Monday 30 January 2012

Narcisis

Die nimf Eggo wat jy roep,
Herhaal die waardelose woorde,
Die klanke wat so oor jou tong galop.


Sy lok jou
verder en verder..
Weg van die regte weg.
Totdat jy,
jagter,
kenner van die aarde,
verdwaal het in jou eie kop.


Hoe kon dit so gebeur,
Hoe so gemerk,
hoe so bestem?


Bo-tone in die stem se klanke,
Kinkels in die brein se denke,
Dit alles klink tog so bekend...
Dit alles maak so SIN!


Dit voer jou t'rug..



Na tye..
toe die Muse haar nie van jou verskuil het nie.

Na plekke..
waar niemand nog jou naam gehoor het nie.

Na mense..
wat nie vir jou ontboesemings gelag het nie.

En ander..
wat hul aan jou ratsheid verkyk het.

Na dames..
wat jou danse geniet het.

En ander..
wat hul aan jou lyf vergryp het.



Die pad waarlangs die stem (van Eggo?) hom lei,
Neem hom by 'n helder stroom verby.
Hy's dors,
die poel die skitter soos gesnyde loodkristal.
Hy buk,
tot op sy kniee om die lawende water by te kom.
Hy drink,
maar in die varsversteurde spieël van water soos kristal,
sien hy die beeld...


Sy blik verstar,
Sy lyf versteen
En op sy kniee bly hy staar.


Die beeld, die stem, die sinne, die klank,
Als so perfek, in lyn, in plek.
SY denke,
SY sinne,
SY stellings,
sy ALLES.


Hoe kan dit wees,
Dat daar 'n ander wese was
Wat spesifiek by hom so goed kon pas?


Eggo, die muse van sy drome:
Die stem, die beeld, die sin,
die redenasie van haar brein,
die doen- en late van hul samesyn...


Nemesis het haar gestuur,
nie Muse nie,
maar Nimf. 
'n hersinskim,
'n kloon,
'n breinfrekwensieinterferensiepatroon.


'n Lelie, ja,
die Affodil,
is nou 'n sinnoniem vir jul:


Narcisis, egoïs.


Die Toekomsbepaler sou:
Gebrek aan visie,
verspeelde jeug,
misplaasde trou,
Bitter-soet verliefdheid van jou..
(op 'n sinnelose refleksie!!) 

Dit alles...

Vaslê in die eggo van jou Ego-obsessie

3 comments:

  1. So, wie was die skuldige? Was Eggo die rede vir Narcisis se verdrinking? Was dit bloot 'n ongeluk, of was dit dalk selfmoord? Toe hy homself omhels, was dit sy beeld wat hom bekoor het, of die stem van Eggo? Hoekom het hy nooit leer swem nie? Dit kon die lewe vir hom soveel makliker(langer?) Gemaak het. Het die nimf nie soms gewens dat sy stadiger gehol het sodat sy ingehaal kon word nie? Hy was tog 'n besonder aantreklike man...
    Wat is dan vir ons so onweerstaanbaar aan ons eie woorde of idees komende in 'n ander stem uit 'n mooi vrou se mond? Ek vermoed dit werk in albei rigtings vir albei geslagte. Mens soek bevestiging vir dit wat jy dink, 'n sielsgenoot wat met jou saamstem, jou vermoedens bevestig. Dalk herken jy aanvanklik nie die woorde as jou eie nie.... Dink DIE mens praat darem regtig vir jou SIN! Dit klink asof díe een jou vennoot in die lewensstryd kan wees.... Soms dink mense eenders oor dinge en kom aanvanklik goed oor die weg, maar op een of ander stadium is daar 'n botsing van belange of ego's. Wie se idee was dit nou EINTLIK? Wie is Baas en wie is Klaas? Hoekom is dit belangrik? Kan die twee nie een word met 'n gemeenskaplike simbiotiese doel en lewe nie? Hoekom moet die een weghol en lok om immer onbereikbaar, maar sodoende aantreklik te bly, die ander soekend, verward oor die rigting en doel van die woorde wat tweedehands na hom terugkom.... Wat is die doel? Is dit werklik dalk 'n komplot van die noodlot om te verseker dat sekere mense nie hul doel/potensiaal bereik nie? Dalk is dit die lokval van die begaafde, om met die ander begaafde 'n "verhouding" te hê, net om agter te kom dat die ander een ook, nes hyself, meer in haarself as in hom belangstel. Spieël teen spieël, 'n ewige refleksie tot in die oneindigheid.... Eggo van die Ego. Verdrink in hul eie selfversmorende omhelsing. Tog...as hy vinniger was, of sy stadiger, was die storie dalk anders.....

    ReplyDelete
  2. Die antieke Grieke het in hulle fabels en verhale meer insig in die mens se psige getoon as wat baie mense deesdae het..... En dit was gratis, jy moes net na die vertellers luister en bietjie oor die storie dink! :-D

    ReplyDelete
  3. Hierdie is een van my eerste pogings, dalk bietjie outobiografies... Ek is nie seker of almal nie tog maar bietjie narcissisties is nie. Hoe kan mens in elk geval enigiemand ander liefhê as jy nie jouself liefhet nie? Nie in 'n siek sin nie, maar tog so dat mens jou eie ek tog op prys stel.

    ReplyDelete