Wednesday 15 May 2013

Vol-wasse? (Lewens-kommentaar in 'n amper-gedig)


Ek wonder soms:
of almal met die intrap
in die grootmens-wêreld
so gebrand/geskok word
dat hul die vreugde van kindwees
skoon verloor..
Die melancholie neem oor
waar die sorgelose lag was,
die hartseer waar die glimlag was,
die norsheid lê nou daar,
waar die speelsheid eens so vlak geleë was.

Ek weet by diere's dit 'n normale proses,
die speel raak weg,
die erns neem oor:
Hormone laat hulle baklei om te paar,
kompeteer net mekaar,
areas afbaken vir kos,
vir rondloop,
vir maatsoek..
Die trop raak belangrik,
die maats raak net nog
vreters en opponente.

Is dit noodsaaklik dat ons
as mense ook so word?
Die "suksesvolles" doen dit
met oorgawe..

Ja, maar sien jy geluk in hul oë?
'n sprankie genot,
selfs deur al die prestasies en geld?
Gedoem tot geweld,
tot trap en klim;
as jy bo is, is jy oud,
nie juis noodwendig slim nie,
nie noodwendig wys nie,
net oud,
alleen,
eensaam,
op-baklei..
Vir WAT?

Monday 13 May 2013

XX (Soos in genetika)


Duisend vlinders fladder oor jou vel,
skalkse glimlag in jou oë,
lippe rooi,
hemels mooi teen spierwit gebit,
maar agter dit,

skuil 'n tong uit die hel!

Sleutel vir die slot.


Woorde in die wind geuiter
jou binnekamer bly gesluit.
Sleutels in vergete laaie
ontsluit per ongeluk geluk
soos nommers van 'n kodeslot.

Jakkalsroep


Winterwestewind
waai herfsblare deurmekaar,
huilend om die hoek.
Sononder roep-soek ek
en jakkals die verdwaalde maat.

Smarag


Daars 'n paar goed wat my erg bekoor.
'n glimlag soos wat nèt jy het,
oë soos smarag in goud geset,
die klank van jou stem, sag in my oor,
dis die dinge wat die dier in my aanspoor.

Simson en Delilla


Simson was 'n rigter,
Delilla was 'n digter
(es)
Sy was bietjie kort aan inspirasie,
toe kry sy vir ou Simson op 'n stasie.
Vleg sy hare in 'n spinwiel,
roep die Filisynse milisie:
wat 'n goeie fight was dit nie!

Die inspirasie moes gedaal het
saam met die korasie,
want kort voor lank was sy al weer
op 'n ander missie..
Hierdie keer moes Sim sy hare skeer,
die arme ou het net sy asem t'ruggekry,
toe's dit al weer 'n keer die Filistyne!

Of Delilla haar verraad geniet het,
sal ek nie kan sê nie,
maar ek het 'n sterk vermoede,
al is dit nie so feit'lik nie:

Sy mis vir Simson en sy roede..