Monday, 26 September 2011

Raka

Het Raka tog 'n hart?
Het hy dalk 'n brein?
'N bietjie bewussyn agter die swart gordyn?

Waar het hy geskuil toe die modder en slyk
Verander het in wit?
Die water ge-ys
Die modder versteen
Die slyk verdwyn?

 

Het hy, toe die maan
Agter die swart gordyn verdwyn,
Gewonder, gesien, gedink
Verwonder deur die lig van miljoene sonne

wat skielik uit die donker hemelruim verskyn?
Belig deur die donker,
Die swart gordyn,
Van die aarde se skadu
Op die doek van die maan.

Die detail van sterre nie meer verdonker
deur die lig van die son

deur die maandoekspieël weerkaats?

 

Die ys van die winter,
Die lig van die maan
Die sneeu op die landskap
Die ysige wit weerkaatsing van koue
deur die vlak waters van die melkweg, 

waar al die helder sonne se lig,

getemper deur die resiprook van miljoene ligjare kwadraat,
verdof word deur die silwer weerkaatsing in die flaterspieël

van hierdie planeet se satteliet.
Die oorbeligting doof die detail uit.

 

 

Soos 'n vlam die wit was van die kers
verander in 'n blink amorfe poel...
Onsigbaar,

om te weet moet jy voel...
Was dit nie vir die stolling van die was
op die vinger van die mens, (of gees)
sou dit 'n raaisel wees.

 

 

Wat is waarheid,

wat is waan,

wat is fisies,

wat is gees?
Sou die dier, die Raka,

in ons almal wees?
Dink ons almal ons is beter,

net totdat die swart gordyn,     

die dieper son in ons siel ontbloot?
Dan is ons..

Dier?

Die drange al wat is,

wat was, wat nog wil wees..

 

 

Vergete al die wonders van die gees,
Die groot ambisie,
al die planne,
al die strewe na die goeie.

Al wat oorbly is die bloed,

die drang,

die drif...
Voor dit nie bevrediging verkry,

sal geen ander denke jou bevry!

 

 

So waar is Raka,

waar die dier?

As al die ander na jou tuur?

Wat wil jy hê?
Wat wil jy nie?
Wat's jou begeerte,
Wat is jou skans?

Wat word versteek daar agter daardie masker-muur?

 

Is dit die waarheid?

'N begeerte?

'N behoefte?

Net 'n dans???

 

Sê jy dit,
Bedoel jy dat.
Dink jy dat,
as jy dan sê,
wat mense dink gesê moet word,
dit wel jou denke transformeer,
na DIT wat jy na aspireer?

 

As ander jou beskou
In detail-verdonkerende helder lig
Van sogenaamd beskaafde norme...
Hoe kan hul weet
van al jou diep versteekte drange? 
Jou verswygings,
Jou verlange?
Die lis van die gesmag
van dierlike lus.
Wat jy telkens soos 'n Petrus,

oor en oor verloën,
om almal om jou om die bos te lei...

Kry jy dit reg, dink jy?

 

Hoe ondeursigtig is die sneeu,

die ys..
Tot dit ook smelt en sigbaar laat,
die slyk,

die modder..
Wat hier onder in die helder stroompie lê.

 

En as die drang bevredig is,
is jy dan weer jou preutse self.
Wat wyd en syd verkondig hoe

die mans se bekke kwyl,  

wyl jy,

onaangeraak,

net op jou eie bly

en heel beledig,

(dalk beangs?)

voel as hul na jou passies staar.

 

Wat is die dans dan,
as dit nie in diepste wese,
wel die diepste wens verwoord?

 

Op stille ritme is gebore

uit die allerprimitiefste drang
van spoeg en sweet

en soete nektar van die blom,
wat roep na hulp van bye om
tog net so gou as moontlik na die blom te kom, 

die daad te doen,
die smag na die vervulling te vervul.

 

 

Dan..

ja DAN,
sal alles beter wees...
Dit sal:
Die stille stap,

asook die hoogs pretensieuse,
(of dalk opregte?)

wens na hoër denke weer herstel.

No comments:

Post a Comment