Thursday 22 March 2012

Om 'n polinoom op te los.....


In wiskunde word gesê dat, om 'n probleem met meer as een onbekende op te los, daar vir elke onbekende 'n onafhanklike vergelyking opgestel moet word. Dus, om 'n probleem met n onbekendes 1 eenduidig op te los, moet daar ten minste n vergelykings opgestel word wat onafhanklik waar is... 
Dus: hoe ingewikkelder die probleem, hoe meer onbekendes is daar, hoe meer onbekendes, hoe meer vergelykings moet terselfdertyd opgelos word. 
Tradisioneel word dit dmv matriks notasie en determinante gedoen. Die berekenings word egter baie vinnig baie groot en tydrowend.  Dankie tog dat daar deesdae rekenaars is wat dit redelik vinnig kan oplos!
Soos ek reeds gesê het, hoe meer kompleks die probleem, hoe meer veranderlikes en hoe meer vergelykings en dus is daar ook meer algemene oplossings wat die probleemstelling sal waar maak. 


As mens dieselfde beginsel nou toepas op mense en die moontlike motiverings vir hulle aksies, kom mens agter dat daar 'n byna eindelose hoeveelheid denkpatrone kan wees vir elke besluit. Veral as mens die besluit/resultaat beskou en dan daarvandaan terug moet werk om die motief te probeer ontrafel. Dit is gou duidelik dat die denkpaaie vinnig in 'n delta van kleiner stroompies vertak wat elkeen 'n mate van waarheid bevat. Om dus by die "regte" motief of dan eerder 'n "aanvaarbare" een uit te kom, moet al die moontlikhede een vir een ondersoek word. Selfs dan is dit moontlik dat mens dalk die werklike redes kon misgekyk het. Dit sou kan wees dat mens a.g.v. persoonlike vooroordeel of voorkeure dalk die ware rede geïgnoreer het of nie wou aanvaar nie.... Tog behoort mens by die regte antwoord uit te kom as mens stelselmatig te werk gaan en die sytakke een vir een ondersoek. As mens dan 'n postulaat uit die ander persoon se oogpunt met elke beginpunt as motivering skryf en dit agterna lees en ontleed, kan mens moontlik by die toepaslike waarheid uitkom. 


Die grootste probleem met 'n wiskundige waar/onwaar uitgangspunt by mense en hulle optredes, is dat mense nie altyd rasioneel optree nie. Hulle tree ook nie eens altyd diedelfde op in soortgelyke situasies nie! Mense is kompleks. Dus is meeste van die eenvoudige oplossing waarby mens deur logiese afleiding uitkom, onvolledig en nie-spesifiek. Daar is du s inderwaarheid 'n oneindige aantal werklike moontlike redes vir 'n sekere optrede van 'n persoon.... Dus moet mens altyd oop vir oortuiging wees as mens vir ander se motiewe redes soek. Daar is vele moontlikhede en dus moet mens verskillende opsies oorweeg voordat daar sommer afleidings gemaak word. ;-) 
Van die skrywes wat volg is dalk moontlike oplossings van die algemene probleemstelling van hoe daar geredeneer word, maar is NIE noodwendig die REGTE oplossing van die spesifieke mens se redenasie/motiewe nie........ 

No comments:

Post a Comment