Sunday 14 October 2012

Sonde-val / -klim


Ek kyk na die sterre op 'n helder koue aand soos vanaand, 
ek dink: 
hmmmm, oulike liggies nè? 
Inderdaad! Sou ek sê.. 
Tot mens mooi kyk en dink wat daaragter lê. 

Elkeen 'n son, elkeen 'n vlam, 
helder en gloeiend, sommige reeds uitgebrand, 
die NOU en HOE van ons nietige self: 
Onbeduidend.. 
Dog vir ONS en dìe òm ons: 
Die middelpunt van die hele gewelf. 
Hoe weet mens wie waar is, 
wie wat is en hoe ons dan inpas? 



Nietig, ja nietig in die groter geheel, maar tog..... 
Wat sou dit ons kan skeel, as Andromeda vandag sou besluit om 'n miljoen sterre te laat inplof? 
Ons sou op die gouste nooit weet of dit so is, 
ons nageslag sal dalk al vlieg as hulle dit uitvind. 
Ja, vlieg met die vlerke van arende, 
vlieg met die navigasie van vlermuise, 
vlieg, ja.. 
sonder hulp. 

Wie weet wat gebeur nou in die vyfde kwadrant? 
Watter ster het ontplof met 'n slag? 
Watter eerste skeppingsson moes geoffer word 
om die stof te verskaf vir ons ringe, 
ons tande, ons selfone, onsself? 

Waarom moes Nostradamus in raaisels praat? 
Hoekom het da Vinci die vliegmasjien, 
wat hy ontwerp het, nie gebou nie? 
Sekerlik nie omdat hy nie WOU nie.... 

Die een ding volg die ander op, 
jy moet eers die pad bou, 
dan kan jy die perd met die wa laat galop. 
Die nood die roep die saak na vore. 
Noodsaaklikheid van nou 
was onbruikbaar net 'n paar jaar tevore! 

Wanneer is nou defnitief nou NOU? 
Is dit nou in Andromi-land, 
al weet ons nie vir miljoene jare of dit ooit nog bestaan aldaar? 
Of is dit netnou maar net gister, 
toe die Stegosaurus flussies dalk moes koes 
vir die ou boelie, Tyrannosaurus Rex? 

So hoe beduidend is een mens se hede en verlede, 
al behels dit ook dan twee? 
Sou dit verskil maak as die ene 
dalk met 'n effense behelsing 
'n ander se omhelsing opgehel het? 

Hoe sou ons weet? 
Hoekom moet ons weet 
wat is reg en wats verkeerd? 
Is DIT nie juis die deel wat maak 
dat ons nie heel net diere is nie? 

Was die sondeval nie dalk dan eerder: 
"Die sondeklim" gewees nie? 
Die vloek oor die aarde't dalk net 
die skille van hul oë af laat val. 
Die rede vir "sonde" is dat: die mense, 
as MENS nou verantwoordelikheid 
moet neem vir sy/haar aksies of versuime. 
Daar is nou nie meer verskoning van "Ek't nie geweet nie". 

Ons het verstand, 
ons moet dit nou gebruik 
om die langtermyn implikasies van aksies te beskou 
en VOOR DIE TYD te oordeel 
of dit nou tot voordeel van ons en ons naaste 
en die samelewing in totaal sal wees.. 
Nie net ter bevrediging van kortsigtige 
kort-termyn winste of drange nie....... 

Dus: 
Met kennis en insig kom verantwoordelikheid! 
Gebruik die kennis tot almal se voordeel, 
want miskien is dit in die korttermyn/selfsugtige beskouïng 
wat die "sonde" lê. 

DINK voor jy doen, 
dan sal jy die "Wet" onderhou. 
Die "Wet" is die pad van wedersydse langtermyn voordeel, 
vir die gemeenskap en samelewing, 
nie net een of twee persone nie. 
(Dink ekke.) 

......... Maar dis tog SO lekker om soms net te DOEN, 
SONDER om te DINK! 
(En selfs AS jy dink, 
liewer te besluit om maar eerder 'n bietjie tog te doen 
wat korttermyn bevrediging sal gee, 
want "môre is te laat vir my!"....)

No comments:

Post a Comment