Tuesday 14 February 2012

Die Mens, die WET en die WAARHEID.. Werklikheid?

Jy mag nie begeer nie...
Maar sonder begeerte is daar nie motivering vir werk bo die minimum om aan die lewe te bly nie! Om die waarheid te sê, die sondeval is die direkte rede vir alle vordering en ontwikkeling wat die mens in die laaste 6000 ?? jaar gemaak het. 
Ontwikkeling van kennis van goed en kwaad, daarmee saam die ambisie/begeerte tot iets beter... 
DIT het die mensdom laat vorder van 'n jagter met klippunt wapens tot 'n wese in die ruimte/elektroniese/kerneeu. 


Jy mag nie steel nie....
Maar die staat eis meer as sy deel en verkwis dit op onheilighede! Maar as daar geen belasting gehef word nie, sal daar geen infrastruktuur wees nie... Nie dat daar juis waarde vir belastinggeld vir die belastingbetaler deesdae is nie! Tog, die beginsel van belasting vir gebruik deur die staat om noodsaaklike dienste en fasiliteite aan die gemeenskap as geheel te lewer, is 'n goeie een. Dis net in die toekenning van fondse en die toepassing van die dienste waar die probleem ontstaan. 


Jy mag nie doodslaan nie....
Maar jy MOET jouself en jou familie en ook jou land en volk teen agressors verdedig! Met dodelike mag, veral in 'n oorlogsituasie. Dan vereis al die wette dit. Bybels en landswette. Maar wat as die regering van die dag jou en jou mense nie goedgesindis nie? 
As die moordenaar en die rower meer beskerming geniet as die wetsgehoorsame burger wat rustig by die huis sit en dan aangeval word? Moet hy dit maar aanvaar? Of is hy geregtig/verplig om iets aan die situasie te doen? 


Jy mag nie egbreek nie....
Maar hoe eg is die eg wat gebreek word? Wanneer word dit gebreek en wanneer dalk net bietjie verbuig? Is dit die eg wat die grond toemaak nadat die saad geplant word, of is dit die eg wat die kluite fynmaak vir 'n lekker saadbed VOOR die saad geplant word? Mag mens net een eg hê, of kan mens maar 'n groot eg vir die kluiterige land hê en 'n fyner een vir die sandgrond? Wanneer is die eg dan gebreek?  As daar een tand skeef is, of moet daar ten minste 'n hele ry tande uit wees voor mens kan sê dat dit gebreek is? 


Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie...
Maar as jy iemand in die hof aankla en hy/sy/dit word onskuldig bevind, het jy dan valse getuienis gelewer? Of as dit 'n onbillike regter is en 'n werklike onskuldige word skuldig bevind, maak dit dan van hom/haar 'n skuldige? Wat van as daar 'n onbillike wet deur 'n spul onbeholpe/kwaadwillige parlementslede deurgevoer word? Is iemand wat dan die wet oortree en aangekla, skuldig bevind word, skuldig aan 'n misdryf, of is die aanklaer en regter eerder skuldig aan valse getuienis en bevordering van die kwaad/bose? Is die aanklaer in diens van die waarheid of van die staat? Is die wet die baas of swaai die WET die septer? Vrymesselaar of VRYE Bouer van die waarheid?? 
Wie seëvier? Wet of Waarheid?

No comments:

Post a Comment