Tuesday 29 May 2012

Ek sien wat jy sê


Ek sien wat jy doen..
Wat jy woordeloos sê:
Die fotos  vertel dit soos jy dit wil hê:
Die stories wat jy NIE wil,
of kan verwoord.
Jy sê dit met beelde, 
jy dink jy kan dit 
wat binnekant sit,
sò in die venster vertoon, 
sodat  dìt wat gesien word, 
nie die geheime verklap 
van wat werklik 
in die binnekamers 
van jou hart bly woon. 


Ek wys nie die prente 
wat in my brein opbou, 
aan jou en ander nie.  
Want...
Dit mag dalk net 
my Achillieshiel aan 'n swaard ontbloot. 
Dus... 
skryf ek 
metafore en rympies 
om my gedagtespore te versteek.. 


Ek spring van klip tot klip 
om my pad te verdoesel. 
My ware doel en rigting 
word keer op keer gekamoefleer. 
Tog doen ek dit so, 
sodat ek weet.... 
Of dalk net vermoed, 
dat jy nie sal verdwaal, 
ek nie sal verdwyn. 
Die enigste pad na buite
is nie die maklikste een, 
nee, dis meestal die een van pyn. 


Kom of gaan, 
ons paaie moet kruis, 
selfs al sit een van ons 
langs die stroom van die tyd 
en wag dat die lewenswater 
moet afloop, 'n jaar, 'n uur, 'n week?
die vloed moet verdwyn, 
die klippe verskyn,
so word die drif 
dan droogvoets oorgesteek. 
Sal dit jou toelaat om als wat jy dink 
agter die dubbel gordyn 
van jou kulkunstenaarskas 
te versteek? 


Jou woorde verraai jou binneste siel... 
te kwesbaar, besluit jy...
sal  dit eerder onder die maatemmer 
van die kamerabeeld wegsteek. 
So kan jy... 
die feite en fiksie 
aan ander se oordeel oorlaat.  
Vasgevang in die oomblik van hul selfgeskepte realiteit, wat hul verlei
in die doolhof van die geheue se warboel. 
Jou eie binneste gekamoefleer,  
oorbelig, verdof, ontfokus, verdoesel,
in die oopte van 'n ander se gedagte en gevoel.... 

1 comment:

  1. Die gedig verwoord so baie van ons se diepste binneste waar ons ook skuil agter fasades van werklikheid, terwyl ons troos en skuiling toek tussen ons herinneringe.(Is dit reg gespel? Toemaar, jy weet wat ek bedoel.)

    ReplyDelete