Ek staan en staar soos 'n gevangene,
peinsend agter glas.
Ek dog ek sien jou staan,
buitekant die skerp lig van beskawing,
jou voete in 'n plas.
Die reën het sopas opgehou,
jy staar terug na my,
in die bleek lig van die maan,
lyk jou oë amper grou..
Nou staan jy nader,
anderkant die glas,
net effens uit my reik.
Ek sien jou ligweg dans
tussen bome op die gras.
Jy't jou lang wit somerrokkie aan,
die een wat jy gedra het, destyds,
toe ons nog saam gedraai het
en gewip het op die varsitydansbaan.
Jy wals nou deur die tuin,
jy sweef moeiteloos oor rose,
oor lelies en jasmyn..
Ek kan jou byna aanraak,
ek kan jou liggaam voel,
ek onthou nou nog jou asem,
teen my nek, so koel,
so amper of die dansspoed
jou nooit kon moeg laat voel.
Ek's seker dit is jy,
dit lyk kompleet soos jy..
Ek moet net bietjie nader staan,
ek weet sodra ek aan jou raak,
sal ek verseker weet,
ek's seker dat dit so sal wees;
ek weet ook dan's ek vry...