Monday 20 February 2012

Prospectstraat



Ek loop weer vêr, 
vêr in die verlede rond. 
Ek sien die Jakarandabome, 
kaal, sonder blom of blaar. 


Die son die skyn, 
maar die bome gooi nie skadus nie 
daar, in my geestesoog, 
sien ek die heining, silwer draad, 
die hekkies en die leiklippaadjies. 
Die karre op die grond sypaadjies, 
die gras, die tuin, die witgeverfde muur... 
van Mannemoet!


Die naambord teen die muur die wys: 
Hier bly studente! 
Tuks se manne, 
ou hanne...


Ek wonder hoe, of hoekom ek, 
as ek die visioen beskou, 
ek altyd dit uit die straat se hoek beskou. 
So of ek nooit heel deel was van 
die blyplek wat vir drie jaar tog my tuiste was...


Al ander visie wat ek sien, 
helder in my brein gebrand, 
is van 'n meisie wat
in 'n spikkel wit rok, 
sit op die kombuis se kas... 
Wyl ek by die ketel staan en wag... 
dat die ding moet kook! 


Ek onthou jou smile 
ek onthou jou stem...
Effens hees, dan weer bietjie hoog. 
Duidelik opgewonde 
vasberade om dit weg te steek. 


Ek wonder soms, 
wat dit was, wat 
ons so na mekaar toe aangetrek het.. 
en terselfdertyd so onverbiddelik van mekaar af weggestoot het. 
Twee magnete, 
net te sterk, 
die polariteite onstabiel. 
Verskillend, tog dieselfde, 
roterend, kragtig, 
moontlik twee pi uit fase, 
dalk 'n klein verskil in tyd en spoed, 
plaas ons op 'n SINusgolf van lief en leed, 
van drif en bloed, 
van "HMmm, oulik, skerp!" 
Tot "FOK jou, sterf!" Gaan weg! 
Los my uit! Moenie my pla! 
Vir jou het ek nou geen respek! .... 
MAAR... 
Wat jy sê, maak SIN, 
hoe jy dans, kan ek bemin, 
jou sêgoed  is tweesnydend swaard, 
dit lok, dit voed, 
dit beur my op, 
maar sny...
dit boor, dit delf te diep. 
Dit pynig op die senuwee 
van dink en doen en wonder hoe 
dit kon gewees het toe... 


As jy net toe jou masker kon begrawe het. 
En weerloos kon beken het dat: 
"Ek suip te veel, ek kort jou hulp!" 
Maar nee! 
Jy moes mos macho wees, 
jy kon nie weerloos lyk. 


En deesdae loop jy ewe trots, 
vertel vir almal wat wil hoor, 
jy het die lis van lus verloor, 
die duiwel van verslaaf oorwin. 


Tog is die slaaf verslaaf 
aan wat die slaaf se siel begeer. 
Soms is dit goed vir hom, 
soms net net een te veel. 


Die onbeheerste wegholspoed 
lei onlosmaaklik tot 'n  disintegrasie, 
of 'n vasbrand, heel solied,
sonder hoop op restourasie. 


Positiewe t'rugvoer blaas die vlam 
in die hart se smeltkroes aan 
tot 'n blou-witwarm temperatuur, 
waar selfs die hardste van metale in die vuur 
se helder gloed sal  drup en vloei. 
Geen terugkeer na die basiskonformasie. 


Alles ondergaan die fasetransformasie,  
in die helder gloed word als amorf...  
Dan oorgegiet in anderster matrys, 
waar dit afkoel om,
soos 'n feniks, 
as 'n ander voorwerp te herrys.


Maar in hierdie onvolmaakte lewe
het ook die nuutgegote wiel
'n ontwerpte lewensduurte 
van skaars een miloen omwentelings,
eer dit ook deur die onbeheerste wegholspoed
se sentrifugale kragefekte  
uitmekaar sal spat...

Friday 17 February 2012

Kevlar vir die hart

Ek het 'n probleem.... Ek besit die vermoeë om mense, veral vroumense, geweldig te antagoniseer.


Waarom dit gebeur, is ek nie  heel seker nie, wat ek wel al van hulle gehoor het, is dat ek:
1) "Arrogant" is
2)"Te veel van myself dink"
3)"Nie respek vir hulle het nie."
4)"Boers" is.
????????????
Dit komend van verskeie dames wat eens op 'n tyd heel goed met my oor die weg gekom het!


Dit het my nou al lank aan die dink.... 
Wat is dit in my persoonlikheid wat die reaksie veroorsaak? Ek kan nie sê dat ek kwade bedoelings teenoor enige van hulle gehad het nie. Ek is wel nogal eiewys en tot 'n mate kompeterend, maar ek waardeer goeie eienskappe in vroue. Intelligensie is seker een van die belangrikste eienskappe wat my aangetrokke laat voel teenoor 'n vrou. Selfvertroue is nog een. 
Ek is egter nie juis bekend vir my takt nie. Ek kan soms brutaal eerlik wees en dit is moontlik waar die moeilikheid begin. 


Dit wil vir my voorkom asof sekere mense, veral vroue, dit as 'n belediging beskou as iemand enige kritiek, hoe opbouend dit ookal bedoel was, lewer op hulle doen en late, hul voorkoms of hul familie se modus oprandi.
Ek sê soms dinge impulsief, maar dit is meestal nie met slegte bedoelings nie. Soms gebeur dit dat ek dink dat alles heel goed gaan, net om die volgende oomblik te hoor ek het een of ander onverskoonbare persoonlikheidsfout.


Ek het egter 'n teorie: 
Meeste van die dames wat ek aantreklik vind, het vir hulle hele lewe teen mans gekompeteer en baklei om hulself te laat geld in hulle professionele hoedanighede asook as jong mense in die gesin, aangesien hulle nie die "tipiese vrou/dame/dogter" was of is nie. Hulle is dus gewoond daaraan dat daar altyd vooroordeel teen hulle manier van doen is en dat mans (en veral ook ander vroue) op hulle jaloers is en "teen hulle saamsweer" sodat hulle nie suksesvol sal wees nie! Die aangeleerde verdedigingstegniek van: Maak seker dat jy die eerste hou inkry, of "Ek WEET jy dink ek is dom/verkeerd/dwars/onvroulik" veroorsaak dat hulle op 'n sekere manier optree wat dan enige middeweg onmoontlik maak. Vir hulle is die erkenning van 'n fout of selfs 'n baie effense nalating onmoontlik! Hulle sal eerder skei of moor as om selfondersoekend te wees en te erken dat hulle WEL verkeerd KON gewees het. Hulle glo onwrikbaar in hul eie opinie en eerste (of latere) indrukke. Niks is vir hulle 'n alleenstaande insident of 'n optrede wat deur 'n spesifieke situasie veroorsaak of aangeblaas is nie. Nee, alles is aan alles verbind en een verkeerde aksie van iemand is onvergeefbaar! As die man in hulle lewe of dan iemand anders nog die "arrogansie" het om nie te BESEF dat hy/sy minderwaardig en verkeerd is nie, DAN is dit 'n ewige stryd. 


Die ergste is as die persoon, in die geval ek, dit regkry om deur die pantserpak te dring en insig in die probleem kry. Dan moet ek in die buitenste duisternis uitgewerp word voordat ek dalk NOG 'n swak plek in die mondering kry! (Want dit sal tog net tot haar nadeel aangewend word en haar meer emosionele pyn veroorsaak.) Die grootste probleem is as die vrou besef dat, ten spyte van alle rasionele denke en redenasies, sy besef dat sy my geselskap geniet! DIT mag nie! Want mans kan mos nie net vriende wees nie.... En NOG ERGER, sy kom agter dat sy op 'n dieper vlak tot my aangetrokke voel, ten spyte daarvan dat sy lankal besef (en BESLUIT) het dat ek nie 'n goeie opsie is nie. Veel erger is as sy my tot die verlede verban het en ek weier om die vloek wat oor my uitgespreek is te aanvaar. DIT is onvergeeflik! Dit is nie RESPEKVOL nie! 


Wel, wel, wel, ... "I think respect is overrated" 


Daar moet natuurlik wedersydse respek wees in enige gesonde verhouding, sowel by die werk as in interpersoonlike verhoudings. Die probleem is net dat te veel "respek" sal lei tot afsydigheid en en 'n tekort aan intiemiteit. Mense sal mekaar nooit leer ken nie. 
Hulle sal nie die regte "moeilike" vrae vra nie, hulle sal nie mekaar se seer oopkrap en sorg dat die ontsteking uitgewas kan word sodat genesing kan plaasvind nie. Alles sal formeel en opppervlakkig bly.
Die tekort aan "respek" kan natuurlik pynlik wees. Dit kan veroorsaak dat sekere dinge geopenbaar word wat die persoon nie graag oor wil praat nie. Dit kan die vrees laat ontstaan dat die ander party die inligting as 'n wapen kan gebruik TEEN die een wat dit geopenbaar het, veral as daar op een of ander stadium 'n breuk in die verhouding ontstaan. Die is egter 'n risiko wat mens maar mee moet saamleef as jy werklik 'n vriendskap/verhouding wil hê wat opreg is.


Ek vermoed ek kry dit reg om, sonder dat ek dit weet, 'n lasplek of gapingtjie in die skarnierplekke van die staal wapenrusting te vind. Soos 'n vink wat 'n grassie pluk en dan 'n nes bou deur die grassie behendig te weef en knoop tot dit stewig genoeg is om in te bly... Net in trurat! Ek kry my hand of verstand ingewurm deur die skarniere en kry dan dalk 'n stukkie van die beskermende onderklere in die hande. Dan rafel ek die sorgvuldig gebreide isolasie teen die wêreld stukkie vir stukkie uit, totdat sy dalk eendag besef: Ek staan sonder die pantser! 


Nou is die probleem watter aksie om te neem... 
1)Aanvaar die nuwe mode en loop verder deur die lewe met 'n vriend aan jou sy, sonder die lae en lae isolasie en staal?


2) Slaan my met die naaste beskikbare wapen van woorde en meer, hardloop terug na waar die pantser lê, brei van voor af die isolerende lae en trek dit een vir een aan, al strem dit jou beweging in so 'n mate dat dit die lewe met tye pynlik en soms baie ongemaklik maak?


3) 'N kombinasie van die bogenoemde? Met een kinkel: Ek, die ontkleër, die bevryder, word met die vloek van sensuur geslaan, want dit was "disrespekvol" om haar van die pantserpak te bevry!


Ek het 'n blinde vriend wat soms baie insiggewende dinge kan kwytraak. Hy het vir my gesê: "Om die regte inligting te kan kry, moet jy die regte vrae vra."
Ja, ek weet dit is seker 'n ou stelling wat uit 'n ander oord kom, maar dit was vir my besonder treffend omdat hy vir my die pad na sy blyplek in Johannesburg kon verduidelik sonder dat hy dit ooit gesien het! Hy kon dit doen omdat hy nie toegelaat het dat hy deur allerhande onbenullighede van stryk gebring word nie.
Hy het op die regte plekke vir die regte mense die regte vrae gevra, dus het hy die regte, bruikbare inligting verkry! As mens nie hou van wat jy in die spieël sien nie, moet jy nie die spieël breek nie! Jy moet die regte vrae vra en dan die regte antwoorde op die regte manier toepas! 
Die eerste vraag moet natuurlik wees: "Is die spieël 'n plat vlak in alle rigtings?" Sien ek dus 'n "lewensgetroue" beeld van wat ek wil sien?
DIT is seker een van die moeilikste dinge in enige selfondersoek...


DAAROM moet mens weet wie werklik jou vriende is. Jou vriende is nie diegene wat jou altyd prys en troos nie. Nee, dit is die wat nie skroom om jou te sê as jy nie so reg is as wat jy dink nie! Jy moet egter ook aanvaar dat alles in die lewe soos 'n geslypte diamant uit baie fassette bestaan en dat daar ook dinge is waar in ander mag dink jy is verkeerd, waar jy inderdaad WEL die enigste "regte" een is... 
Onwaarskynlik, maar moontlik! Jy moet dus getrou aan jouself wees en eerlik in jou soeke na die waarheid. 


Dit kan selfs wees dat dit wat ek nou kwytgeraak het totale snert is! 
Die moontlikheid bestaan dat ek dalk 'n arrogante egoïs is. 
Dat ek wel "boers" is en dat ek net vir myself omgee... 
Maar die ander kant van die munt is dat daar ook ander mense is wat aan dieselfde afwykings ly en dit nie wil weet nie! 
Ek dink om "boers" te wees is dalk net 'n gesegde wat iemand wat pretensieus is kan raaksien. 
Dit is in elk geval vir my so 'n misplaaste uitdrukking.. uitgedink deur die Engelse/Britse vroue-en-kindermoordenaars gedurende die Anglo Boere oorlog sodat hulle 'n swak konnotasie aan die Boere kan heg sodat dit vir hulle makliker sou wees om met hulle gewetes te kan saamleef ten spyte van die gruweldade in die konsentrasiekampe. (As hulle hoegenaamd gewetes gehad het)

Thursday 16 February 2012

Skepping (s) drang

Ek dink dat...
Die skeppingsdrang
Die absolute dryfkrag
Van die kunstenaar,
die skrywer,
dalk die skilder ook,
dit alles word gedryf
deur dieselfde chemie as
die vrou se barendsnood.
Dieselfde hormoon of krag,
dryf ons almal om te skep...
of dit 'n lewe is of vers,
'n borsbeeld of portret,
'n foto of 'n landskap,
dits alles net 'n uitlaatklep.
Die wroeging van die skrywer,
die sukkel van die skilder,
alles net 'n masker vir die dier se lus...


En as dit eers bevredig is,
Dan is die drang vireers weer weg,
gedemp, gedoof, geblus.


Hoeveel seks is net genoeg,
om hierdie hoër skeppingsdrang
te stimuleer,
maar nie heel uit te doof
of af te sit?


Moet die lus dan eers daar wees,
of moet die satisfaksie
die skeppingsaksie vooraf gaan,
totdat die brein dan, onbelemmerd,
onbesoedeld deur die dier se drang,
weer rustig voort kan gaan
op sy skeppingsbaan?


Of moet die soeke na iets hoërs altyd maar die mens kasty,
totdat hy (of sy)
die kuns in hom (of haar)
net soos orgasme openbaar?


Hoe diep gewortel is die skeppingsdrang,
noop dit mense om,
aanvullend tot die dier
se hormoongedrewe skepping van 'n nageslag,
na die dood geneties te kan voortbestaan,
daar ook iets anders blywend moet oorleef?


Iets van jouself, jou brein, jou siel.
In plaas van net weer nog 'n kerfie op jou spieël?
Of is daar TOG iets anders aan die mens,
wat hom of haar kan dryf
tot selfs nog hoër dinge
as wat hy selfs eens sou kon wens?
Hoe maak hy/sy van dit 'n skeppingswerk,
iets unieks,
as al wat dryf die Raka binne-in ons almal slegs laat tiek?
Sê my hoe,
hoe weet die mens om iets te sê of doen
wat ander wel sal raak,
of dan selfs diep sal tref?
Is dit dan altyd iets oorspronkliks?
Of dalk net 'n reproduksie van 'n ander een se werk?


Kan 'n verwerking wel as satisfaksie werk?
Is daar werklik nog steeds iets soos werklik heel uniek?
Is alles nie maar net verwerkte retoriek?
Hoe oorspronklik moet iets wees,
om geheel oorspronklik te kan wees?
Die woorde in 'n sin
is tog reeds deur soveel ander al gebruik,
selfs in dieselfde orde,
oor en oor.


Maar TOG,
dalk val dit sag en glad,
uniek,
op iemand vreemd se oor.


Die stukkies wat een weggooi,
word deur ander weer vervorm.
Tot heel, volmaak gevormde stene,
bruikbaar in die meesterbouershand.
Om dan in heel 'n ander kombinasie,
in iets nuuts te kan beland.

21 12 2011 Somer, Son, ... Stilstand

Ek wou vir jou.. 
'n mooi gediggie skryf, 
vir Kersfees  of vir Nuwejaar.... 
Of dalk vir as jy weer verjaar, 
maar net betyds het ek onthou, 
dis mos deserdae half tabou!  


Gif is gif en slang bly slang. 
Hoe kon ek dink dat jy na so-iets kan verlang? 
Al wat deesdae baat vir jou, 
is jou kamera en die howe! 


Al die ander goed (en beter, beste) 
gaan mos jou verstand te bowe..


So hier is iets wat wel iets is, 
nie soos Nuwejaar wat kamma is..
Middernag vannag (en dis nie vir 'n dromer) 
is dit die middelpunt van somer!


Nie sommer so 'n dag dus nie, 
'n regte einde en begin, 
van 'n nuwe siklus, meetbaar in 
die tydperk van 2 pi radiaal...
presies een omwenteling 
van ons planeet se wenteling 
om ons ou ster, 
ons eie  waterstofbomson. 


Geniet dit dus, 
geniet die rus, 
geniet die weer begin...

Ek hoop jy is gesond,
reis dalk rond en bont,  
sal tyd en plek genoeg ook  hê
om besonderse fotos vas te lê...

Ek hoop dat hierdie wense nie 
weer sondermeer 
soos 'n ander keer,
jou  verstand te bowe gaan nie. 


Daar is 'n doel in my dwaling
so dink ek as ek dig
al word ek beskou as dig
deur die vir wie ek dig...
Ek hoop sonder hoop
ek word nie hopeloos en digter
as die mense vir wie ek dig...
Nou wonder ek:
maak dìe gedig 
van MY 'n digter?

Tuesday 14 February 2012

Die Mens, die WET en die WAARHEID.. Werklikheid?

Jy mag nie begeer nie...
Maar sonder begeerte is daar nie motivering vir werk bo die minimum om aan die lewe te bly nie! Om die waarheid te sê, die sondeval is die direkte rede vir alle vordering en ontwikkeling wat die mens in die laaste 6000 ?? jaar gemaak het. 
Ontwikkeling van kennis van goed en kwaad, daarmee saam die ambisie/begeerte tot iets beter... 
DIT het die mensdom laat vorder van 'n jagter met klippunt wapens tot 'n wese in die ruimte/elektroniese/kerneeu. 


Jy mag nie steel nie....
Maar die staat eis meer as sy deel en verkwis dit op onheilighede! Maar as daar geen belasting gehef word nie, sal daar geen infrastruktuur wees nie... Nie dat daar juis waarde vir belastinggeld vir die belastingbetaler deesdae is nie! Tog, die beginsel van belasting vir gebruik deur die staat om noodsaaklike dienste en fasiliteite aan die gemeenskap as geheel te lewer, is 'n goeie een. Dis net in die toekenning van fondse en die toepassing van die dienste waar die probleem ontstaan. 


Jy mag nie doodslaan nie....
Maar jy MOET jouself en jou familie en ook jou land en volk teen agressors verdedig! Met dodelike mag, veral in 'n oorlogsituasie. Dan vereis al die wette dit. Bybels en landswette. Maar wat as die regering van die dag jou en jou mense nie goedgesindis nie? 
As die moordenaar en die rower meer beskerming geniet as die wetsgehoorsame burger wat rustig by die huis sit en dan aangeval word? Moet hy dit maar aanvaar? Of is hy geregtig/verplig om iets aan die situasie te doen? 


Jy mag nie egbreek nie....
Maar hoe eg is die eg wat gebreek word? Wanneer word dit gebreek en wanneer dalk net bietjie verbuig? Is dit die eg wat die grond toemaak nadat die saad geplant word, of is dit die eg wat die kluite fynmaak vir 'n lekker saadbed VOOR die saad geplant word? Mag mens net een eg hê, of kan mens maar 'n groot eg vir die kluiterige land hê en 'n fyner een vir die sandgrond? Wanneer is die eg dan gebreek?  As daar een tand skeef is, of moet daar ten minste 'n hele ry tande uit wees voor mens kan sê dat dit gebreek is? 


Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie...
Maar as jy iemand in die hof aankla en hy/sy/dit word onskuldig bevind, het jy dan valse getuienis gelewer? Of as dit 'n onbillike regter is en 'n werklike onskuldige word skuldig bevind, maak dit dan van hom/haar 'n skuldige? Wat van as daar 'n onbillike wet deur 'n spul onbeholpe/kwaadwillige parlementslede deurgevoer word? Is iemand wat dan die wet oortree en aangekla, skuldig bevind word, skuldig aan 'n misdryf, of is die aanklaer en regter eerder skuldig aan valse getuienis en bevordering van die kwaad/bose? Is die aanklaer in diens van die waarheid of van die staat? Is die wet die baas of swaai die WET die septer? Vrymesselaar of VRYE Bouer van die waarheid?? 
Wie seëvier? Wet of Waarheid?

Clichè's en kunsies.

Al ooit gewonder wanneer word 'n gesegde 'n clichè? Daar moet tog 'n bietjie waarheid steek in dinge soos:
"My vrou verstaan my nie." of:
"'N vrou kry altyd haar sin...behalwe as sy daarop aandring." 


Hoekom is die moderne vrou so ongelukkig?


Hoekom wil sy (die moderne vrou) oor alles met haar man/ mansvriende verskil? Wat sou dit aan haar saakmaak as sy met sommige stellings saamstem sonder om eers 'n rede te soek om daarmee te verskil? Is dit 'n mate van 'n beskermingsmeganisme omdat mans hulle op 'n sekere stadium valshede vertel het wat hulle tot hul skade geglo het? Hoekom kan hulle nie alles op sigwaarde as waar aanvaar tot die teendeel bewys is nie? Dit sou hul lewe soveel minder ingewikkeld en veel gelukkiger maak. Of nie?

Monday 6 February 2012

Narcisis: Affodil / Lelie : Familie van die ui, ook knoffel. Oordeel oor goed / kwaad.. Afhangende watter sintuig gebruik word en of die regte sintuig vir die be-oordeling van die regte plant- en toepassing gebruik word...

So, wie was die skuldige? Was Eggo die rede vir Narcisis se verdrinking? Was dit bloot 'n ongeluk, of was dit dalk selfmoord? Toe hy homself omhels, was dit sy beeld wat hom bekoor het, of die stem van Eggo? Hoekom het hy nooit leer swem nie? Dit kon die lewe vir hom soveel makliker(langer?) Gemaak het.  Het die nimf nie soms gewens dat sy stadiger gehol het sodat sy ingehaal kon word nie? Hy was tog 'n besonder aantreklike man...
Wat is dan vir ons so onweerstaanbaar aan ons eie woorde of idees komende in 'n ander stem uit 'n mooi vrou se mond? Ek vermoed dit werk in albei rigtings vir albei geslagte. Mens soek bevestiging vir dit wat jy dink, 'n sielsgenoot wat met jou saamstem, jou vermoedens bevestig. Dalk herken jy aanvanklik nie die woorde as jou eie nie.... Dink DIE mens praat darem regtig vir jou SIN! Dit klink asof díe een jou vennoot in die lewensstryd kan wees.... Soms dink mense eenders oor dinge en kom aanvanklik goed oor die weg, maar op een of ander stadium is daar 'n botsing van belange of ego's. Wie se idee was dit nou EINTLIK? Wie is Baas en wie is Klaas? Hoekom is dit belangrik? Kan die twee nie een word met 'n gemeenskaplike simbiotiese doel en lewe nie? Hoekom moet die een weghol en lok om immer onbereikbaar, maar sodoende aantreklik te bly, die ander soekend, verward oor die rigting en doel van die woorde wat tweedehands na hom terugkom.... Wat is die doel? Is dit werklik dalk 'n komplot van die noodlot om te verseker dat sekere mense nie hul doel/potensiaal bereik nie? Dalk is dit die lokval van die begaafde, om met die ander begaafde 'n "verhouding" te hê, net om agter te kom dat die ander een ook, nes hyself, meer in die "self" as in ander belangstel? Spieël teen spieël, 'n ewige refleksie tot in die oneindigheid.... Eggo van die Ego. Verdrink in hul eie selfversmorende omhelsing. Tog...as hy vinniger was, of sy stadiger, was die storie dalk anders......