Tuesday 2 October 2012

Wat jy sien: Sig of Insig? Wat jy hoor: Klank of kennis?



As ek na 'n foto, skildery of  ander prentjie kyk, nee staar...
Dan wonder ek wat sien ek daar.
Eienaardig dat 'n mens se brein en nie sy oë nie,
die ware sienwerk doen.

So as ek staar dan sien ek net wat ek WIL sien.  
So as ek dan nou hiperkrities hier wil wees:
Ek sien as't ware net my brein se eie interpretasie van die beeld,
die kunstenaar se lyne, in skakerings van blou,
die skilder se kleure in vorms van onthou.     

Dalk 'n dieper spieël,
'n emosioneel-getinte tonnel,
'n doolhof waar die fotograaf of skilder op die doek, die pad ontwerp om aan die kykersbrein
'n ervaringsreis na 'n ongekaarte binneplek te wys.
Nie net na binne in die kunstenaar se brein,
maar ook na die groter universele bewussyn.
Die vorms en skakerings van die beelde op die medium,
die interaksie met die kyker...
Elkeen sien iets bietjie anders, dalk iets effens ryker..  
Realiteit getint met nostalgie, intrige,
entosiasme,
ander dalk met simpatie, met empatie, of apatie..
agressie, liefde, haat, verbasing, lis..
Of af en toe 'n bietjie van 'n mengelmoes van alles saam geklits.

As die kunst'naar sou kon regkry om die kyker weer 'n tweede maal t'laat kyk,
het hy of sy dit reggekry om die aanskouer te laat dink.
Die sien is nie die ding nie,
die raaksien van die ding,
dit is die ware sien, die sin.
Die sintuig dien die sin, die brein,
die denke,
DIT is waar die ware sien-ervaring lê.
So interaksie van die kunst'naar en die kyk-naar is die kop'ling van die menswees-ding.

So wat sou mens sê,
wat sou in die skrywer of die digters' brein gebeur?
Kan jy sien wat jy wil sien,
of is dit wat nou geskrif staan in die klip of ink,
net wat die skrywer voorgee wat hy dink?
Dalk is dit wat agter daardie aksie is, juis die woord wat NIE geskryf is nie, wat die waarheid skyn te wees..
Wys hy/sy/dit dalk net wat hul wil hê wat jy moet sien?
Of dalk in 'n ander atmosfeer,
nog 'n donker eggo weer,
nog 'n spieëlbeeld van wat reeds die subjektiewe brein bedien?

So ontvou die psige,
openbaar in diepte die intrige
van die kunste-toornaar en sy/haar blykbaar nou gemesmeraaisde kyker-leser-denker: 
Vasgevang in interaksie van die dink-en-sien-ding/
sien-en-dinkding 
en die reis na ondervinding.

No comments:

Post a Comment