Thursday, 30 August 2012

Maanskyn en Jasmyn


Sy maak my mal, 
maar ek is nie mal oor haar nie. 
Miskien as gevolg van haar, maar dis ook nie 'n seker saak nie...

Die volmaan vat my slaap weg, 

skyn deur al wat gordyn is, 
verlig die stowwerige vlaktes met haar spookagtige tweedehandse lig. 
Sy beskou haarself as belangrik, verlig mos die nag, 
maar skyn net as die groot gele nie kan nie.. 
Dis nie eens haar eie lig nie, 
net 'n  weerkaatsing van ons geel ou sterretjie, 
ons geskommelde Son.  
Sy beroof die miljoene majestieuse sterre van die melkweg van hul  indrukwekkende unieke en oorspronklik-komplekse lig. 
Net omdat sy ons naaste buurvrou is. 
Nogtans besing die digters haar, asof sy watwonders is. 
Waarom is Maan, haar naam, die resiprook van "naam"?
Sy beheer mos die getye, 
kap ons jaar in maande op, 
merk die maand ook verder af in weke. 
Dalk is sy TOG belangrik, 
al beroof sy my van slaap..

Miskien moet ek net fokus op haar meer verleidelike streke: 

Hoe sy oor die horison loer, 
hoe sy saggies in 'n skraler vorm haar neervly, 
laatnag op die westerkim se vloer. 

La luna, la luna, daars 'n vreemde bekoring in dìe spieël-godin se silwer lig, 

maar haar ware aantrekkingskrag lê soos met alle vroue, 
nie in die sigbare skoonheid wat onbetwisbaar is, 
maar in die onverklaarde effek wat haar nabyheid op ons, 
haar betowerde onderdane het. 
So miskien, in weerwil van logika, 
verklaar Newton se gravitasiewet 
die verslawende towerkrag 
wat maanskyn en jasmyn, 
te midde van insomnia en migraine, 
op my het!

Monday, 27 August 2012

Die doel is heilig (of is dit salig) in die middel.


Die vlae staan weer stokstyf, 
die wind ruk, ruk so aan jou lyf. 
Die rigting is veranderlik, 
die sterkte heeltyd wispelturig. 

Die krygers van die wilde weer staan nader, 
elkeen met sy skyfgeweer. 
Die middel moet gevind word, 
die voorbereiding klaar, 
die projektiele is perfek, 
die lading lankal uitgewerk. 

In hierdie stryd sal mens en nuutste wapen kombineer 
teen wind en weer en elemente van natuur.  
Net een sal hier die oordeel vel: 
Die teiken van papier.
Net een sal wen, 
net die beste sal kan seëvier. 
Selfs dan sal hy (of sy) nooit die volmaakte telling kry, 
die een ding wat ons almal steeds begeer: 
Volkome selfbeheer!

Verhouding: Koppeling


Wat is die ideale verhouding?
50:50; 40:60; 90:10; niks:alles; 
of nog iets anders?
Hoekom noem ons dit verhoudings? 
Moes dit nie eerder koppelings gewees het nie?
Raakpunte, gesamentlikhede, genietinge.  
Nou word dit verwagtinge, verpligtinge, vernietiginge. 

Wat maak die verskille saak? 
Hoekom wil die een die ander verander? 
Dis tog juis die verkille wat die koppeling moontlik maak. 
Die passie, die pakket van verrassing. 

Die eerlike heerlike genieting:
Geselskap, gedagtes, gesprekke, 
word getransformeer tot gevegte, gevloek en geweld. 
Waarom wil die geesgenoot hom/haar as die oorheerser laat geld?
Die gawe gewer in die neurotiese nemer ontaard? 

Dalk moet verhoudings 'n vervaldatum hê, 
'n gedrukte instruksie om die die strydbyl neer te lê, 
die verhouding te verbreek, 
ander verbindings weer aan te lê.. 

Of: die goeie in die bekende te sien, 
dit wat ooreenkom te dien, 
dit wat verskil nalaat om te sê. 

So, vergeet die verhouding, bou die verbinding, 
smee 'n koppeling eerder as 'n verpligting. 

Sunday, 26 August 2012

Alleen of al-een?


Eensaam sê jy? 
Alleen sê jy? 
Wat sê jy?

Soms is ek alleen, eensaam. 
In verlange na 'n ander een. 
Maar nie alle alleen is 'n oorsaak van eensaam nie. 

Ek is baiemaal eensaam, 
maar nie alleen nie, 
alleen maar nie eensaam nie. 
Soms is ek altwee, maar dit is nie vreemd nie. 

Dit is ook nie ongewoon nie, maar as ek kon kies, sou ek eerder alleen wou wees.. 
as ek dan MOET eensaam wees. 

Om eensaam te wees en nie alleen nie, 
is soms die eensaamste van eensaam. 
Geen plek van rustigheid nie, 
geen tyd vir selfgesprek nie. 
Afgesny van jou beste vriend, 
jou binneste "ek". 

As ek dan eerder alleen kon wees, 
met net die wind, die son, die gees, 
sou dit makliker wees, 
die vertroosting kan dan in logika wees. 
Uitgeredeneer, afgewater, uitgesorteer. 

Tussen ander is dit soveel moeliker, 
jou eie stem verdof deur die gekwetter van die ander wat jou irriteer. 
Jou aandag word geëis 
deur die nimmereindigende gedruis, 
kollegas, geliefdes, gehates, 
getroudes, oorbodiges, verwardes.

Jou gedagtes vasgeketting deur konstante onderbrekings. 
Niks kan verwerk word nie, 
niks kan verpak word nie, 
geen saak kan afgesluit word nie, 
geen redes ter verduideliking nie. 
Net jy en jou hunkering...

Na wat? 
Na ietsie meer, 
na sinvol kommunikeer? 

So paradoksaal is die genesing vir die eensaamheid, 
nie altyd in tweesaamheid, 
maar in die alleenheid van die innerlike eenheid. 

Julie-nag


Eenuur!
Die swart swaan gly geluidloos deur die kobaltblou melkweg, 
die oppervlak onversteur deur sy koue voete 
wat vir 'n vale onder die spieëlbeeld met die water veg. 
Daars skaars 'n rimpeling in die poel 
waarin ek die bloed van my hande afspoel. 

Net die maan teen die westerkim, 'n halwe lemoen, 
die versapte kleur gevries teen die berg 
deur die vlieswolke se knyptang van tyd 
en die onopsigtelike rotasie van ons planeet. 

Die stukkende koppe van die bokke in die skerp lig, 
as die skoot klap, klaar vergeet. 

Thursday, 23 August 2012

Ek, Eiendoms Beperk.


Ek kyk na dinge wat ek doen, 
na ander wat ek gedoen het, 
na name waarop ek besluit het vir goed wat ek gemaak het, 
plekke wat ek geskep het, 
vir dinge wat ek gehoop het ek ontvang. 
Party oorspronklik, meeste generies, 
baie beïnvloed deur dit wat gesoek word. 
Doelloos, nutteloos, redeloos, hopeloos.  
Tog nie heel-te-mal nie. 
Nie funksieloos nie, miskien 'n bietjie disfunksioneel, 
maar dit is deel van my lewensfunksie, breinfunksie, filosofie.  

My nimmereindigende selfgesprek. 
Dinge wat tog soms ook ander tot voordeel strek, 
maar as ek moet eerlik wees, 
is alles uiteindelik gemotiveer deur die eie ek. 

Is dit nie tog die suiwerste, opregste dryfkrag wat daar is? 
Gestroop van alle suikersoet pretensie, 
deur jouself te gee wat nodig is, 
kan jy dan ook aan ander gee: sonder sorg, 
uit 'n bron van oorvloed, sterkte, krag. 
Sonder vrees dat jy dalk eendag in tekort sal wees?
Ek het nie baie nodig nie, dus is ek maklik vergenoegd. 
Dit's ook belangrik, anders raak jy nooit versadig, 
streef immer na meer, 
ek vermoed dat DIT die selfsug kompromiteer. 

Ek vind dit vreemd dat daar wel mense is wat hulself, 
hul eie haat, hul naaste mense minag, 
hul onderwerp aan 'n vreemde wreedaard se gesag. 

Ek skuld hul niks, die duisternis kan hul verswelg, 
hul kom daaruit, hulle sal daarnatoe terugkeer. 
Jy moet jouself liefhê, dan jou eie mense, 
jou gesin, dit is die waarheid, die einde en begin. 
Nie almal verstaan dit nie, 
nie almal sien dit raak nie, party besef dit nie eens nie. 
Soms kom ek dit self nie eens agter nie. 
Ek probeer nie "nice" wees nie, 
dus is dit wat ek doen nie vir my moeite nie. 
Ek probeer ook nie dwars wees nie, 
dus is dit wat ek sê, my eerlike opinie, 
reguit, sonder die verskuilde agenda van Brutus en kie. 

Party dink ek's oulik, party dink ek's kru, 
maar na alles geweeg is, 
is ek net ek: 'n individu. 

Monday, 20 August 2012

Lente?


Die lente is hier, of ten minste temperatuurgewys. 
Nie met 'n ontploffing van kleure, geure en klank nie, eerder met rukke en stote soos 'n diesel wat proes proes voor hy vroegoggend vat. 
Nie die nuwe diesels waarin die vroutjies met die lang naels en rooi lippies hul kinders skool toe vat nie, nee, die ou Perkins en ADE's wat in die 80's en 70's en 60's in die trekkers en lorries ingebou is. Die wat soms quickstart nodig het in die winter, die glowplugs nie opgewasse vir minus 7 en kouer nie. 

Die wind waai soos hy waai in laat Augustus, op 'n kalm dag. Niks meer as 20, 30 kilometer per uur nie. Net genoeg om jou te sê: dis nie 'n gholfdag nie, dis nie 'n swemdag nie, dis 'n werksdag... Al waai die stof so af en toe in jou mond in, in jou oë in, in jou neus en ore in... 
Jy weet: Môre, oormore kom die vrugtebome se bloeisels uit. Wit pruimbloeisels, pienkes vir die perskes en die appelkose. 
Dan dink almal dit is lente. Hoewel die wit rook vroegoggend uit die diesel jou vertel: Die rypseisoen is nie verby voor Oom Paul verjaar het nie!

Dig, digter, digmasjien: Dubbele Sonnet


Om te dig moet maklik wees...

Net 'n paar woorde in die regte reeks. 

Niks duister daaromtrent nie, hoe moeilik kan dit nou wees? 
'n treffende gedig kan so kort as net drie reëltjies wees. 
Nie te lank nie, dit wat ek nou geskryf het is dalk al veels te lank. 

Net 'n paar woorde met die letters reg gekies. 

Daars net ses en twintig letters om van uit te kies. 
Skommel bietjie, kies 'n paar, glad nie moeilik nie: siedaar! 

Om die lotto te kan wen, 

moet jy net ses nommers reg kan kies. 
Ses uit nege en veertig kan nie te moeilik wees nie.... 
Tot jy uitvind wat jy doen: 
Die wiskunde vertel jou anders: jou kans? 
Een uit dertien komma nege agt miljoen! 

So wat is my kans dan om 'n heel treffende gedig te skryf? 

Een wat werklik in 'n ander mens se brein indring, 
hom/haar kan vasvat om die lyf? 
Watse kans het ek, 'n ongekultiveerde boer, 
om iemand heel-te-mal:anders se hartsnare te kan roer? 
Dit behoort wel interessant te wees om na díe een se waarskynlikheid te loer..... 

Miskien moet ek werk maak van 'n digmasjien, 

'n ysterdigter soos 'n golem. 
Koud, geprogrammeer om net die regte woorde raak te sien. 
Dit kan gedoen word, hoor my lied, as ek 'n rekenaar die regte kunsies kon vertel. 
Ek skryf vir hom (of is dit haar) 'n paar reseppies net half klaar, wys dan die spoor en sê net: "Sa!". 
As my resep reg uitgewerk is, sal my snuffelaar die regte woorde uit gaan soek. 
Al die woorde wat ek benodig is mos in 'n boek! 
So soek en soek, probeer en pas, die elektron-bloedhond moet dit kry. 
Gaan haal die gans, die eend, die tarentaal. 
Ek het geskiet, dit is mos net 'n kwessie van gaan haal. 
Gaan soek daar in die water, gaan snuffel agter daardie bos. 
Toe nou jong! As dit nie werk nie, gaan slaap ons wragtig sonder kos! 

So wat dink jy, die leser van my plan? 

Sal ek dalk só die digter kan vervang?

Wintersomerherfs

Die winter wil nie los nie, buite waai die wind Augustus-styl met 'n Julie-byt. 
Elke jaar is ek verbaas oor die seisoene se jolyt. 

Die mense sê: "Die seisoene het verskuif".. 
Maar kort is ons geheues, 
groot is die verskeidenheid 
wat moeder natuur vir ons kan wys 

Sneeu soms in Augustus, 
reën in Juliemaand. 
Ons kan dit nie bestel nie, 
ons eet nie van 'n spyskaart nie. 

Maar as ons terugdink, 
ja, na lank lank gelede, 
sal ons onthou, 
sal ons die die ooreenkomste kry in die verlede. 

Ons lewens is te kort, 
ons onthou niksseggend in die groter plan. 
Waar's die Mamoete en die Terranosaurus dan? 

So shutup en geniet dit. 
Draai jou jas maar styf 
om die winterkurwes van jou lyf, 
vou altwee jou hande 
om die koffie en die sop. 

Môre, ja môre hou ook hierdie winter op!

Sunday, 19 August 2012

Waarheid onder 'n wit kombers


Nege vier en vyftig. 
Die wind ruk aan die deur. 
Weg is die wit illusie toe ek voor die huis parkeer.
Dit was skaars dertien uur, 
net so bietjie meer as 'n halwe dag, 
het my stad-sending geduur, 
maar van die sprokiesland wat ek verlaat het,
is net die ysige asem van die Suidewind nog hier. 

Dit herinner my: 
Ons winters is nie wit nie, 
ons winters is nie mooi nie. 
Ons winters is gewoonlik nie in 'n sneeukombers getooi nie. 
Ja, die suid Vrystaat is hard. Die suid Vrystaat is koud. 
Die yswind sny in Julie (én Augstus) vlymskerp deur jou boud. 

Vir een dag, hoogstens twee, lê die vlakte in 'n wit kombers geklee. 
'n wit kombers oor al die droë gras en brandmaer vee.
Ja, die winter is nie mooi nie, maar dit voer mens tog soms mee 
na tye sonder yswind, 
na dae sonder snee. 
Die lewe is nie winter nie, 
die lewe is nie lente nie, 
die lewe volg sy ritmes en sleep ons daarin mee. 
Daars dae waar die son opkom, 
die dam en krippe hard verys, die land en diere wit van ryp maar tog nie sonder hoop. 

Die wasems wys waar asems is, 
die spore in die ryp verraai die plekke waar die ribbok loop. 
En soos die waterstofbom-sonneblomligbron se infrarooi bestraling oor die landskap kom, 
ontdooi die diere, mense, gras.
Die paar gesmelte druppeltjies weerkaats in reënbooglenteprag: 
ons Somer wat net gister was. 

Thursday, 16 August 2012

'n Dag van gedigte en gedagtes.... Of sommer 'n klomp snert!


Met die wegsak van ons son
sak die donkerte neer op ons
Die maan kom effens later op, 
bring die tweedehandse lig.  
Met die loer oor die Oosterkim lyk sy soos 'n groot lemoen, 
'n bal met Prins Willem se familie-naam
Die in gaan uit en die uit gaan in. 
Soos die grote ons verlaat, 
skryf die kleintjie sy naam
Om 'n dag te begin, 
'n gedagte oor sy oorsprong te hê... 
Dit draai so daagliks op sy kop, 
die een volg die ander op. 
So as die dag verdwyn, 
volg die nag, of dalk die: n(ie)(d)ag
Dis eintlik baie meer reg, 
die nag moet wees, 
die nie-dag
Die tyd van nie-lig, die duisternis is dus: 
die gebrek aan lig. 

Deur by die deur in te gaan, word die binne die nie-buite, dus die b-inne, of dan die plek wat volg op die ingaan of die inne. 
Om inne te wees: "To b in." 
B-in(ne): binne. 
Dit werk ook vir (b)uite:
Deur uit te gaan, is jy in die (b)uite... lug. 
Dus buitelug. 
Taal is dus 'n lekker ding, 
jy moet net toelaat dat jou gedagtes al die paaie deur die eeue kan terugvat na die oorsprong. 
Spoorsny deur die gemeenskaplike gedagtes van die voorgeslagte.... 
Al die pad tot by die enkelvoudige begin. 
Of dit reg is of verkeerd, solank die redenasie reg is, 
is dit 'n moontlikheid: as dit logies klink, is dit logies.... "If it sounds Country man, that's what it is: Its a country song!" 
Om Kris Kristofferson aan te haal. 
Die taalspeurwerk is nie 'n eksakte wetenskap nie, maar wat is werklik eksak? 
Die kwantum fisika bewys aan ons dat niks so 1 eenduidig gedefineer is as wat ons dink nie. 
In alles is daar 'n mate van onsekerheid. 

Eintlik behoort dit mens te verbly. Dit hou die lewe interessant. 
Soveel te meer as daar mense betrokke is. Hulle maak alles nog meer kompleks, soms irrasioneel, onlogies, onvoorspelbaar: 
Dit maak met tye die lewe moeilik, maar verhoed ook dat ons in 'n nimmereindigende lus van dieselfde aksie oor en oor verval. 
Dit is al wat iets soos dit wat in :"Groundhog Day" uitgebeeld word, verhoed. 
So: Watse klein verandering in jou roetine gaan vandag jou lewe in 'n ander rigting stuur? Want dit KAN, as jy die klein dingetjies kans gee....