Thursday 28 February 2013

Hotel California : According to me


Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende






Hoe kon ek dink dat ek,
die aardsgebonde gek,
'n kans sou staan om in jou guns te bly,
as ek die hele tyd
na jou moet opkyk,
terwyl jy,
my afgod bly?

Ek hoor die ander roep na jou,
verlate, soekend, tevergeefs...
Dwalend sonder rigting,
hulle't uit jou glas gedrink:
jou soete wyn
was weereens goed verdun met pyn.

Loop hul in die gange van
jou Hotel California,
roepend, soekend na jou area,
jy,
horend doof,
die eggo stil,
hul oë uitgesteek...

Was dit dan nie tog maar hul verdiende loon,
die een van elke spikkelboon?
of het hul net toevallig
in jou glimlag vasgeloop?

Hoekom sou ek dink dat ek,
enigsins iets anders as
net nog 'n interlude was?
Elke gedagte word 'n waagstuk,
elke woord 'n strik.
Die sprong van klip tot klip gevaarlik,
op 'n misstap volg probleme onvermydelik:
Die mooi gepakte klippe is verleidelik..
Pasop!...Die lawa tussenin is dodelik!

My woorde vloei uit my gemoed,
maar dis als verspilde bloed,
ek moet dit alles sensor...
alles vries, verpak,
wegbêre in 'n rak.
Ek is verplig om tot sovêr
my ware denke te weerlê.

En tog...
Ek weet,
ek voel dit aan,
die rede:
ek verstaan.
Die rede wat hier geld vir jou,
geld wel ook nou vir my, vir nou:
die hier en nou van my en jou...
Is..
Die pole van oneindig-sterk magnete,
ons moet altoos baie seker maak
dat ons regte kante na mekaar toe wys:
gelyke pole;
sterk afstotend'krag:
 

Draai ons in perfek-sinchrone wals,
so-nie sal ons 

(met 'n plof!)
mekaar vernietig 

met die by-mekaar-kom-slag..

No comments:

Post a Comment