Tuesday 29 November 2011

Aljander aljander

Onwillekeurig loop ek die paadjies deur my kop. Ek volg die voetspore van die mense en dinge wat my lewe gevorm het. Die lekker van die virtuele, of dit nou binne jou brein of binne die elektroniese brein van 'n rekenaar is, is dat al die beperkings van die Newtonse en selfs Einsteinse fisika nie gerespekteer hoef te word nie..

Ek kan deur tyd en afstand heen en weer beweeg binne 'n oogwenk, beelde oproep na willekeur. Situasies herleef sonder om my aan die chronologiese volgorde te steur. Soos met alles is daar egter 'n caveat. Mens moet, as jy met jou eie verlede besig is en die ware toedrag van sake vir jou belangrik is, seker maak dat jy nie herrinneringe so verander dat die geskiedenis se ware feite permanent verdraai word nie!

Dus is dit soms goed as mens iets by die begin begin. Selfs al rek dit die storie uit en maak dit dalk vir die leser/luisteraar (as daar so iemand is!) langdradig.

Ek het nou net aan iets gedink. Hoewel mens se lewe 'n lang ononderbroke lyn vorm, word dit tog in duidelike hoofstukke van tyd en of gebeurtenisse opgedeel. Sommige dele is inmekaargeweef, ander redelik losstaande. Iets wat keer op keer na my gedagtes terugkeer, is die gedig van die "Canterbury tales" daarin word die verskillende mense wat saam op reis is, se verhale een vir een vertel. Uiteindelik is van hulle onderling verweef. Ek het dit op skool as 'n voorgeskrewe gedig gelees, al was dit net 'n gedeelte van die lang werk. Dit het egter 'n blywende indruk op my gemaak. Dit wys dat elkeen van ons 'n storie het om te vertel.

Ek het 'n storie, maar dit is dalk beter om dit in episodes op te deel. Dan word daar darem iets geskryf en dalk kry ek spoed na die einde toe.

So dit is dan seker die einde van die begin, of die inleiding van die einde.... Die res volg hopelik binnekort. :-)

No comments:

Post a Comment