Tuesday 4 September 2012

Poel van gevoel


Ek duik diep in die koel donker poel. 
Tot onder, 
waar die lig verminder tot ek net die amper- lig van bo kan sien, 
net die druk om my kan voel.  

My asem raak nie op nie, 
ek kan vrylik asemhaal, 
die stilte en die vrede omring my in die duister. 

Die borrels hier en daar is al wat my omgewingsligging kan  verraai.  
Ek voel bevry, verander, gewigloos, pligloos, verheerlik, verdiep. 
My gedagtes grensloos, soekend, vindend, versadig, ontketting. 
Weg van die wêreld, beskuldigings, gewetenswroegings, selfkastyding. 

Dit is bevryding. 
Dit is droom, 
net voor vasslaap, 
net voor wakkermaak. 

Dit is hemels, dit is vryheid, 
dit is swem in die ewigheid.  
Dit is ek in jou, dit is jy deur my, 
dit is ons, dit is werklik meer as werklikheid, 
fantasties meer as fantasie. 

Dit is lewe in 'n droom.

1 comment:

  1. Soms, net voor ek aan die slaap raak, kry ek die gevoel. Asof ek in 'n diep sagte poel induik, die induik is nie met 'n plons nie, dit is meer asof die omgewing geleidelik digter om my sluit, soos wanneer mens met 'n scuba tenk in 'n warm poel afsak..... dieper en dieper, net sonder die pyn in die ore. Gewigloos, vry, bevry van die grense van die land en swaartekrag.

    ReplyDelete