Tuesday 16 April 2013

Klasie kani-slapie


Klaasvakie vat my weg! 
Vat my weg na die Limbo land. 
Vat my hand en lei my deur 
die grys vallei.. 
Lei my na die skaduland, 
anderkant die spieëltjie-deur. 

Vat my deur die waterpoel 
van diep en donker denke, 
die rustige poel 
van helende louwarm wegraak 
in die grys van Limboland. 

Vat my deur die deur 
van half-onthou 
en half-ontdek. 
Vat my na die anderkant,
na daardie onmisbare, 
ondefinieërbare plek.. 

Die plek om 'n bietjie te droom, 
daar waar ek 'n ding of twee 
in my gedagtes kan formuleer... 

Daar in die limbo-land 
tussen slaap en wakker. 

Waar drome met woorde dans, 
die denke los rondloop, 
in die bondel vry 
en die vrugbare aarde 
met nuwe idees bestuif. 

Vrye gedagtes, 
ongebonde deur reëls 
van die fisiese bestaan, 
reële feite en vooroordele. 

Miskien, 
net miskien, 
kom daar 
'n sinvolle poging na vore, 
word 'n vrugbare idee gebore
uit die skemerdans van gedagtes 
met die geleentheid van geleerdheid. 

Die kombinasie van behoefte 
en geleentheid kan miskien 
in 'n virtueele kombinasie ontaard... 

Laat my in die diep droompoel induik, 
die korale van my brein deursoek, 
die gekleurde vissies 
van my verbeelding ontdek... 

Dalk is daar nog iets oor, 
iets wat nie net 
hormoongedrewe is nie, 
want keer op keer, 
moet ek myself keer 
om nie weer 
net in die groef te verval 
van die dwelm van verlang, 
van die drank van behoefte 
en drange te verdrink nie... 

Om nie die gedagte-ekstase 
van warm vel op te roep, 
in te snuif 
en in my herinneringe te versmoor nie.... 

Klaas Vakie vat my weg!

No comments:

Post a Comment