Tuesday 13 March 2012

Gister se reën... of: Nog 'n Ode aan die windpomp


Tuiste van verlede
Blyplek van die spook, 
bouval van die lewe,
meganisme van hoop,
spieëlbeeld in vloeistof, 
nuwe vlerke vir die wind gekoop. 

Yster, sink en staal
Spesifiek gekombineer om water uit die dieptes uit te haal Ingenieursprestasie, 
kunstige kombinasie 
van raam en rat en vlerk. 
Ystersonneblom met toring en 'n stert
Die groen masjien laat westewinde werk. 

Die wolke wat sy wegwaai, 
se trane huil hul op 'n  ander berg se skouers uit....
dit syfer in die vloeistoffase deur klip en rots en sand, 
gaan lê dan onder langs die diamant.
Daar wag dit rustig vir die regte tyd
om weer na bowe te migreer.
Lewensvog van lank-lank gelede
dìe bring hy van benede 
na die dors dam van die hede..
Alles op sy kop weerkaats 
in stille waters blink,
meer waardevol vir mens en dier en plant 
as die glinster van die diamant 
wat lê in diepe grond, 
onder in 'n dieper laai, 
ja daarso waar die duiwel draai. 

Yster, sink en staal 
fasiliteer die
koue transformasie, 
Westewinde waai die wolke weg, 
Maar pomp dit tog weer later,
getransformeer tot 'n ander fase, water,  
van onder hierdie skurwe aarde op,  
na waar dit blink die spieëlbeeld skep
van die masjien wat windgedrewe, 
hierdie skaars verbinding bring
vanwaar in stilte onder sand en klip en saam met diamant, 
dit in die skoot van moeder aarde rus.

Die lewensvog, meer werd vir mens en dier en plante 
as al die streek se diamante. 
Hoe wild sou hierde plek nie wees, 
sonder jou ou windpomp ysterslaaf, watergees?

Hoe weet die water waar om heen te loop?
Wat vertel die suier vir die vloeistof, 
die silinder vir die stang?
Wat beveel die wind se fluistering aan die wiel se vlerk?
Hoe weet die dooie dinge 
om die wette van: 
Archimedes, Newton en Bernoulli 
so te sê maak werk?
Die kurwe van die vlerk te volg? 
Die stagnasiedruk van gas op vlak, 
van vloeistof op soliede stof... 

Is die molekules dalk bewus 
van die mensgeskrewe wette van hidrolika, 
wat hul bewegings probeer beskryf?

Wie het vir die wind vertel 
om oor die uitgestrekte vlaktes heen, 
díe staalkonstruksie uit te soek, 
sy asem in die suile uit te stort, 
die water te oortuig om pad te vat? 
Na stille damme en die windverwaaide krippe. 
Die blink weerkaatsing in die môrestil, 
die beeld van hoe die meer, 
onder hierdie skurwe wêreld paradeer...

No comments:

Post a Comment