Tuesday, 30 October 2012

Het


As ek 'n gedig moes skryf
Van hoe ek ons gesamentlikheid mis
En treur oor die verlies van jou lyf,
Sou dit uit selfsug wees.

Gemotiveerd deur my eiebelang. 

Gevoed deur my ego

Gedwing deur my begeerte

Om weer te wees waar ek eens op 'n tyd gewees het 
Om weer te doen wat ek eens op 'n tyd gedoen het
Om oor en oor te herleef 
Wat ek destyds so blasè geminag het...

Wat ek later met 'n bottel uit my gedagtes moes laat sink het 
(Of dis wat ek gedink het)

Miskien moes ek eerder 'n boodskap in die bottel gesit het...
As wat ek toegelaat het 
dat jy van my af weggedryf het
En ek gesink het 
Juis oor ek ons samesyn verdrink het...

Sunday, 14 October 2012

Sonde-val / -klim


Ek kyk na die sterre op 'n helder koue aand soos vanaand, 
ek dink: 
hmmmm, oulike liggies nè? 
Inderdaad! Sou ek sê.. 
Tot mens mooi kyk en dink wat daaragter lê. 

Elkeen 'n son, elkeen 'n vlam, 
helder en gloeiend, sommige reeds uitgebrand, 
die NOU en HOE van ons nietige self: 
Onbeduidend.. 
Dog vir ONS en dìe òm ons: 
Die middelpunt van die hele gewelf. 
Hoe weet mens wie waar is, 
wie wat is en hoe ons dan inpas? 



Nietig, ja nietig in die groter geheel, maar tog..... 
Wat sou dit ons kan skeel, as Andromeda vandag sou besluit om 'n miljoen sterre te laat inplof? 
Ons sou op die gouste nooit weet of dit so is, 
ons nageslag sal dalk al vlieg as hulle dit uitvind. 
Ja, vlieg met die vlerke van arende, 
vlieg met die navigasie van vlermuise, 
vlieg, ja.. 
sonder hulp. 

Wie weet wat gebeur nou in die vyfde kwadrant? 
Watter ster het ontplof met 'n slag? 
Watter eerste skeppingsson moes geoffer word 
om die stof te verskaf vir ons ringe, 
ons tande, ons selfone, onsself? 

Waarom moes Nostradamus in raaisels praat? 
Hoekom het da Vinci die vliegmasjien, 
wat hy ontwerp het, nie gebou nie? 
Sekerlik nie omdat hy nie WOU nie.... 

Die een ding volg die ander op, 
jy moet eers die pad bou, 
dan kan jy die perd met die wa laat galop. 
Die nood die roep die saak na vore. 
Noodsaaklikheid van nou 
was onbruikbaar net 'n paar jaar tevore! 

Wanneer is nou defnitief nou NOU? 
Is dit nou in Andromi-land, 
al weet ons nie vir miljoene jare of dit ooit nog bestaan aldaar? 
Of is dit netnou maar net gister, 
toe die Stegosaurus flussies dalk moes koes 
vir die ou boelie, Tyrannosaurus Rex? 

So hoe beduidend is een mens se hede en verlede, 
al behels dit ook dan twee? 
Sou dit verskil maak as die ene 
dalk met 'n effense behelsing 
'n ander se omhelsing opgehel het? 

Hoe sou ons weet? 
Hoekom moet ons weet 
wat is reg en wats verkeerd? 
Is DIT nie juis die deel wat maak 
dat ons nie heel net diere is nie? 

Was die sondeval nie dalk dan eerder: 
"Die sondeklim" gewees nie? 
Die vloek oor die aarde't dalk net 
die skille van hul oë af laat val. 
Die rede vir "sonde" is dat: die mense, 
as MENS nou verantwoordelikheid 
moet neem vir sy/haar aksies of versuime. 
Daar is nou nie meer verskoning van "Ek't nie geweet nie". 

Ons het verstand, 
ons moet dit nou gebruik 
om die langtermyn implikasies van aksies te beskou 
en VOOR DIE TYD te oordeel 
of dit nou tot voordeel van ons en ons naaste 
en die samelewing in totaal sal wees.. 
Nie net ter bevrediging van kortsigtige 
kort-termyn winste of drange nie....... 

Dus: 
Met kennis en insig kom verantwoordelikheid! 
Gebruik die kennis tot almal se voordeel, 
want miskien is dit in die korttermyn/selfsugtige beskouïng 
wat die "sonde" lê. 

DINK voor jy doen, 
dan sal jy die "Wet" onderhou. 
Die "Wet" is die pad van wedersydse langtermyn voordeel, 
vir die gemeenskap en samelewing, 
nie net een of twee persone nie. 
(Dink ekke.) 

......... Maar dis tog SO lekker om soms net te DOEN, 
SONDER om te DINK! 
(En selfs AS jy dink, 
liewer te besluit om maar eerder 'n bietjie tog te doen 
wat korttermyn bevrediging sal gee, 
want "môre is te laat vir my!"....)

Tuesday, 9 October 2012

Toffie


I think, therefore I am... 
I write, therefore you are... 
Aware of me... 
I am, therefore I think I am. 

Ek skryf dinge, ek onthou dinge, 
ek sukkel om te vergeet... 
Weird, sê julle? 
Ek moet bly wees daaroor! 
Sê julle, ja...

Ek weet dinge, 
dus wonder ek oor ander dinge... 
Hoe dit inmekaarsteek, 
hoekom dinge juis so is en nie sus... 
Dit vreet my tyd op, 
maak my weird in ander se oë. 

Soms word ek verkeerd verstaan, soms reg, 
maar my bedoeling word as sinistêr beskou, 
terwyl ek dit nie bewustelik in daardie lig sou beskou.  
So? 
Is ek inherent verkeerd aanmekaargeskroef? 

Is daar nog ander wat so is? 
Moet wees! 
MAAR... 
Die andere soos ek, 
sal dalk nie dìe soos ek waardeer nie. 

Ons is miskien nie heel te mal so mal oor onsself as wat ons dink ander oor ons behoort te wees nie. 
EN: 
AS ek dan nou iemand kry wat mal is oor my, 
sal ek so mal wees oor haar? 
Of is die lewe se doel om ons nie te bevredig nie, 
sodat ons altyd iets het om na te hunker, 
gedeeltelik ingelig, 
meestal deurmekaar? 

Ek draai stadig weg, 
soos 'n appel wat in toffie dryf. 
Ek draai om, 
probeer dit wat agter lê agter los. 
Vir my is dit pynlik, moeilik, hartseer. 
Ek is 'n versamelaar, 'n opgaarder, 
'n nie-weggooier. 

So is dit dieselfde in verhoudings. 
Ek sukkel om iets agter my te plaas. 
Ek verstaan nie mooi die manier van die konvensionele nie, 
die "soek 'n fout en blameer die ander een vir altyd" nie. 
Ek onthou die goeie, die lekker, 
die saamwees, die lag, die plesier.. 

Die sleg, die onaanpasbaarheid verdwyn. 
Seker maar goed almal is nie soos ek nie, 
dan sou sekere dinge nie kon eindig nie, 
nie kon plekmaak vir iets beters nie.... 

Tog.... 
Ek dink sekere mense maak voortydige besluite en hou daarby ten koste van hulself. 
Dit is egter 'n redelik simplistiese, 
subjektiewe mening van 'n redelike selfsugtige sterfling.... 

Ekke, 
net nog een van die oorspronklike gekke, 
een van die Peter Pan's.... 
Nog 'n middeljarige man wat verkies om nie oud te word nie. 
Nog 'n paar dinge te doen voor die jongeres hom onttroon. 
Gelukkig dink ek, kan ek nog 'n paar dinge doen.... 

Maar die enigste ware waarde in die gesprek, 
is dat ek wel weet dat tyd nie stilstaan nie, 
dat ek uiteindelik sal moet oorgee aan die pad van alle stoflike goed: 
veroudering, verswakking, verdwerging, verplooïng, 
die dood... 

Solank ek bewus is 
van die verloop van tyd, 
van die ware stand van sake, 
is daar sekerlik nie skade 
in die drink uit die fontein van die lewe nie... 
solank daar nog vog beskikbaar is! 

Monday, 8 October 2012

Hormonale verbale horibalisasie.


Onthou en vergeet.... 
Weerskante van hallo en kom-en-sweet, 
twee kante van dieselfde munt, 
hormoonbeheerde wil-en-het-jy-geweet. 

HET jy dit dan vergeet, is DÍT die punt?
Is dit al rede vir verlange na daardie tyd 
van amper-grootmens-maar-nog-kind?

Emosionele hoerery... 
is dit al wat ek deesdae kry?

Sou ons nie beter daaraan toe wees met net 'n halwe brein nie? 
'n halwe verstand, 'n halwe begrip, 
sonder dieper denke, sonder 'n gewete... 

Die mense in die strate, 
die alkohol-gepekeldes, gomgeplaktes, prefrontaalgelobotomiseerdes... 
hulle is dalk die gelukkiges. 

Geen wroeging oor wat reg-of-verkeerd-is. 
Al die denke-en-gewete uitgeblus. 
Waarom is daar altyd 'n hunkering in my 
na iets wat meer as net BESTAAN is? 

My totaliteit sukkel om die feite te aanvaar: 
'n mens is net 'n hormoongedrewe vleismasjien. 

Die brein, die lyf, die hart.... 
Alles net eilande drywend in 'n poel van swart.. 
Tyd genees, 
maar tyd vlieg net as jy kan vrolik wees! 
So die ergste tyd is relatiwiteit, 
verhoudingstyd, hersteltyd. 
As die ander een teen ligspoed by jou verbyskiet... 
en jy, 
herstelgebonde, dopamiengestremd, 
moet wag om reggemaak te word. 
Jou tenk hervul te kry, 
die balans in jou brein weer reg te kry. 
Dalk is dit die regte tyd om stil te sit en dink, 
te wag, te kyk, te peins. 
Soms is dit nie so lank nie, 
soms is die brein se -ienfabriek op 'n dubbelskof, 
soms op 'n sloerstaking.  
As ek dus lank genoeg geduldig is, 
sal die af-gevoel my wel verlaat. 

Dis insig wat mens rustig maak, 
my laat aanvaar dat ek moet wag. 
Adrenalien kan dalk my dag 'n kickstart gee, 
maar in die vleesgebonde heelal sal ek dubbeld moet betaal. 
Rente op rente vir spoed wat geleen word, 
dubbeld die tyd tot stabiliteit weer die hormoonbelans herstel. 
As jy inmeng moet jy aanhou inmeng. 
Alkohol en koffie, liefde en haat, 
emosionele wipwa gooi jou vir seker af. 
Niemand kan vir ewig op 'n trapmeul hol, 
sonder om te eet, te drink, te jol. 
Niemand kan net jol nie, 
niemand kan net hol nie. 

Al dink ons ons is hierdie super dinkmasien, 
is ons liggaamsfunksies onderhewig aan 'n chemiese refrein: 
adrenalien, insulien, testosteroon, progesteroon, estrogeen, serotanien, dopamien. 
Ons is net die dansers, volg die ritme aanmekaar...
die hormone slaan kitaar.  

Wat is ooit werklik "werklik" in mens se  emosionele lewe? 
Dis nie tasbaar of meetbaar nie, dis nie eksak nie. 
Daar is geen werklike regte en verkeerde antwoorde nie. 
Mens kan wakker word met trane in jou oë.. 
Jy kon gehuil het in die paar sekondes voor jy wakker skrik!
Snaaks dat dit jou inderwaarheid dan beter kan laat voel. 
Selfs trane het 'n goeie doel, 
'n manier om jou siel skoon te spoel, 
jou as't ware te vernuwe, 
jou vrese en swaarkry te kan agterlaat. 
Om te huil laat jou emosies as't ware weer balanseer, 
jy reset jou bias, 
alles begin weer op die verstekverstellings: 
Op nul.. 
Plus 0 minus 0, neutraal. 

Nou is jy reg vir die volgende maand, 
die uit balans hormone weer almal op hul plekke, 
regte vlakke weer gevind. 
Miskien is snot en trane baie onderskat! 

Ek het dit nodig gehad, 
maar ons mans huil mos nie sommer nie... 
Maar die brein se onderbewussyn weet wat ons benodig vir oorlewing...  
seker die dat ek die droom moes hê oor Altzheimers en vertroosting!  

Saturday, 6 October 2012

Maanskyn en Jasmyn in B# mineur


Eenuur! 
Die swart swaan swem stemloos deur die kobaltblou melkweg, 
die oppervlak onversteur, 
hoewel sy koue voete vir 'n vale onder die spieëlbeeld die water derigeer. 

Daars skaars 'n rimpeling in die poel
wyl ek die bloed van my hande afspoel.. 

Net die maan as getuie teen die westerkim: 
'n halwe lemoen, 
oranje gloed gevries 
in 'n tydknyptang, 
tussen vlieswolke met sagte tande 
en onopsigtelike rotasie 
van ons planeet wat die versapwerk doen. 

Stukkende koppe van bokke 
in die skerp wit lig, 
as die skoot klap, 
klaar vergeet.

Slegs die realiteitstoets bevestig: 
Die soet geur van muskus in die pronk,
bly kleef aan my hande 
soos 'n Lady McBeth-kol-gedagtetronk.






Tuesday, 2 October 2012

Wat jy sien: Sig of Insig? Wat jy hoor: Klank of kennis?



As ek na 'n foto, skildery of  ander prentjie kyk, nee staar...
Dan wonder ek wat sien ek daar.
Eienaardig dat 'n mens se brein en nie sy oë nie,
die ware sienwerk doen.

So as ek staar dan sien ek net wat ek WIL sien.  
So as ek dan nou hiperkrities hier wil wees:
Ek sien as't ware net my brein se eie interpretasie van die beeld,
die kunstenaar se lyne, in skakerings van blou,
die skilder se kleure in vorms van onthou.     

Dalk 'n dieper spieël,
'n emosioneel-getinte tonnel,
'n doolhof waar die fotograaf of skilder op die doek, die pad ontwerp om aan die kykersbrein
'n ervaringsreis na 'n ongekaarte binneplek te wys.
Nie net na binne in die kunstenaar se brein,
maar ook na die groter universele bewussyn.
Die vorms en skakerings van die beelde op die medium,
die interaksie met die kyker...
Elkeen sien iets bietjie anders, dalk iets effens ryker..  
Realiteit getint met nostalgie, intrige,
entosiasme,
ander dalk met simpatie, met empatie, of apatie..
agressie, liefde, haat, verbasing, lis..
Of af en toe 'n bietjie van 'n mengelmoes van alles saam geklits.

As die kunst'naar sou kon regkry om die kyker weer 'n tweede maal t'laat kyk,
het hy of sy dit reggekry om die aanskouer te laat dink.
Die sien is nie die ding nie,
die raaksien van die ding,
dit is die ware sien, die sin.
Die sintuig dien die sin, die brein,
die denke,
DIT is waar die ware sien-ervaring lê.
So interaksie van die kunst'naar en die kyk-naar is die kop'ling van die menswees-ding.

So wat sou mens sê,
wat sou in die skrywer of die digters' brein gebeur?
Kan jy sien wat jy wil sien,
of is dit wat nou geskrif staan in die klip of ink,
net wat die skrywer voorgee wat hy dink?
Dalk is dit wat agter daardie aksie is, juis die woord wat NIE geskryf is nie, wat die waarheid skyn te wees..
Wys hy/sy/dit dalk net wat hul wil hê wat jy moet sien?
Of dalk in 'n ander atmosfeer,
nog 'n donker eggo weer,
nog 'n spieëlbeeld van wat reeds die subjektiewe brein bedien?

So ontvou die psige,
openbaar in diepte die intrige
van die kunste-toornaar en sy/haar blykbaar nou gemesmeraaisde kyker-leser-denker: 
Vasgevang in interaksie van die dink-en-sien-ding/
sien-en-dinkding 
en die reis na ondervinding.