Wednesday, 15 May 2013

Vol-wasse? (Lewens-kommentaar in 'n amper-gedig)


Ek wonder soms:
of almal met die intrap
in die grootmens-wêreld
so gebrand/geskok word
dat hul die vreugde van kindwees
skoon verloor..
Die melancholie neem oor
waar die sorgelose lag was,
die hartseer waar die glimlag was,
die norsheid lê nou daar,
waar die speelsheid eens so vlak geleë was.

Ek weet by diere's dit 'n normale proses,
die speel raak weg,
die erns neem oor:
Hormone laat hulle baklei om te paar,
kompeteer net mekaar,
areas afbaken vir kos,
vir rondloop,
vir maatsoek..
Die trop raak belangrik,
die maats raak net nog
vreters en opponente.

Is dit noodsaaklik dat ons
as mense ook so word?
Die "suksesvolles" doen dit
met oorgawe..

Ja, maar sien jy geluk in hul oë?
'n sprankie genot,
selfs deur al die prestasies en geld?
Gedoem tot geweld,
tot trap en klim;
as jy bo is, is jy oud,
nie juis noodwendig slim nie,
nie noodwendig wys nie,
net oud,
alleen,
eensaam,
op-baklei..
Vir WAT?

No comments:

Post a Comment