Monday 11 June 2012

Goud


Ek het deur die nag tot hierdie aanvegbare gevolgtrekking gekom: Die mens het WEL 'n behoefte aan goud! Ek het goud in my tande. Dalk meer as wat die gemiddelde man/vrou op straat in hulle trouringe het. Dit het my laat wonder oor die reaksie van mense teenoor my en die soeke van die mens na goud deur al die eeue.
As mens mooi oor die saak dink is dit eintlik waansinnig, veral vir die primitiewe mens.  Mens kan goud nie eet nie, nie vir gereedskap gebruik nie, dit was bloot vir versiering. Tog was dit van die vroegste tye af gesog!


Hier is nou 'n teorie: Op een of ander manier is daar 'n interaksie tussen 'n mens se onderbewussyn en goud. Ek dink dat daar dalk in die mens se senustelsel of neurotransmitters 'n baie klein hoeveelheid goud benodig word om balans te veroorsaak. Ok, ek weet goud is 'n edelmetaal en dat meeste mikro voedingstowwe slegs in ioonvorm geabsorbeer word. Katione soos Kalium of Natrium en Molibdeen wat in liggaamselle teenwoordig en noodsaaklik is, is in oplossing as ione. Op die manier kan dit interaksie met anione hê. Dit dra dus by tot die ioonbalans en behoud van pH in die liggaamsvog en bloed. Miskien werk die goud as 'n katalis soos platinum in 'n katalitiese omsetter in 'n motorvoertuig se uitlaatstelsel. Dit laat reaksies teen laer temperature en drukke plaasvind as wat sonder die katalis moontlik sou wees. 


My teorie is dat goud die vervaardiging/vrystelling van dopamien wat die "geluks-neurotransmitter" is, stimuleer of vergemaklik. By elke mens is daar dus 'n behoefte aan goud, hoewel dit nie duidelik is waaroor nie. Iemand wat dus goud dra, is moontlik gelukkiger van geaardheid as wat hulle sou gewees het indien hulle nie enige goud met hul liggame in kontak gehad het nie. Sodoende maak goud wat deur ander gesien kan word, die gouddraer ook meer begeerlik in die teenoorgestelde geslag se oë. Vêrgesog? Wel, ja, miskien, maar wat is dan 'n ander verduideliking vir die mensdom se obsessie met goud? Ek is nie besonder beïndruk met goud nie, maar soos ek gesê het, ek het 'n oorvloed goud in my mond as vulsels en krone, so my behoefte is waarskynlik meer as bevredig. En ek is gelukkig. Ek het eintlik nie 'n vreeslike drang na die materialistiese nie, so miskien is dit a.g.v. die oormaat goud wat ek reeds "besit" wat in kontak met my liggaam is.... 
Of is dit alles totale snert???

No comments:

Post a Comment