Het Raka tog 'n hart?
Het hy dalk 'n brein?
'N bietjie bewussyn agter die swart gordyn?
Waar het hy geskuil toe die modder en slyk
Verander het in wit?
Die water ge-ys
Die modder versteen
Die slyk verdwyn?
Het hy, toe die maan
Agter die swart gordyn verdwyn,
Gewonder, gesien, gedink
Verwonder deur die lig van miljoene sonne
wat skielik uit die donker hemelruim verskyn?
Belig deur die donker,
Die swart gordyn,
Van die aarde se skadu
Op die doek van die maan.
Die detail van sterre nie meer verdonker
deur die lig van die son
deur die maandoekspieël weerkaats?
Die ys van die winter,
Die lig van die maan
Die sneeu op die landskap
Die ysige wit weerkaatsing van koue
deur die vlak waters van die melkweg,
waar al die helder sonne se lig,
getemper deur die resiprook van miljoene ligjare kwadraat,
verdof word deur die silwer weerkaatsing in die flaterspieël
van hierdie planeet se satteliet.
Die oorbeligting doof die detail uit.
Soos 'n vlam die wit was van die kers
verander in 'n blink amorfe poel...
Onsigbaar,
om te weet moet jy voel...
Was dit nie vir die stolling van die was
op die vinger van die mens, (of gees)
sou dit 'n raaisel wees.
Wat is waarheid,
wat is waan,
wat is fisies,
wat is gees?
Sou die dier, die Raka,
in ons almal wees?
Dink ons almal ons is beter,
net totdat die swart gordyn,
die dieper son in ons siel ontbloot?
Dan is ons..
Dier?
Die drange al wat is,
wat was, wat nog wil wees..
Vergete al die wonders van die gees,
Die groot ambisie,
al die planne,
al die strewe na die goeie.
Al wat oorbly is die bloed,
die drang,
die drif...
Voor dit nie bevrediging verkry,
sal geen ander denke jou bevry!
So waar is Raka,
waar die dier?
As al die ander na jou tuur?
Wat wil jy hê?
Wat wil jy nie?
Wat's jou begeerte,
Wat is jou skans?
Wat word versteek daar agter daardie masker-muur?