Monday, 8 October 2012

Hormonale verbale horibalisasie.


Onthou en vergeet.... 
Weerskante van hallo en kom-en-sweet, 
twee kante van dieselfde munt, 
hormoonbeheerde wil-en-het-jy-geweet. 

HET jy dit dan vergeet, is DÍT die punt?
Is dit al rede vir verlange na daardie tyd 
van amper-grootmens-maar-nog-kind?

Emosionele hoerery... 
is dit al wat ek deesdae kry?

Sou ons nie beter daaraan toe wees met net 'n halwe brein nie? 
'n halwe verstand, 'n halwe begrip, 
sonder dieper denke, sonder 'n gewete... 

Die mense in die strate, 
die alkohol-gepekeldes, gomgeplaktes, prefrontaalgelobotomiseerdes... 
hulle is dalk die gelukkiges. 

Geen wroeging oor wat reg-of-verkeerd-is. 
Al die denke-en-gewete uitgeblus. 
Waarom is daar altyd 'n hunkering in my 
na iets wat meer as net BESTAAN is? 

My totaliteit sukkel om die feite te aanvaar: 
'n mens is net 'n hormoongedrewe vleismasjien. 

Die brein, die lyf, die hart.... 
Alles net eilande drywend in 'n poel van swart.. 
Tyd genees, 
maar tyd vlieg net as jy kan vrolik wees! 
So die ergste tyd is relatiwiteit, 
verhoudingstyd, hersteltyd. 
As die ander een teen ligspoed by jou verbyskiet... 
en jy, 
herstelgebonde, dopamiengestremd, 
moet wag om reggemaak te word. 
Jou tenk hervul te kry, 
die balans in jou brein weer reg te kry. 
Dalk is dit die regte tyd om stil te sit en dink, 
te wag, te kyk, te peins. 
Soms is dit nie so lank nie, 
soms is die brein se -ienfabriek op 'n dubbelskof, 
soms op 'n sloerstaking.  
As ek dus lank genoeg geduldig is, 
sal die af-gevoel my wel verlaat. 

Dis insig wat mens rustig maak, 
my laat aanvaar dat ek moet wag. 
Adrenalien kan dalk my dag 'n kickstart gee, 
maar in die vleesgebonde heelal sal ek dubbeld moet betaal. 
Rente op rente vir spoed wat geleen word, 
dubbeld die tyd tot stabiliteit weer die hormoonbelans herstel. 
As jy inmeng moet jy aanhou inmeng. 
Alkohol en koffie, liefde en haat, 
emosionele wipwa gooi jou vir seker af. 
Niemand kan vir ewig op 'n trapmeul hol, 
sonder om te eet, te drink, te jol. 
Niemand kan net jol nie, 
niemand kan net hol nie. 

Al dink ons ons is hierdie super dinkmasien, 
is ons liggaamsfunksies onderhewig aan 'n chemiese refrein: 
adrenalien, insulien, testosteroon, progesteroon, estrogeen, serotanien, dopamien. 
Ons is net die dansers, volg die ritme aanmekaar...
die hormone slaan kitaar.  

Wat is ooit werklik "werklik" in mens se  emosionele lewe? 
Dis nie tasbaar of meetbaar nie, dis nie eksak nie. 
Daar is geen werklike regte en verkeerde antwoorde nie. 
Mens kan wakker word met trane in jou oë.. 
Jy kon gehuil het in die paar sekondes voor jy wakker skrik!
Snaaks dat dit jou inderwaarheid dan beter kan laat voel. 
Selfs trane het 'n goeie doel, 
'n manier om jou siel skoon te spoel, 
jou as't ware te vernuwe, 
jou vrese en swaarkry te kan agterlaat. 
Om te huil laat jou emosies as't ware weer balanseer, 
jy reset jou bias, 
alles begin weer op die verstekverstellings: 
Op nul.. 
Plus 0 minus 0, neutraal. 

Nou is jy reg vir die volgende maand, 
die uit balans hormone weer almal op hul plekke, 
regte vlakke weer gevind. 
Miskien is snot en trane baie onderskat! 

Ek het dit nodig gehad, 
maar ons mans huil mos nie sommer nie... 
Maar die brein se onderbewussyn weet wat ons benodig vir oorlewing...  
seker die dat ek die droom moes hê oor Altzheimers en vertroosting!  

No comments:

Post a Comment