Monday 20 August 2012

Lente?


Die lente is hier, of ten minste temperatuurgewys. 
Nie met 'n ontploffing van kleure, geure en klank nie, eerder met rukke en stote soos 'n diesel wat proes proes voor hy vroegoggend vat. 
Nie die nuwe diesels waarin die vroutjies met die lang naels en rooi lippies hul kinders skool toe vat nie, nee, die ou Perkins en ADE's wat in die 80's en 70's en 60's in die trekkers en lorries ingebou is. Die wat soms quickstart nodig het in die winter, die glowplugs nie opgewasse vir minus 7 en kouer nie. 

Die wind waai soos hy waai in laat Augustus, op 'n kalm dag. Niks meer as 20, 30 kilometer per uur nie. Net genoeg om jou te sê: dis nie 'n gholfdag nie, dis nie 'n swemdag nie, dis 'n werksdag... Al waai die stof so af en toe in jou mond in, in jou oë in, in jou neus en ore in... 
Jy weet: Môre, oormore kom die vrugtebome se bloeisels uit. Wit pruimbloeisels, pienkes vir die perskes en die appelkose. 
Dan dink almal dit is lente. Hoewel die wit rook vroegoggend uit die diesel jou vertel: Die rypseisoen is nie verby voor Oom Paul verjaar het nie!

No comments:

Post a Comment