Thursday 28 February 2013

Wie kom met die sekelmaan?



'n Sekel uit die bronstydperk
sweef glansend oor die oosterkim.
Oestyd vir die laaste van die oorryp-wintergraan?
Of dalk die sens van vader tyd?
Die swartgeklede een,
sy mantel verberg die doods-skedelbeen...

Die sekelmaan verhelder silhoëtte van
olienhoutboom en besembos
in rantjies van die valskaroo,

Twedehandse lig weerkaats,
(soos die wat rokende binnevet-lampe los),
op slym en modderwater,
in die kuile van die vlei
en die laaste bietjie vog
in die vlakte van die modderdam,
waar vir oulaas vanmiddag
die flamink-swerm,
hul tasse gepak het
en weswaarts vertrek het..

Geen windjie,
om die koelte van die nanag
oor die vlaktes te versprei,
so:
mense lê in slapelose poele sweet,
selfs die behoefte aan seks vergeet..
hitte van kontak ondraaglik,
al's ekstase daarin weggesteek..

Hotel California : According to me


Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende






Hoe kon ek dink dat ek,
die aardsgebonde gek,
'n kans sou staan om in jou guns te bly,
as ek die hele tyd
na jou moet opkyk,
terwyl jy,
my afgod bly?

Ek hoor die ander roep na jou,
verlate, soekend, tevergeefs...
Dwalend sonder rigting,
hulle't uit jou glas gedrink:
jou soete wyn
was weereens goed verdun met pyn.

Loop hul in die gange van
jou Hotel California,
roepend, soekend na jou area,
jy,
horend doof,
die eggo stil,
hul oë uitgesteek...

Was dit dan nie tog maar hul verdiende loon,
die een van elke spikkelboon?
of het hul net toevallig
in jou glimlag vasgeloop?

Hoekom sou ek dink dat ek,
enigsins iets anders as
net nog 'n interlude was?
Elke gedagte word 'n waagstuk,
elke woord 'n strik.
Die sprong van klip tot klip gevaarlik,
op 'n misstap volg probleme onvermydelik:
Die mooi gepakte klippe is verleidelik..
Pasop!...Die lawa tussenin is dodelik!

My woorde vloei uit my gemoed,
maar dis als verspilde bloed,
ek moet dit alles sensor...
alles vries, verpak,
wegbêre in 'n rak.
Ek is verplig om tot sovêr
my ware denke te weerlê.

En tog...
Ek weet,
ek voel dit aan,
die rede:
ek verstaan.
Die rede wat hier geld vir jou,
geld wel ook nou vir my, vir nou:
die hier en nou van my en jou...
Is..
Die pole van oneindig-sterk magnete,
ons moet altoos baie seker maak
dat ons regte kante na mekaar toe wys:
gelyke pole;
sterk afstotend'krag:
 

Draai ons in perfek-sinchrone wals,
so-nie sal ons 

(met 'n plof!)
mekaar vernietig 

met die by-mekaar-kom-slag..

ADD


Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ek wonder wat ek sou kon doen,
as ek my net met die stilte kon versoen,
wat ek alles sou vermag
as ek heel my krag, al my mag,
kon fokus op 'n enkle ding..
een ding op 'n slag,
nie tien goed tergelykertyd
en dan dalk nog 'n ding
wat toevallig my by verby mag kom...

Toe ek op my studies moes kon konsentreer,
kom trek die meisies mos my aandag af,
op die meisie moes ek toe mos konsentreer,
maar toe vang die wyn my konsentrasie mos so effens vas.
 
*****

As ek net vir 'n jaar kon leer
om tog net vir 'n enkel keer,
op iets heel SINVOL te kan bly konsentreer...

Kokerboomkwas

Uit die donker verf die kokerboomkwas
      die wolke met 'n helder rooi en geel:
   
      Vroeg-aand stilte met 'n goue tafereel.



***************************************

Of:

'n Bietjie langer uit 'n ander hoek:




Soos die grypende doring-vinger hande
van Antjie Somers na 
niksvermoedend' siele reik,
pyl daar uit die onheilspellend donker 
horison van uitgedorde aarde,
die swart silhoeët van 'n kokerboomkwas.
 
As skeppings-instrument skilder dit surreël
die wolke met 'n helder rooi en geel:
 
Vroeg-aand stilte met 'n goue tafereel.