Monday 17 June 2013

Ode aan NP van Wyk Louw (11 Junie 1906 tot 18 Junie 1970)


Wat sou die gedagte wees
wat eerste deur jou brein beweeg,
die dag toe jy die eerste lig aanskou?

Juniemaand in Sutherland,
dis net 'n sifdraad
wat die suidpoolwind
uithou van die kaal Karoo se kou.

Jou moeder moes,
na barendsnood tot einde kom,
tog liefdevol kon sê:
"Hoe noem ons hom?"

Jou pa't trots gesê:
"Al wat ek wou hê,
is dit wat nou hier in my arms lê!
Louw is tog maar so 'n korte van
en warm sou tog beter wees
as lou in Junie-kou..
'n bielie soos diè kleinman
moet mos kan kies
wat hy genoem wil wees,
ons gee hom baie name man,
met sommer nog 'n van!"

So is jy:
in koue gebore
en in warme harte ontvang..

Nicolaas Petrus van Wyk Louw.


*******

Jy het gegroei uit die klein dorp se kou,
dalk het die helder verjaarsdagnag
jou laat opstaar na die sterre,
soos die teleskope van die sterrewag.
Is dit wat jou laat wonder het,
jou die woord laat vorm het,
jou geplaas het op die pad
wat gepraat het met
elke Afrikanerhart?

No comments:

Post a Comment