Tuesday, 15 November 2011

Oor Tjello's en Viole

Die musiek voortgebring deur strykinstrumente laat my dink oor die natuurlike inklinasie vir stemming.
Nie die soort wat ons by die kiesplek uit ons eersgeboortereg verneuk nie, maar die gemoedstoestand oftewel geestesingesteldheid.

Die tjello is van nature meer aangepas om musiek in die mineur toonsettings te speel, tewyl die viool meer ingestel en ontwerp is vir die meer "vrolike" majeur toonsettings.

Ek vermoed in die menslike bevolking is dit ook so. Sekere mense is net gebore om die lewe op 'n treurige wysie te interpreteer. Hulle doen dit so goed, dat dit 'n jammerte sou wees as hulle dit in 'n meer posisitiewe stemming sou ervaar. Hulle maak die lewe interessant en kleur die opervlakkigheid van die viole in. Hulle maak seker dat, deur die nostalgiese melancholie van hulle sienings, stellings en optredes, mens wel die kontras van die positiewe en vrolike viole kan waardeer.

In 'n simfonieorkes het beide 'n plek. Die een vorm die kontras vir die ander. Wissel die nostalgie van die onvermydelike af met die vrolikheid van die verganklikheid. Die een vloei in die ander in en skep so 'n komplekse mengsel van klanke en gemoedstoestande wat mens meevoer na gebeure uit die verlede of drome van die toekoms of net absolute uitbundigheid van die hede.

Die tjello met sy hartseer, melancholise klank het eintlik 'n boodskap van sensuele beloftes... of dalk roep dit net die beeld by my op uit 'n fliek waar 'n baie sensuele dame nakend gesit en tjello speel het.
Heelwat meer treffend as Vanessa May met die viool.

No comments:

Post a Comment