Friday 17 February 2012

Kevlar vir die hart

Ek het 'n probleem.... Ek besit die vermoeë om mense, veral vroumense, geweldig te antagoniseer.


Waarom dit gebeur, is ek nie  heel seker nie, wat ek wel al van hulle gehoor het, is dat ek:
1) "Arrogant" is
2)"Te veel van myself dink"
3)"Nie respek vir hulle het nie."
4)"Boers" is.
????????????
Dit komend van verskeie dames wat eens op 'n tyd heel goed met my oor die weg gekom het!


Dit het my nou al lank aan die dink.... 
Wat is dit in my persoonlikheid wat die reaksie veroorsaak? Ek kan nie sê dat ek kwade bedoelings teenoor enige van hulle gehad het nie. Ek is wel nogal eiewys en tot 'n mate kompeterend, maar ek waardeer goeie eienskappe in vroue. Intelligensie is seker een van die belangrikste eienskappe wat my aangetrokke laat voel teenoor 'n vrou. Selfvertroue is nog een. 
Ek is egter nie juis bekend vir my takt nie. Ek kan soms brutaal eerlik wees en dit is moontlik waar die moeilikheid begin. 


Dit wil vir my voorkom asof sekere mense, veral vroue, dit as 'n belediging beskou as iemand enige kritiek, hoe opbouend dit ookal bedoel was, lewer op hulle doen en late, hul voorkoms of hul familie se modus oprandi.
Ek sê soms dinge impulsief, maar dit is meestal nie met slegte bedoelings nie. Soms gebeur dit dat ek dink dat alles heel goed gaan, net om die volgende oomblik te hoor ek het een of ander onverskoonbare persoonlikheidsfout.


Ek het egter 'n teorie: 
Meeste van die dames wat ek aantreklik vind, het vir hulle hele lewe teen mans gekompeteer en baklei om hulself te laat geld in hulle professionele hoedanighede asook as jong mense in die gesin, aangesien hulle nie die "tipiese vrou/dame/dogter" was of is nie. Hulle is dus gewoond daaraan dat daar altyd vooroordeel teen hulle manier van doen is en dat mans (en veral ook ander vroue) op hulle jaloers is en "teen hulle saamsweer" sodat hulle nie suksesvol sal wees nie! Die aangeleerde verdedigingstegniek van: Maak seker dat jy die eerste hou inkry, of "Ek WEET jy dink ek is dom/verkeerd/dwars/onvroulik" veroorsaak dat hulle op 'n sekere manier optree wat dan enige middeweg onmoontlik maak. Vir hulle is die erkenning van 'n fout of selfs 'n baie effense nalating onmoontlik! Hulle sal eerder skei of moor as om selfondersoekend te wees en te erken dat hulle WEL verkeerd KON gewees het. Hulle glo onwrikbaar in hul eie opinie en eerste (of latere) indrukke. Niks is vir hulle 'n alleenstaande insident of 'n optrede wat deur 'n spesifieke situasie veroorsaak of aangeblaas is nie. Nee, alles is aan alles verbind en een verkeerde aksie van iemand is onvergeefbaar! As die man in hulle lewe of dan iemand anders nog die "arrogansie" het om nie te BESEF dat hy/sy minderwaardig en verkeerd is nie, DAN is dit 'n ewige stryd. 


Die ergste is as die persoon, in die geval ek, dit regkry om deur die pantserpak te dring en insig in die probleem kry. Dan moet ek in die buitenste duisternis uitgewerp word voordat ek dalk NOG 'n swak plek in die mondering kry! (Want dit sal tog net tot haar nadeel aangewend word en haar meer emosionele pyn veroorsaak.) Die grootste probleem is as die vrou besef dat, ten spyte van alle rasionele denke en redenasies, sy besef dat sy my geselskap geniet! DIT mag nie! Want mans kan mos nie net vriende wees nie.... En NOG ERGER, sy kom agter dat sy op 'n dieper vlak tot my aangetrokke voel, ten spyte daarvan dat sy lankal besef (en BESLUIT) het dat ek nie 'n goeie opsie is nie. Veel erger is as sy my tot die verlede verban het en ek weier om die vloek wat oor my uitgespreek is te aanvaar. DIT is onvergeeflik! Dit is nie RESPEKVOL nie! 


Wel, wel, wel, ... "I think respect is overrated" 


Daar moet natuurlik wedersydse respek wees in enige gesonde verhouding, sowel by die werk as in interpersoonlike verhoudings. Die probleem is net dat te veel "respek" sal lei tot afsydigheid en en 'n tekort aan intiemiteit. Mense sal mekaar nooit leer ken nie. 
Hulle sal nie die regte "moeilike" vrae vra nie, hulle sal nie mekaar se seer oopkrap en sorg dat die ontsteking uitgewas kan word sodat genesing kan plaasvind nie. Alles sal formeel en opppervlakkig bly.
Die tekort aan "respek" kan natuurlik pynlik wees. Dit kan veroorsaak dat sekere dinge geopenbaar word wat die persoon nie graag oor wil praat nie. Dit kan die vrees laat ontstaan dat die ander party die inligting as 'n wapen kan gebruik TEEN die een wat dit geopenbaar het, veral as daar op een of ander stadium 'n breuk in die verhouding ontstaan. Die is egter 'n risiko wat mens maar mee moet saamleef as jy werklik 'n vriendskap/verhouding wil hê wat opreg is.


Ek vermoed ek kry dit reg om, sonder dat ek dit weet, 'n lasplek of gapingtjie in die skarnierplekke van die staal wapenrusting te vind. Soos 'n vink wat 'n grassie pluk en dan 'n nes bou deur die grassie behendig te weef en knoop tot dit stewig genoeg is om in te bly... Net in trurat! Ek kry my hand of verstand ingewurm deur die skarniere en kry dan dalk 'n stukkie van die beskermende onderklere in die hande. Dan rafel ek die sorgvuldig gebreide isolasie teen die wêreld stukkie vir stukkie uit, totdat sy dalk eendag besef: Ek staan sonder die pantser! 


Nou is die probleem watter aksie om te neem... 
1)Aanvaar die nuwe mode en loop verder deur die lewe met 'n vriend aan jou sy, sonder die lae en lae isolasie en staal?


2) Slaan my met die naaste beskikbare wapen van woorde en meer, hardloop terug na waar die pantser lê, brei van voor af die isolerende lae en trek dit een vir een aan, al strem dit jou beweging in so 'n mate dat dit die lewe met tye pynlik en soms baie ongemaklik maak?


3) 'N kombinasie van die bogenoemde? Met een kinkel: Ek, die ontkleër, die bevryder, word met die vloek van sensuur geslaan, want dit was "disrespekvol" om haar van die pantserpak te bevry!


Ek het 'n blinde vriend wat soms baie insiggewende dinge kan kwytraak. Hy het vir my gesê: "Om die regte inligting te kan kry, moet jy die regte vrae vra."
Ja, ek weet dit is seker 'n ou stelling wat uit 'n ander oord kom, maar dit was vir my besonder treffend omdat hy vir my die pad na sy blyplek in Johannesburg kon verduidelik sonder dat hy dit ooit gesien het! Hy kon dit doen omdat hy nie toegelaat het dat hy deur allerhande onbenullighede van stryk gebring word nie.
Hy het op die regte plekke vir die regte mense die regte vrae gevra, dus het hy die regte, bruikbare inligting verkry! As mens nie hou van wat jy in die spieël sien nie, moet jy nie die spieël breek nie! Jy moet die regte vrae vra en dan die regte antwoorde op die regte manier toepas! 
Die eerste vraag moet natuurlik wees: "Is die spieël 'n plat vlak in alle rigtings?" Sien ek dus 'n "lewensgetroue" beeld van wat ek wil sien?
DIT is seker een van die moeilikste dinge in enige selfondersoek...


DAAROM moet mens weet wie werklik jou vriende is. Jou vriende is nie diegene wat jou altyd prys en troos nie. Nee, dit is die wat nie skroom om jou te sê as jy nie so reg is as wat jy dink nie! Jy moet egter ook aanvaar dat alles in die lewe soos 'n geslypte diamant uit baie fassette bestaan en dat daar ook dinge is waar in ander mag dink jy is verkeerd, waar jy inderdaad WEL die enigste "regte" een is... 
Onwaarskynlik, maar moontlik! Jy moet dus getrou aan jouself wees en eerlik in jou soeke na die waarheid. 


Dit kan selfs wees dat dit wat ek nou kwytgeraak het totale snert is! 
Die moontlikheid bestaan dat ek dalk 'n arrogante egoïs is. 
Dat ek wel "boers" is en dat ek net vir myself omgee... 
Maar die ander kant van die munt is dat daar ook ander mense is wat aan dieselfde afwykings ly en dit nie wil weet nie! 
Ek dink om "boers" te wees is dalk net 'n gesegde wat iemand wat pretensieus is kan raaksien. 
Dit is in elk geval vir my so 'n misplaaste uitdrukking.. uitgedink deur die Engelse/Britse vroue-en-kindermoordenaars gedurende die Anglo Boere oorlog sodat hulle 'n swak konnotasie aan die Boere kan heg sodat dit vir hulle makliker sou wees om met hulle gewetes te kan saamleef ten spyte van die gruweldade in die konsentrasiekampe. (As hulle hoegenaamd gewetes gehad het)

2 comments:

  1. Miskien is ek verkeerd op ten minste 1 punt!!...
    Respek is dalk UNDER RATED!... Op die lang duur kan mens sonder baie dinge klaarkom in 'n verhouding, maar wat dit uiteindelik oor die afgrond stuur, is 'n gebrek aan RESPEK!
    (Hoewel ek nog steeds dink dit is 'n tweesnydende swaard... TE VEEL "respek" ondermyn kennis en kommunikasie... TE MIN laat onnadenkende kwetsende uitsprake en gedrag die ander party antagoniseer.)

    ReplyDelete
  2. Daar is nie 'n maklike antwoord op die een nie! ...
    Maar dan is daar mos in elk geval nie maklike antwoorde op die vrae oor interpersoonlike verhoudings nie.

    Ek vermoed eerlike kommunikasie, sonder vrees vir kritiek, is die antwoord. As mens volkome veilig voel in 'n verhouding, die vertroue het dat, maak nie saak wat jy sê of doen, jy nie verwerp sal word nie, kan die respek-dillemma opgelos word.

    ReplyDelete