Tuesday, 22 May 2012

Die reis na binne


Woorde dis/sek/teer die denke...
Die muse sê dat woorde: 
"onvolmaakte meganismes" is
om denke mee korrek te merk,
maar watse ander opsies het ek dan, 
om mee die siel te onderspan ?

Die skalpel sny net deur die spier. 
Die denke split die redenasie hier. 
Om by die doel van die gesegde uit te kom, 
moet jy 'n baie spits wig bekom. 
Jy moet as't ware soos 'n beiteltjie (van Van Wyk Louw), 
die rots kan breek, om hou vir hou, 
die weggesteekte waarheid uit te grou. 

Om dit te doen, sal jy my ou, 
moet slyp en slyp aan hierdie klou van jou! 
Jy sal moet vlymskerp wees as jy 
agter die kap van hierdie blink byl wil kom!

Die atoom se split kom wel vanuit 
die diepste binneste  bousteenkerne. 
Die absolute swaarste, 
ongebalanseerde ene, 
wil vanuit sy elektron vel bars en twee word, 
dalk nog meer word..

So dink ek ook is woorde wat die siel omring soos pantserpak. 
Soms swaar gelaai met goud, soms nie. 
So: mens moet eers die erts kan breek 
voor waarde tog sy kop uitsteek. 
Vir diamant en diatoom, 
geen raakpunt, dink jy, nè, my oom?

Tog moet die wortel van die woord 
jou wel vertel waar elkeen hoort. 
En as jy dan nog verder delf, 
Vind jy wel die ander helf. 
Die een wat sê hoe't als begin,
hoe als by alles hoort, hoe maak dit sin. 

Ek spring van klip tot klip sien jy, 
maar af en toe dan spat daar bietjie vog op my. 
Die water maak my voete nat, 
maar as ek aan my oë vat, 
dan kry ek soms ook daai gevoel.. 

Dis snaaks, die water wat van binne kom, 
my oë smeer, word meer en meer. 
Dit maak 'n poel. 
Dit maak 'n traan. 
Dit val van oog na wang, 
tot waar ek staan. 

Die water wat van buite kom, 
maak soms tog ook  die oë nat, 
maar nooit maak dit sò in die hart. 

Die hart pomp bloed, maar ook veel meer.. 
dit pomp ook somtyds iets heel swart. 
Ek hoor hul noem dit smart, my hart, 
maar díe verstaan ek, kan mens keer. 

Ek spring van klip tot klip, my hart. 
Die hart pomp swart
Die hart pomp smart
Die beste ding vir smart, my hart,
is hierdie swaar swart swaard, my hart. 
Sy punt is skerp, sy punt is spits
Dit sny, dit steek, dit kuur soos blits , 
die sweer, die seer, 
die weer probeer. 

So sien ek weer die spring, 
die sprong, die swiep van leer. 
Die sweep die klap, die pyn word meer, 
maar weer en weer kan ek nie keer.. 
Die brein het nou sy eie pad 
na hierdie dieper saak gevat.. 
My vingers tik, my voete spring 
van klip tot klip, ek word gedwing! 
Die een woord lei tot tweede een. 
Ek gly, ek val, ek skraap my skeen. 

En wat sou jy: die een wat ween, 
wou sê oor hierdie kruppel been? 
Sal ek ooit weer kan dans met een? 
Sal ek net val en weer versteen? 
So sien jy nou, my nommer een? 
Ons loop maar so..  so een vir een..  

Ook soms kan ek 
die agterste-na-voorste woorde trek. 
Die sin verkort, in plaas van rek. 
Ek lees iets in 'n selfgesprek, 
ek maak dan weer vir my 'n nuwe hek. 
Ek sny en kap, ek split en boor, 
ek spin die woorde oor en oor.
Ek maal dit fyn in my verstand
tot ek die regte klanke hoor. 
Ek sif dit uit, ek pak dit reg, 
totdat ek al die allerlaaste fyn fyn klei 
van daardie woordboustene uit kan kry. 

Ek meet en pas, ek spoeg en plak, 
tot ek dan weer die woorde kry, 
wat jy, (so dink ek) 
eerder sou wou weg laat bly. 

Ek sny, ek kap, ek timmer meer, 
tot heel my kop aanhou vibreer. 
Ek bou, ek werk, ek sweis weer vas, 
tot dit wat was weer waarheid pas. 

Hoe kom mens by die waarheid uit, 
as al die ander anders wil besluit? 
Jy grou, jy krap, jy soek 'n draad... 
'n los ou garingtjie, 'n noot, sy maat.. 
So volg die simfonie uit een, uit twee, uit drienootmaat. 

Al hierdie ingewikkelde, aangrypende melodië, 
is saamgestel uit ene, tweë, drieë, 
nie uit losstaande woorde, 
maar wel uit simbiotiese akkoorde. 

Soos 'n reis van duisend myl 
begin met net een tree, 
so werk die pad na die verborge binneweë.  
Jy moet net eers vir jouself kan sê: 
Aangename kennis! 
Voordat jy jouself kan ken, 
moet jy WEET dat jy kan wen. 
Die begin begin net met net een tree, 
en daarna gaan dit tree vir tree... 

4 comments:

  1. Dis moeilik om te beoordeel as jy net die woord onpartydig geskryf sien staan. As die leser die agtergrond of noem dit self milieu, van die digter ken of verstaan sal dit dalk beter begryp word. Daar is net 2 wysigings wat ek sou wou maak: strofe 4, vers: Wat van eers die traan en dan die poel? (Net 'n gedagtes.)Vers 10 ,strofe 5? Dalk die herhaling van "my hart'? Pla my so 'n bietjie. Die leser moet hierdie gedig herkou, 'n paar keer lees om die beste kan verteer en te verstaan. Moet net nie ophou skryf nie.

    ReplyDelete
  2. Verskoon die foute - impulsief en in gedagte! Dis strof 4 vers 5.

    ReplyDelete
  3. Die "herhaling" is eintlik bedoel as 'n aanspreekvorm, soos "my lief" ;-)
    So dit is eintlik 'n gesprek, 'n verduideliking van spesifieke optrede en gevoel... (Of so het ek gedink toe ek dit geskryf het.)

    ReplyDelete
  4. Toe ek dit geskryf het, het ek die gevoel van 'n Bolero gekry. Begin stadig.... Dan sistematies vinniger en vinniger.. Dan weer stadiger na die einde toe. Soos 'n dans, so moet dit vloei.

    ReplyDelete