Tuesday, 29 May 2012

Ek sien wat jy sê


Ek sien wat jy doen..
Wat jy woordeloos sê:
Die fotos  vertel dit soos jy dit wil hê:
Die stories wat jy NIE wil,
of kan verwoord.
Jy sê dit met beelde, 
jy dink jy kan dit 
wat binnekant sit,
sò in die venster vertoon, 
sodat  dìt wat gesien word, 
nie die geheime verklap 
van wat werklik 
in die binnekamers 
van jou hart bly woon. 


Ek wys nie die prente 
wat in my brein opbou, 
aan jou en ander nie.  
Want...
Dit mag dalk net 
my Achillieshiel aan 'n swaard ontbloot. 
Dus... 
skryf ek 
metafore en rympies 
om my gedagtespore te versteek.. 


Ek spring van klip tot klip 
om my pad te verdoesel. 
My ware doel en rigting 
word keer op keer gekamoefleer. 
Tog doen ek dit so, 
sodat ek weet.... 
Of dalk net vermoed, 
dat jy nie sal verdwaal, 
ek nie sal verdwyn. 
Die enigste pad na buite
is nie die maklikste een, 
nee, dis meestal die een van pyn. 


Kom of gaan, 
ons paaie moet kruis, 
selfs al sit een van ons 
langs die stroom van die tyd 
en wag dat die lewenswater 
moet afloop, 'n jaar, 'n uur, 'n week?
die vloed moet verdwyn, 
die klippe verskyn,
so word die drif 
dan droogvoets oorgesteek. 
Sal dit jou toelaat om als wat jy dink 
agter die dubbel gordyn 
van jou kulkunstenaarskas 
te versteek? 


Jou woorde verraai jou binneste siel... 
te kwesbaar, besluit jy...
sal  dit eerder onder die maatemmer 
van die kamerabeeld wegsteek. 
So kan jy... 
die feite en fiksie 
aan ander se oordeel oorlaat.  
Vasgevang in die oomblik van hul selfgeskepte realiteit, wat hul verlei
in die doolhof van die geheue se warboel. 
Jou eie binneste gekamoefleer,  
oorbelig, verdof, ontfokus, verdoesel,
in die oopte van 'n ander se gedagte en gevoel.... 

Sunday, 27 May 2012

1000 Views ...

Wow! 


Ek het nie gedink dit sou so vêr gaan nie, maar dit is nogtans 'n mylpaal! 
Dit is jammer dat nie een van die mense wat die moeite gedoen het om op die blog van my rond te snuffel, die moeite gedoen het om kommentaar te lewer nie...
Dalk is meeste van die "hits" per ongeluk, dalk lees meeste mense nie wat hier staan nie, blaai net weg as hulle agterkom dit is nie wat hulle na op soek was nie. 


Ek hoop tog dat daar hier en daar iemand was wat geniet het wat hulle gelees het. Iets anders gedink het, al het hulle nie iets in die kommentaarblok geskryf nie.


Baie dankie aan almal wat die moeite gedoen het om wel van my snert te lees! Indien julle dit geniet (of sterk daarmee verskil) skryf gerus kommentaar. Dit kan selfs annoniem gedoen word.


Ek hoop dat die volgende 1000 besoeke aan Duwweltjies en Dorings gedoen sal word deur mense wat wel graag die gedagtes wat ek hier vaslê wil lees.
:-)

Tuesday, 22 May 2012

Die reis na binne


Woorde dis/sek/teer die denke...
Die muse sê dat woorde: 
"onvolmaakte meganismes" is
om denke mee korrek te merk,
maar watse ander opsies het ek dan, 
om mee die siel te onderspan ?

Die skalpel sny net deur die spier. 
Die denke split die redenasie hier. 
Om by die doel van die gesegde uit te kom, 
moet jy 'n baie spits wig bekom. 
Jy moet as't ware soos 'n beiteltjie (van Van Wyk Louw), 
die rots kan breek, om hou vir hou, 
die weggesteekte waarheid uit te grou. 

Om dit te doen, sal jy my ou, 
moet slyp en slyp aan hierdie klou van jou! 
Jy sal moet vlymskerp wees as jy 
agter die kap van hierdie blink byl wil kom!

Die atoom se split kom wel vanuit 
die diepste binneste  bousteenkerne. 
Die absolute swaarste, 
ongebalanseerde ene, 
wil vanuit sy elektron vel bars en twee word, 
dalk nog meer word..

So dink ek ook is woorde wat die siel omring soos pantserpak. 
Soms swaar gelaai met goud, soms nie. 
So: mens moet eers die erts kan breek 
voor waarde tog sy kop uitsteek. 
Vir diamant en diatoom, 
geen raakpunt, dink jy, nè, my oom?

Tog moet die wortel van die woord 
jou wel vertel waar elkeen hoort. 
En as jy dan nog verder delf, 
Vind jy wel die ander helf. 
Die een wat sê hoe't als begin,
hoe als by alles hoort, hoe maak dit sin. 

Ek spring van klip tot klip sien jy, 
maar af en toe dan spat daar bietjie vog op my. 
Die water maak my voete nat, 
maar as ek aan my oë vat, 
dan kry ek soms ook daai gevoel.. 

Dis snaaks, die water wat van binne kom, 
my oë smeer, word meer en meer. 
Dit maak 'n poel. 
Dit maak 'n traan. 
Dit val van oog na wang, 
tot waar ek staan. 

Die water wat van buite kom, 
maak soms tog ook  die oë nat, 
maar nooit maak dit sò in die hart. 

Die hart pomp bloed, maar ook veel meer.. 
dit pomp ook somtyds iets heel swart. 
Ek hoor hul noem dit smart, my hart, 
maar díe verstaan ek, kan mens keer. 

Ek spring van klip tot klip, my hart. 
Die hart pomp swart
Die hart pomp smart
Die beste ding vir smart, my hart,
is hierdie swaar swart swaard, my hart. 
Sy punt is skerp, sy punt is spits
Dit sny, dit steek, dit kuur soos blits , 
die sweer, die seer, 
die weer probeer. 

So sien ek weer die spring, 
die sprong, die swiep van leer. 
Die sweep die klap, die pyn word meer, 
maar weer en weer kan ek nie keer.. 
Die brein het nou sy eie pad 
na hierdie dieper saak gevat.. 
My vingers tik, my voete spring 
van klip tot klip, ek word gedwing! 
Die een woord lei tot tweede een. 
Ek gly, ek val, ek skraap my skeen. 

En wat sou jy: die een wat ween, 
wou sê oor hierdie kruppel been? 
Sal ek ooit weer kan dans met een? 
Sal ek net val en weer versteen? 
So sien jy nou, my nommer een? 
Ons loop maar so..  so een vir een..  

Ook soms kan ek 
die agterste-na-voorste woorde trek. 
Die sin verkort, in plaas van rek. 
Ek lees iets in 'n selfgesprek, 
ek maak dan weer vir my 'n nuwe hek. 
Ek sny en kap, ek split en boor, 
ek spin die woorde oor en oor.
Ek maal dit fyn in my verstand
tot ek die regte klanke hoor. 
Ek sif dit uit, ek pak dit reg, 
totdat ek al die allerlaaste fyn fyn klei 
van daardie woordboustene uit kan kry. 

Ek meet en pas, ek spoeg en plak, 
tot ek dan weer die woorde kry, 
wat jy, (so dink ek) 
eerder sou wou weg laat bly. 

Ek sny, ek kap, ek timmer meer, 
tot heel my kop aanhou vibreer. 
Ek bou, ek werk, ek sweis weer vas, 
tot dit wat was weer waarheid pas. 

Hoe kom mens by die waarheid uit, 
as al die ander anders wil besluit? 
Jy grou, jy krap, jy soek 'n draad... 
'n los ou garingtjie, 'n noot, sy maat.. 
So volg die simfonie uit een, uit twee, uit drienootmaat. 

Al hierdie ingewikkelde, aangrypende melodië, 
is saamgestel uit ene, tweë, drieë, 
nie uit losstaande woorde, 
maar wel uit simbiotiese akkoorde. 

Soos 'n reis van duisend myl 
begin met net een tree, 
so werk die pad na die verborge binneweë.  
Jy moet net eers vir jouself kan sê: 
Aangename kennis! 
Voordat jy jouself kan ken, 
moet jy WEET dat jy kan wen. 
Die begin begin net met net een tree, 
en daarna gaan dit tree vir tree... 

Monday, 21 May 2012

21 12 20 11 .. Meer Pretensieus


Ek wou vir jou.. 
'n treffende, dalk grootse gedig dig, 
vir Kersfees of vir Nuwe Jaar.... 
Of dalk vir as jy weer verjaar, 
maar net betyds het ek onthou, 
jy hou mos deserdae jou by jou selfopgelegde streng dieet 
wat mans en hul besoedelende, 
soms aanloklike idees 
en of gewoontes aan betref.  
Want gif is gif en slang bly slang.. 
Hoe kon ek dink dat jy  selfs na geselskap kan verlang? 
Al wat deeserdae baat vir jou, 
is jou kamera en jou howe! 
Al die ander goed (en beter, beste) 
gaan mos jou verstand te bowe...

So hier is iets wat wel iets is, 
nie soos die Nuwejaar wat kamma is:
Middernag vannag 
(en dis nie vir 'n dromer) 
is dit die middelpunt van somer!
Nie sommer so 'n dag dus nie, 
'n regte einde en begin, 
'n nuwe siklus, meetbaar in 
die tydperk van volledige omwenteling 
van ons planeet se wenteling 
om ons geel ster,
ons eie waterstofbomsonneblomson. 

Geniet dit dus, 
geniet die rus, 
geniet die jaar se weer begin, 
ek hoop jy is gesond, 
hoop jy loop daar bietjie rond, 
kry tyd om nog 'n paar 
besonderse beelde in miljoene pixels vas te lê. 
Ek hoop dat die gediggie nie 
(soos die skrywersmotiveringsbron) 
die muse se verstand 
wat dalk kan lê op witte strand 
of reis in verre land, 
te bowe gaan.

Monday, 7 May 2012

Tonight I need a friend


Soms, soos vanaand, voel ek asof die lewe my onnodig druk.. Maar dit is, as ek rasioneel daaroor dink, 'n geval van kla met 'n witbrood onder die arm! Nogtans verander dit niks aan die gevoel binne in my nie. Ek wil meer hê, meer wen, meer gesels, soms meer stilte hê, meer seks, meer vriendskap, meer diepte, meer sukses....
En tog... Is ek bo meeste mense geseënd!! Hoekom smag ek na nog? Is ek ondankbaar?
Of wil almal maar net altyd meer hê? Soms het ek net 'n goeie vriend nodig om weer perspektief te gee..... Maar vanaand wil ek eintlik saam met Kris Kristofferson sê: Let the devil take tomorrow, cause tonight I need a friend!!

Life


You have to live your own life..
Not fuck your neighbour's wife!
You can't enjoy constant strife..
Nor ignore the blood on the knife!


Life needs to be lived,
Otherwise it's just existence.


Without input from the participant,
he is but a spectator..
We revert to a race of spectators:
Too uninvolved to even pursue our own happiness!


Be your own being,
fight your own fights,
pursue your own dreams.
(Don't follow the sportstars' dreams.)


Go walk at night on a winding path, 
lit by the stars, the moon, your dreams...
Talk to the trees, (if you must!)


Turn your dreams into facts: 
You must! 


Go speak to the Sphinx, 
trust your knowledge of the facts..
Or else! 


The answers lie inside yourself,
so go and dig... 
You will find it!


Take the first step, 
make the first move, 
keep on moving... 
for if movement cease, 
so does life, 
or love, 
or progress... 


It is good to think, 
to plan, 
to plot,
but no use to plan and not,
do the things we planned...
For that, my friend, is not,
what living is about!

Wednesday, 2 May 2012

Boodskappers


In die weste het ek hulle gesien,
die boodskappers van wat kom.
Dit was donker nag, selfs die sterre was dof
Elke af en toe het hulle agter die gordyn uitgeloer
Soos Noorderligte... net nie in die Noorde nie, maar Weste
en ook nie gekleurd nie, net wit, of witterig dan,
dit was te flou en blitsig verby om werklik 'n kleur te onderskei.
Eintlik was dit seker net die effek van hulle
wat ek op die onsigbare wolkgordyn gesien het,
hulle was nog te vêr om self gesien te kan word...
Vir my was dit egter duidelik:
Hulle en hul maatjies was op pad,
die keer sou ons nie ontsnap nie.....
So het ek gehoop!
(En die hoop beskaam mos nie!)
Môre oggend sou ons omring wees deur hulle:
Die weerligte met hulle maatjies die reëndruppels!