Thursday 16 February 2012

Skepping (s) drang

Ek dink dat...
Die skeppingsdrang
Die absolute dryfkrag
Van die kunstenaar,
die skrywer,
dalk die skilder ook,
dit alles word gedryf
deur dieselfde chemie as
die vrou se barendsnood.
Dieselfde hormoon of krag,
dryf ons almal om te skep...
of dit 'n lewe is of vers,
'n borsbeeld of portret,
'n foto of 'n landskap,
dits alles net 'n uitlaatklep.
Die wroeging van die skrywer,
die sukkel van die skilder,
alles net 'n masker vir die dier se lus...


En as dit eers bevredig is,
Dan is die drang vireers weer weg,
gedemp, gedoof, geblus.


Hoeveel seks is net genoeg,
om hierdie hoër skeppingsdrang
te stimuleer,
maar nie heel uit te doof
of af te sit?


Moet die lus dan eers daar wees,
of moet die satisfaksie
die skeppingsaksie vooraf gaan,
totdat die brein dan, onbelemmerd,
onbesoedeld deur die dier se drang,
weer rustig voort kan gaan
op sy skeppingsbaan?


Of moet die soeke na iets hoërs altyd maar die mens kasty,
totdat hy (of sy)
die kuns in hom (of haar)
net soos orgasme openbaar?


Hoe diep gewortel is die skeppingsdrang,
noop dit mense om,
aanvullend tot die dier
se hormoongedrewe skepping van 'n nageslag,
na die dood geneties te kan voortbestaan,
daar ook iets anders blywend moet oorleef?


Iets van jouself, jou brein, jou siel.
In plaas van net weer nog 'n kerfie op jou spieël?
Of is daar TOG iets anders aan die mens,
wat hom of haar kan dryf
tot selfs nog hoër dinge
as wat hy selfs eens sou kon wens?
Hoe maak hy/sy van dit 'n skeppingswerk,
iets unieks,
as al wat dryf die Raka binne-in ons almal slegs laat tiek?
Sê my hoe,
hoe weet die mens om iets te sê of doen
wat ander wel sal raak,
of dan selfs diep sal tref?
Is dit dan altyd iets oorspronkliks?
Of dalk net 'n reproduksie van 'n ander een se werk?


Kan 'n verwerking wel as satisfaksie werk?
Is daar werklik nog steeds iets soos werklik heel uniek?
Is alles nie maar net verwerkte retoriek?
Hoe oorspronklik moet iets wees,
om geheel oorspronklik te kan wees?
Die woorde in 'n sin
is tog reeds deur soveel ander al gebruik,
selfs in dieselfde orde,
oor en oor.


Maar TOG,
dalk val dit sag en glad,
uniek,
op iemand vreemd se oor.


Die stukkies wat een weggooi,
word deur ander weer vervorm.
Tot heel, volmaak gevormde stene,
bruikbaar in die meesterbouershand.
Om dan in heel 'n ander kombinasie,
in iets nuuts te kan beland.

No comments:

Post a Comment