Monday, 17 June 2013

Terugtog


Ek vat die pad na reeds gesien,
so bietjie links van klaar gedoen,
die draaie hier is reeds gery,
ek het al hierso seergekry.

Die ryvlak stop,
nou moet ek stap.
Ek stap en stap so om die kop,
ek loop en klim,
ek skuifel aan,
die paadjie kronkel na die maan.

Die son, die maan, die sterre,
alles saam maak my verstaan.
Ons is hier deur,
ons kan nie staan,
die lewe gaan net aan en aan.

Soms stop ons bietjie om te rus,
maar in die tydjie wat ons rus,
kom al die spoke aangestap,
hul maak hul tuis op ons se pad.
Hul trek ons aandag af,
hul maak ons dwaal,
hul laat ons vir ons rus betaal.

Die nostalgie is soms ook reg,
maar laat ons afdwaal op die weg.
Die water onder deur die brug,
die is verby, dit kom nie t'rug.

So opstaan maat
en rek jou treë,
in hierdie wêreld is
ons almal soms vermis.
Die luiaard en die denker,
melanchool en drinker,
almal wat 'n bietjie rus,
almal wat 'n bietjie wonder,
ja almal wat 'n afdraai vat,
word uitgeskuif en afgeskryf
en ongeërg net daar gelaat.

2 comments:

  1. Ons almal se afdraaipaadjies...

    ReplyDelete
  2. Ons almal is reisigers, meeste jaag na wie weet waar.
    Ek kies om bietjie by interessante mede-reisigers te vertoef. Dalk leer ons iets by mekaar.
    Almal beskik nie oor die vermoë om bietjie van hulself te deel.
    Ek weet nie, dalk sukkel hulle om emosionele bande te vorm, of dalk is hulle net bang dat iemand hulle lag gaan steel.
    Maar ek, ek wil ñ band vorm, bietjie aan mense se siele torring.
    En hoop dat hulle my ewig sal onthou as ñ liefdesvrou.
    As iemand wat ñ positiewe verskil wou maak
    Wat mense se hart wil aanraak.
    En as die kuier lekker is wil ek langer bly
    Veral by besonderse mense soos jy
    Sal jy my toelaat om bietjie in jou hart te kom lê
    Net as ñ ver vriendin, soos jy dit wil hê?
    Sal jy my antwoord hierop?
    Ek hou my whatsapp dop 😁

    ReplyDelete