Monday 21 May 2012

21 12 20 11 .. Meer Pretensieus


Ek wou vir jou.. 
'n treffende, dalk grootse gedig dig, 
vir Kersfees of vir Nuwe Jaar.... 
Of dalk vir as jy weer verjaar, 
maar net betyds het ek onthou, 
jy hou mos deserdae jou by jou selfopgelegde streng dieet 
wat mans en hul besoedelende, 
soms aanloklike idees 
en of gewoontes aan betref.  
Want gif is gif en slang bly slang.. 
Hoe kon ek dink dat jy  selfs na geselskap kan verlang? 
Al wat deeserdae baat vir jou, 
is jou kamera en jou howe! 
Al die ander goed (en beter, beste) 
gaan mos jou verstand te bowe...

So hier is iets wat wel iets is, 
nie soos die Nuwejaar wat kamma is:
Middernag vannag 
(en dis nie vir 'n dromer) 
is dit die middelpunt van somer!
Nie sommer so 'n dag dus nie, 
'n regte einde en begin, 
'n nuwe siklus, meetbaar in 
die tydperk van volledige omwenteling 
van ons planeet se wenteling 
om ons geel ster,
ons eie waterstofbomsonneblomson. 

Geniet dit dus, 
geniet die rus, 
geniet die jaar se weer begin, 
ek hoop jy is gesond, 
hoop jy loop daar bietjie rond, 
kry tyd om nog 'n paar 
besonderse beelde in miljoene pixels vas te lê. 
Ek hoop dat die gediggie nie 
(soos die skrywersmotiveringsbron) 
die muse se verstand 
wat dalk kan lê op witte strand 
of reis in verre land, 
te bowe gaan.

No comments:

Post a Comment