Tuesday 15 November 2011

Ek dink...

Perspektief verander met tyd en ouderdom.

Toe ek net uit die skool was, met groot idees en planne, het ek gedink dit is heel verkeerd om breinkrag en arbeid te mors op dinge soos die kunste en sulke onbenullighede wat "nie noodsaaklik" is vir die mensdom se vooruitgang nie. Ek het myself as verhewe beskou bo die mense wat hulle tyd mors met "studies" in rigtings soos BA tale en kunste.
Al wat die moeite werd is, is mos die tegniese dinge...Wetenskap. Chemie, Fisika, Ingenieurswese, Mediese Wetenskap, miskien tot 'n mindere mate Biologie en die tipe dinge....

Tog.... Die dinge wat WERKLIK plesier verskaf het, was die kunste! Veral musiek, dans, sport. As ek terugdink, dink ek ek het myself probeer oortuig dat die tegnologie en wetenskap belangriker was en ek dus die regte keuse gemaak het om Ingenieurswese te studeer.

Ek was verbaas dat 'n groot hoeveelheid van my mede ingenieurswese studente nie oor 'n goeie taal en spel aanvoeling beskik het nie. Nie soos ek nie. Maar tog het een en almal van hulle 'n groot liefde vir musiek gehad. Of dit a.g.v. die tegniese sy van die "hi-fi's" was weet ek nie, maar hulle was ook van die voordansers en "party animals".
Dalk moes die koue wetenskap gebalanseer word met voedsel vir die siel in die grasie van die musiek en dans en geselskap van dames.

Uiteindelik sou ek dalk akademies baie verder en makliker gevorder het in een van die meer kunstige studierigtings. Nie dat dit wat ek in die wetenskap en ingenieurswese geleer het gemors is nie- inteendeel, ek het dit baie geniet en stel nog steeds belang in dit. MAAR ek dink dit alles behoort gebalanseer te word met iets kreatiefs, net om die mens agter die masjien te ontwikkel.

Ek kom agter dat ek deesdae die behoefte het om te skryf. As ek dit nie doen nie, raak ek gefrustreerd. As ek skryf, kalmeer dit my, dit is terapeuties, dit gee 'n deel van my brein wat vir jare en jare onderdruk was, geleentheid om asem te haal. Bietjie bene te rek, by wyse van spreke. :-)
Selfs 'n bietjie te dig... Hoewel ek dink ek moet dit eerder onder 'n skuilnaam doen, netnou dink die mense wat my ken ek het dalk 'n sensitiewe kant....

No comments:

Post a Comment