Tuesday 15 November 2011

Die klip in my skoen

Ek put vreugde uit baie dinge.
Eenvoudige dinge.
Soms net uit die feit dat ek iemand in die spieël sien as ek opstaan...
Dit bewys darem dat ek lewe.

Daar is egter 'n negatief wat altyd in die skaduwee saamloop.
As mens voluit lewe is daar in elke emosie 'n balans... Daar is geen gratis etes nie, vir elke op is daar 'n af! Miskien nie so erg soos tipiese "Bi-polêre of Manies/depressiewiteit" nie, maar na 'n emosionele hoog voel ek wel 'n bietjie af vir 'n dag of wat. Min dinge put my so uit soos 'n onregverdige bekgeveg met iemand wat nie rede wil verstaan nie. Valse beskuldigings en nimmereindigende verwyte dreieneer my emosioneel so dat ek vir dae die wil om iets konstruktief te doen, verloor.

Die probleem is dat ek sukkel om van 'n fight af weg te loop. Ek wil altyd my saak stel....al behoort ek teen die tyd te weet dit is sinneloos. Mens argumenteer nie met 'n onoortuigbare wat eintlik met die eiegemaakte interne probleme wat geprojekteer word baklei nie. As iemand meer as een keer op 'n logiese manier deur sinvolle feite en argumente verkeerd bewys is, weier om haar/sy fout te erken, is dit 'n verlore saak.

Ek vermoed daar is êrens 'n breinfunksie wat nie werk nie. 'N skakelaar wat geklink het en wat net MISKIEN met jare se terapie reggestel kan word. Mens moet tog jou eie optrede op een of ander stadium in perspektief sien? Dalk het sekere mense nie daardie vermoeë nie. Miskien praat ek te maklik. Verslaafdes het nie volle insig in hul probleem nie. Hulle kry soms 'n helder oomblik, maar meestal oorheers die chemiese behoefte die optrede en verwar die beeld in die spieël. Ek behoort te weet. Ek was baie jare in daardie bootjie. Mens dink ander soek sommer net fout. "Dit is mos nie so erg nie." "Ek is nog ek!"
NEE! Jy dink jy is, dalk is jy diep binne in, daar waar niemand kan sien nie, maar jy is so besig om die slegte gewoonte te verdedig, dat jy in jou eie kop verdwaal. Die mense om jou sien jou optrede in perspektief, hulle besef jy tree nie rasioneel op nie. JY kyk van binne, deur roosgetinte ruite. Jy sien nie die rommel van die vermorsde liefde en tyd op jou voorstoep nie. Jy sien die mense se trane, maar jy besef nie dit is oor (en vir!) Jou wat jou geliefdes huil nie! NEE, hier binne is dit knus, die vuurtjie brand, EK is ok, HULLE is verkeerd! Hoekom kom hulle nie in nie? Die drank maak jou maag en kop lekker warm.... WEET hulle dit nie? Hoekom doen hulle dit nie ook so nie?!!!

So miskien is pille maar dieselfde. Verdoof jou oordeel, verdof die pyn, maar later het jy die opiate nodig net om "normaal" te voel. En dit beïnvloed jou pre-frontale korteks, daar waar jou "brieke" sit. Jou selfondersoek verdwyn. Jy IS mos altyd reg! Die ander is leuenaars en bedrieërs, EK is nooit verkeerd nie.... As mense dit net kan besef! Die verslaafde dink nooit hy/sy is verkeerd nie.
Gee tog genade! Ek moet leer om weg te loop!!!

MAAR!
Ek kan nie ander pad kyk as daar iets is wat volgens my nie reg is nie. Ek sê of doen altyd iets.

Takt is nie my sterk punt nie. Dit het my al baie geleenthede en "vriende" gekos. Soms dink ek ek moet daaraan werk, maar aan die ander kant is ek oortuig dat ek reg is en dat ek nie mense nodig het wat nie kritiek kan hanteer nie.

Ek probeer om nie onregverdig te wees nie, maar 'n mens het ook nie altyd alle kennis in pag nie. Soms neem mense my verkeerd op omdat ek 'n bietjie van 'n verwronge humorsin het. Soms is hulle net nie skerp genoeg om my op/aanmerking te snap nie. Dan beskou hulle dit as persoonlik en raak aggressief. (Dalk is van die aanmerkings juis te naby aan die huis, sonder dat ek dit besef.) Ek is nie bereid om my persoonlikheid prys te gee ter wille van 'n paar eenvoudiges nie.

"Don't take life TOO seriously, you won't get out of it alive!"

No comments:

Post a Comment