Monday 3 September 2012

Vrypipperment


Bedwelmde denke stel dit voor:
Vra haar vir 'n dans, 
draai haar dronkomtalie, 
druk haar teen jou vas. 

Vrypeperment, trougeskenk, 
gladde soet speelinstrument. 

Werklikheid ontbloot veel meer: 
Skaakspel van die lewe wys watter lewenswyse wese 
agter die oënskynlik skadelose glimlag was. 

Hierdie balletjie kamma-soetvermaak, 
toegedraai in onskuldig-lykend denkendaad,
blyk toe mikroskopies te bestaan 
uit veel meer as dit wat sigbaar is in wit gewaad. 

Wat van vêr as gladde klip 
en suikersoet imperial vertoon, 
is toe inderwaarheid fyn ontwerpte sleutels 
om genetika te kloon. 

Al die lopers vir my hart, 
al die kodes vir my brein, 
pasgemaakte sleutels wat 
nou skielik uit die niet verskyn.  

Uit die tussenspasies vloei hormone vir my lyf!
Onwetend dat die sleutels se gebruik 
terselfdertyd jou hart verstyf. 

Soos virus-RNA spuit jou wese my te binne, 
jy is 'n genooide gas, jy en jou bagasie: bly te kenne.  
Maar.. Diep binne-in die kern van my siel, 
word my wil, my denke, 
heel my self, my eie ek, vervang. 

Alles in my DNS word: ontheliks, ontrafel, ontsyfer.. 
tot al wat oorbly is: enkelvoudig bousteensure 
wat aan 'n eens-komplekse raamwerk hang. 

My wese word verander tot 'n kloon van jou,
ek word binne-in my wese na jou kode omgebou.
Daar werk die programmeringshoofagent: 
Eksklusiewe en/of-stellings, wat dan outomaties brûe brand, 
seker maak die die nuwe ek is permanent.  

Hoe meer ek my ontbloot aan jou, 
hoe minder fasineer ek jou,  

Ek, vasgevang in hierdie web, kan net hulploos spartel, 
hoe lank sal ek myself nog aanhou martel?

Miskien is ek onnodig skyn-bewoeë:
Ek's vrywillig hulpeloos verslaaf aan alles 
agter daardie kamma-stroopsoet dryfsandoë.

1 comment:

  1. Ek sal maar kommentaar lewer op my eie "skepping".. As ek dit weer 'n paar keer deurlees, wil ek dit dalk verander, van die dinge "verbeter" totdat dit nie meer trefkrag het nie.
    Sekere dinge wat ek lees en hoor steek in my kop vas. Ander kere kom daar 'n sekere beeld in my gedagtes op, dit bly daar vassteek en later stort die woorde sommer so na buite.
    Dit vertel van gevoel, ook van ervaring, van persepsies van omstandighede, gebeure..
    Agterna dink ek soms dit is te emosioneel, pretensieus, oneerlik. Maar êrens is daar tog 'n draad van eerlikheid, hoewel dit miskien deur my misbruik word (die emosie) om die skepping/kreatiewe sy in my na vore te bring. Dit is amper soos meditasie tot mens in 'n ietwat van 'n "zone" is.. Ek het dit nodig om my skeppende deel aan te skakel en die rasionele, wiskundig/eksakte self af te skakel of dan eerder effens te onderdruk.
    Ek sou seker oneerlik wees as ek sê dat ek nie effens aangetrokke voel tot die pepermentjie nie, maar ek vermoed ek mis bruik dit om myself in die "skryfzone" te kry. Ek hoop ek is nie werklik so 'n egoïs soos Narsisis nie, maar is ons nie maar almal so 'n bietjie SO nie? Solank ons dit kan manipuleer om iets goeds na vore te bring!

    ReplyDelete