Sunday 11 March 2012

Venus Aarde Mars Jupiter

Venus en Jupiter is deesdae nogal skynbaar "na" aan mekaar. Altans so lyk dit vir ons as ons van die Aarde af kyk. Kort na sononder is dit die helder "sterre" in die wes-noordweste. Deur 'n 20x of groter teleskoop kan mens nogal Jupiter se mane ook mooi sien, dit is 4 helder kopspeld-gaatjie grootte liggies wat in 'n lyn langs Jupiter op verskillende afstande lê. Elke aand is hulle op 'n ander plek. Soms is al 4aan die selfde kant van Jupiter, soms is hulle 2, 2 weerskante gegroepeer, soms 1, 3. Soms is minder van hulle sigbaar, dan beteken dit die ander is of "agter" Jupiter of "voor" die planeet. Dan kan mens hulle nie onderskei van die helderder lig van die groter hemelliggaam nie. Interessant genoeg was die mane van Jupiter die eerste manier van "sinchronisering" van die horlosies regoor die aarde. Daar is toe ook tabelle opgestel met tye relatief tot "greenwich mean time" van wanneer die een of ander maan van Jupiter gaan "verdwyn" deur agter die planeet in te skuif. dit kon met 'n teleskoop waargeneem word van enige plek op die aarde waar dit op daardie oomblik nag was, dit het op dieselfde tydstip gebeur, aangesien die relatiewe posisie enige plek op die aarde nie veel verskil gemaak het aan die siglyn na Jupiter nie, aangesien dit so vêr weg is relatief tot die deursnee van die Aarde. Met gesinchroniseerde horlosies kon die seevarders en kaartmakers dus die lengtegraad van 'n plek op die aardbol bepaal relatief tot 0, oftewel Greenwich. Nog al 'n oulike dog eenvoudige metode.
Venus is die helderste van die twee planete, op die oomblik links onder Jupiter. 


Noudat die maan weer bietjie later opkom, kan mens die twee baie mooi sien vroegaand.
Mars is ook redelik helder, maar nie soos Venus en Jupiter nie. Mars sit nader aan die vertikaal op die oomblik  as mens so 8uur die aand kyk. Sy rooi skynsel maak hom redelk maklik herkenbaar tussen al die ander ligbronne in die naghemel. 


Ek dink mens kan dalk 'n paar treffende foto's van die planete neem met 'n lekker lang lens op die oomblik....

1 comment:

  1. Ek wonder soms of ek, as ek 'n paar duisend jaar gelede geleef het, tot die besef sou kon kom dat die liggies in die naghemel meestal sonne en 'n paar ander enorme klippe is?
    Hoeveel van ons sou, as ons dit nie gelees/gehoor/geleer het nie, tot die gevolgtrekking gekom het dat die aarde draai....???
    Draai, nie net om homself nie, maar ook om die son!
    Ek vermoed die sleutel tot die wysheid is waarskynlik die maan. As mens elke nag na die hemel kyk, sal die fases van die maan en die "somer herfs winter lente" van die seisoene dalk op 'n stadium die liggie laat aangaan in jou kop....
    Dalk het vele jagters van weleer tussen die Mamoetsop voorgereg en sneeuhoender hoofgereg tot die gevolgtrekking gekom dat die aarde dalk nie plat is nie... Dat die maan om die aarde draai en die altwee om die son! Dat daar in die eindelose uitspansel dalk nog iemand soos hy sit en wag vir die poeding van braambessies en heuning..
    Die probleem was waarskynlik by die ander gesin/familie/stamlede wat dit nie so gesien het nie. Hulle sou hom (of haar) dalk gespot het oor die mal idees, of verban het, of dalk met klippe doodgeslaan het as 'n ketter!!!
    So word die liggies van kennis en insig deur die millenia verdoof en verdof deur die oorbeligting van die meerderheid se sê en "kennis"

    ReplyDelete