n  keuse hê, 
van wat is reg en wat is nie so baie reg? 


Hoekom moet die paadjie dan, so nou en reguit wees?
Kan daar nie dalkies tòg 'n kortpad wees, 
na geluk of minder ongeluk?


Dalk is dit maar weereens so: 
'n selfbeskermende spoedbeheer- 
wat keer dat alles nie deur 
hierdie waansin van 
onbeheersde smag na meer, 
as gevolg van wegholspoed, 
uiteindelik sal disintegreer!

No comments:

Post a Comment