Sunday 26 August 2012

Julie-nag


Eenuur!
Die swart swaan gly geluidloos deur die kobaltblou melkweg, 
die oppervlak onversteur deur sy koue voete 
wat vir 'n vale onder die spieëlbeeld met die water veg. 
Daars skaars 'n rimpeling in die poel 
waarin ek die bloed van my hande afspoel. 

Net die maan teen die westerkim, 'n halwe lemoen, 
die versapte kleur gevries teen die berg 
deur die vlieswolke se knyptang van tyd 
en die onopsigtelike rotasie van ons planeet. 

Die stukkende koppe van die bokke in die skerp lig, 
as die skoot klap, klaar vergeet. 

1 comment:

  1. Eintlik is dit net 'n bietjie van 'n verandering aan "Oranje Blanje Blou" ... Dalk het hierdie timmer en snoei tog bietjie verbetering teweeggebring. ??? Wie sê wat?

    ReplyDelete