Monday 20 February 2012

Prospectstraat



Ek loop weer vêr, 
vêr in die verlede rond. 
Ek sien die Jakarandabome, 
kaal, sonder blom of blaar. 


Die son die skyn, 
maar die bome gooi nie skadus nie 
daar, in my geestesoog, 
sien ek die heining, silwer draad, 
die hekkies en die leiklippaadjies. 
Die karre op die grond sypaadjies, 
die gras, die tuin, die witgeverfde muur... 
van Mannemoet!


Die naambord teen die muur die wys: 
Hier bly studente! 
Tuks se manne, 
ou hanne...


Ek wonder hoe, of hoekom ek, 
as ek die visioen beskou, 
ek altyd dit uit die straat se hoek beskou. 
So of ek nooit heel deel was van 
die blyplek wat vir drie jaar tog my tuiste was...


Al ander visie wat ek sien, 
helder in my brein gebrand, 
is van 'n meisie wat
in 'n spikkel wit rok, 
sit op die kombuis se kas... 
Wyl ek by die ketel staan en wag... 
dat die ding moet kook! 


Ek onthou jou smile 
ek onthou jou stem...
Effens hees, dan weer bietjie hoog. 
Duidelik opgewonde 
vasberade om dit weg te steek. 


Ek wonder soms, 
wat dit was, wat 
ons so na mekaar toe aangetrek het.. 
en terselfdertyd so onverbiddelik van mekaar af weggestoot het. 
Twee magnete, 
net te sterk, 
die polariteite onstabiel. 
Verskillend, tog dieselfde, 
roterend, kragtig, 
moontlik twee pi uit fase, 
dalk 'n klein verskil in tyd en spoed, 
plaas ons op 'n SINusgolf van lief en leed, 
van drif en bloed, 
van "HMmm, oulik, skerp!" 
Tot "FOK jou, sterf!" Gaan weg! 
Los my uit! Moenie my pla! 
Vir jou het ek nou geen respek! .... 
MAAR... 
Wat jy sê, maak SIN, 
hoe jy dans, kan ek bemin, 
jou sêgoed  is tweesnydend swaard, 
dit lok, dit voed, 
dit beur my op, 
maar sny...
dit boor, dit delf te diep. 
Dit pynig op die senuwee 
van dink en doen en wonder hoe 
dit kon gewees het toe... 


As jy net toe jou masker kon begrawe het. 
En weerloos kon beken het dat: 
"Ek suip te veel, ek kort jou hulp!" 
Maar nee! 
Jy moes mos macho wees, 
jy kon nie weerloos lyk. 


En deesdae loop jy ewe trots, 
vertel vir almal wat wil hoor, 
jy het die lis van lus verloor, 
die duiwel van verslaaf oorwin. 


Tog is die slaaf verslaaf 
aan wat die slaaf se siel begeer. 
Soms is dit goed vir hom, 
soms net net een te veel. 


Die onbeheerste wegholspoed 
lei onlosmaaklik tot 'n  disintegrasie, 
of 'n vasbrand, heel solied,
sonder hoop op restourasie. 


Positiewe t'rugvoer blaas die vlam 
in die hart se smeltkroes aan 
tot 'n blou-witwarm temperatuur, 
waar selfs die hardste van metale in die vuur 
se helder gloed sal  drup en vloei. 
Geen terugkeer na die basiskonformasie. 


Alles ondergaan die fasetransformasie,  
in die helder gloed word als amorf...  
Dan oorgegiet in anderster matrys, 
waar dit afkoel om,
soos 'n feniks, 
as 'n ander voorwerp te herrys.


Maar in hierdie onvolmaakte lewe
het ook die nuutgegote wiel
'n ontwerpte lewensduurte 
van skaars een miloen omwentelings,
eer dit ook deur die onbeheerste wegholspoed
se sentrifugale kragefekte  
uitmekaar sal spat...

No comments:

Post a Comment